Kom kry vis-en-tjips aan die Kaap se kus

Kalkbaai (Foto: Wesley Nitsckie, Flickr)

“Snoek lekker ou – snoek
Kaap se snoek
Uit die Kaap se waters …” – Allen Brodell

Dis nie ’n Kaapse vakansie sonder ’n besoek aan ’n smullekker vis-en-tjips-restaurant nie! Só knus aan die kus lok dié Kaapse vis-en-tjips-winkels besoekers van heinde en verre om sout-van-die-aarde mense te kom ontmoet en aan hulle heerlike disse te kom smul. LekkeSlaap het al langs die kus gaan vis vir vyf van die lekkerste eetplekke waar die reuk van snoek, stokvis en tjips enige lekkerbek sal nader lok.

Kalkys in Kalkbaai

A post shared by Ice Pick (@brettbertshaw) on

As jy op soek is na ’n eg Kaapse hawe-atmosfeer, is ’n besoek aan Kalkys ’n móét! Plaaslike inwoners en toeriste kom almal bymekaar om gesellig langs Kalkbaai se hawe vis-en-tjips te geniet. Plaas jou bestelling by die vriendelike kelner agter die toonbank en onthou om jou eie bord, servet, mes en vurk te kry. Voor jy jou oë uitvee is die kelner by jou tafel met jou liplekker visgereg ─ gebotter en gebak!

Stokvis en tjips: R55
Ligging: Kalkbaai-hawe

Kalkbaai

Kalkbaai is onlangs as een van Forbes se “12 Coolest Neighbourhoods in the World” gekroon en enige iemand wat dié dorpie al besoek het, kan getuig dat dít waar is. Met hipermodieuse boetieks, tweedehandsewinkels, seefrontrestaurante en majestueuse berge mag hierdie kusdorpie beslis met sy nuwe titel spog. Vat sommer die trein vanaf Kaapstad tot in die hartjie van die eklektiese dorpie vir ‘n onvergeetlike dag

Luilekker lêplekke in Kalkbaai.

Snoekies in Houtbaai

Snoek word al sedert 1951 by Snoekies geniet en dié outentieke eetplek bedien steeds trots hulle tradisionele visgeregte aan plaaslike inwoners en vakansiegangers. As snoek nie jou gunstelingvis is nie hoef jy nie te bekommer nie, want hiér word daar sommer talle ander geurige visgeregte voorberei. Die restaurant spog met vars vis wat by Snoekies, op die hawe, of op Houtbaai se wit sandstrand geniet kan word. Hiér stap besoekers altyd met ’n glimlag en vetterige vingers weg!

Stokvis en tjips: R69,90
Ligging: Houtbaai-hawe

Houtbaai

Stadsjapies wat die stadsrumoer vir ’n rustiger atmosfeer wil verruil, ry graag seelangs na Houtbaai. Dié beskutte baai se hawe is nie net gewild onder toeriste nie, robbe baljaar graag in die water en poseer selfs vir foto’s as jy gelukkig is! Maak seker jy besoek die Houtbaai-mark oor ’n naweek ─ jy sal jou aan die verskeidenheid goedere en eetgoed vergaap, terwyl die lewendige musiek in die agtergrond jou vermaak.

Luilekker lêplekke in Houtbaai.

Ooskus Fisheries in Gordonsbaai

’n Groot gunsteling in Gordonsbaai is beslis Ooskus Fisheries! Hier word vars vis, gevriesde vis, gebakte wegneemetes, peuselhappies vir funksies en selfs aas vir die vissermanne verkoop! Die vriendelike diens en huislike atmosfeer by dié viswinkel laat plaaslike inwoners keer op keer terugkeer. Of jy nou by Ooskus Fisheries aanklop vir vars vis of wegneemetes, een ding is seker ─ dis topgehalte!

Stokvis en tjips: R81
Ligging: Wattstraat 4

Gordonsbaai

A post shared by Mia (@mia_kruger) on

Dié kusdorp spog met twee hawes, Harbour Island en Old Harbour. Harbour Island is ’n waterfrontontwikkeling met verskeie restaurante, ’n hotel, seiljaggeriewe en winkels, en die ou hawe is die seiljagklub en die vloot se tuiste. Vat laatmiddag die pad teen die berg op na Steenbras-pompstasie ─ die beste uitkykpunt oor Gordonsbaai en die hele Valsbaai ─ en hou die son dop soos dit stadig oor die see sak en die lug ’n mengsel van pienk en geel strepe verf.

Luilekker lêplekke in Gordonsbaai.

Lucky Fish and Chips in Seepunt

A post shared by Mr D Food (@mrdfood) on

Jy is werklik ’n “lucky fish” as jy al dié eetplek se fynproewers-etes beleef het. Lucky Fish and Chips is deel van die Harbour House-groep en het ’n baie streng beleid teen gevriesde vis. Met só ’n ligging na aan die see is dit beslis nie nodig om enige iets anders as gebakte, vars vis met ’n kraakvars botterlagie te bedien nie. Lucky Fish and Chips het ’n eenvoudige spyskaart wat gehalte aan ’n wenresep koppel. Maak gerus ook ’n draai by Lucky Fish en Chips in Muizenberg en Kalkbaai!

Stokvis en tjips:
R54
Ligging: Regentweg 71

Seepunt

Seepunt se strate is altyd bedrywig met ’n hele rits winkels, kafees, kuierplekke en restaurante.
Die bekende promenade is ideaal vir diegene wat lekker rustig al langs die see wil gaan stap, skaatsplankry, draf en fietsry. Maak die dag nog meer onvergeetlik en huur ’n fiets by Up Cycles, sodat jy die omgewing trap-trap met die seebriesie in jou hare kan verken. Saans kan jy aan ’n skemerkelkie teug by een van die gewilde kroeë langs die strand, maar maak seker jy doen dit nádat jy fietsgery het!

Luilekker lêplekke in Seepunt.

Fisherman’s in Kommetjie

Al sê die naam iets anders bied dié ontspanne eetplek nie nét vis nie. As jou mond water vir vis, maar jou vriende is vleis-liefhebbers, is Fisherman’s ideaal! Daar is oorgenoeg sitplek buite waar jy in die somer onder die melkhoutbome kan ontspan en in die winter in die sonnetjie kan bak terwyl jy na die lewendige musiek luister. Stil jou hongerpyne met smullekker vis-en-tjips, ’n pizza, ’n biefstuk of ’n hamburger ─ en as jy nie kan kies nie is die “surf-and-turf”-opsie nét vir jou!

Stokvis en tjips: R90
Ligging: Op die hoek van Somersetweg en die Hoofstraat

Kommetjie

Dié ongekunstelde dorpie lê tussen Slangkopberg en die Atlantiese oseaan. Ons stel voor jy stap op die plankpaadjie al langs die see af, vanaf Suid-Afrika se hoogste gietystervuurtoring, Slangkop-vuurtoring, tot by die kom waarna die dorpie vernoem is! Dié kom vorm ’n klein hawe vir bootjies en is een van die beste voëlkykbestemmings!

Luilekker lêplekke in Kommetjie.

Daar is ‘n hele rits vis-en-tjips-restaurante langs die Kaapse kus ─ laat weet gerus watter een jou gunsteling is!

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Cea Swart.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.