Kom hou jou ram- of henneparty hiér

Foto: Toa Heftiba (Unsplash)

Om strooimeisie of strooijonker te wees het baie voordele, maar die lekkerste deel is waarskynlik om die henne- of rampartytjie te reël. LekkeSlaap weet om só ’n gedoente te reël kan soms senutergend wees en daarom deel ons graag ’n lysie plekke waar die hane of die henne bymekaar kan kom om heeldag en -nag te kekkel en kraai!

Kleinkaap Boutique Hotel, Centurion

Kleinkaap Boutique Hotel (Foto: LekkeSlaap)

Kleinkaap Boutique Hotel is ideaal vir dié wat nie seker is waar om met die reël van ’n ram- of henneparty te begin nie. Hiér kry jy alles wat vir ’n partyjie-wenresep benodig word ─ van ’n mooi ligging en ’n lokaal waar julle na hartelus kan feesvier, tot ’n hele span organiseerders wie se hande vir niks verkeerd staan nie. Die 34 luukse kamers, swembad, wynproe en die restaurant sal julle heel naweek besighou ─ dit was nog nooit so maklik nie!

The Outpost Dullstroom, Dullstroom

The Outpost Dullstroom (Foto: LekkeSlaap)

Klink ’n drankie op die water na die ideale naweek? Dalk is die bruid of bruidegom ’n ywerige gholfspeler? Dan is dié hartlike selfsorg-gasteplaas in die luisterryke Dullstroom met twee groot damme met jettys nét die plek. Dis 15 kilometer vanaf die Highland Gholflandgoed en julle kan selfs wildkyk ─ blesbokke, elande, springbokke en volstruise is hiér te sien. Die Sara-eenhede is veral ideaal en daar is ’n lapa, buitebraai en pool-tafel om die partytjie aan die gang te hou.

Celtis House, Centurion

Celtis House (Foto: LekkeSlaap)

Celtis House is perfek vir die sjiek en stylvolle bruid of bruidegom. Dié huis kan as geheel bespreek word en het slaapplek vir 12 gaste. Die mengsel van minimalistiese en industriële argitektuur, houtmeubels en kunswerke deur Hodgkins en Angus Taylor sal elkeen by die partytjie soos ’n BBP laat voel. Maak gereed vir ’n warm kuier voor die kaggel en ’n nog warmer koppie koffie die volgende oggend, gemaak met die druk van ’n knoppie.

Casa Toscana Lodge, Pretoria

Casa Toscana Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Of jy en jou vriende mal is oor Suid-Afrikaanse vermaak, goeie kos of ’n aand in die dorp, is dié lodge, wat die bekende Blouhond-restaurant op die perseel het, die ideale plek. Dit is drie kilometer van verskeie besienswaardighede af, wat die Time Square Casino en die WNNR-konvensiesentrum insluit. Daar is 20 luukse kamers en ’n swembad waar julle kan ontspan. As die partytjie te laat aangehou het en jy effe moeg is, hoef jy nie eens jou kamer te verlaat nie ─ gebruik sommer die kamerdiens!

Hidden Grace, Parys

Hidden Grace (Foto: LekkeSlaap)

Fliek- of sportkyk, voor die kaggel inkruip, aan drankies by die kroeg teug, sonbaai en swem ─ dit klink mos heel aangenaam! Hidden Grace is geskik vir ’n rustiger partytjiegroep wat deur ’n vreedsame tuin wil wandel en die Vaalrivier wil verken. Bestel gerus ’n piekniekmandjie om langs die swembad of in die tuin te geniet. As dit ’n ontspanne en luilekker naweek is waarvan die bruid of bruidegom hou, sal dié plekkie so reg in julle kraal pas.

Pat Busch Mountain Reserve, Klaasvoogd West

Pat Busch Mountain Reserve (Foto: LekkeSlaap)

Pat Busch Mountain Reserve bied verskeie selfsorgverblyf-opsies tussen hoë berge aan die einde van ’n plaaspad. Die ongekunstelde banketsaal en lowergroen weivelde is die ideale venue vir ’n henne- of ramparty. Of jy nou ’n wynproeër of visserman is, hier is iets vir almal. Bedags kan julle die 4×4-roetes aandurf, die fauna en flora langs die staproetes verken of met die kano op die rivier vaar, en saans kan julle heelaand met ’n glasie wyn voor die kaggel ontspan en tjoppies oor die kole gooi.

Grootfontein Camping Villages, Citrusdal

Grootfontein Camping Villages (Foto: LekkeSlaap)

Wil jy sommer ’n hele dorpie vir die partytjie bespreek? By Grootfontein Camping Villages kan jy ’n hele “kampdorpie” aan die Olifantsrivieroewer bespreek. Groot Bedouin-tente, ’n dansvloer, ligte, spyseniering- en platejoggie-opsies is ook beskikbaar om die voete behoorlik te laat jeuk. As die beslommernis en logistiek van ’n kampnaweek soos te veel moeite klink, oorweeg dié kampplek waar alles gereed is ─ hier is selfs ’n hangmat! Jou groep sal nie een oomblik verveeld wees met al die doendinge wat hier aangebied word nie ─ van visvang en kanovaart, tot bergfietsry, wat sal sorg dat almal besig bly.

Nahakwe, Laeveld

Nahakwe (Foto: LekkeSlaap)

Verblyf by Nahakwe word gebied in 19 vrystaande chalets, wat beteken dat daar oorgenoeg slaapplek vir al die partytjiegangers is. Die plek is ideaal vir diegene wat ’n belangstelling in Nahakwe se plaaslike kultuur en kunsvlyt het. Die lapa by dié verblyf sorg vir ’n heerlike buitelug-partytjie. Die Krugerwildtuin is net twee uur se ry van Nahakwe af en die restaurant op die perseel bedien heerlike etes ─ minder moeite vir almal!

X Tribe Adventures, Hartbeespoort

X Tribe Adventures (Foto: LekkeSlaap)

Soos jy miskien reeds van die naam afgelei het, is X Tribe Adventures nie vir sissies nie. Nee, hiér gaan dit wild met kaalvoet-avonture wat op jou wag. Dié blyplek spesialiseer daarin om funksies en geleenthede vir maatskappye en privaat groepe te reël en bied sakpas-pretprogramme met verskillende doendinge. Vriende kan hier bymekaarkom vir ’n Bosveld-ervaring soos min en as die bruid of bruidegom ’n safari-droom het of ’n sterreliefhebber is, moet jy nie dié plek miskyk nie.

Morgenzon B&B, Durban

Morgenzon B&B (Foto: LekkeSlaap)

Dié B&B is ’n gunsteling-bestemming vir rampartye. Daar is slaapplek vir nege gaste en ’n naweek hier sal met rustige dae langs die swembad, in die Jacuzzi of in die braai-area gevul wees ─ om nie te praat van die heerlike baddens in die kamers nie! Daar is ’n rits restaurante naby die blyplek ingeval jy nie ’n braaimeester is nie.

Of jy ’n avonturier, smulpaap of kamper is, LekkeSlaap het die perfekte plekkie om ’n onvergeetlike ram- of henneparty te hou!

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Lisa Slippers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.