Kopenhagen, ’n aangename ervaring

kopenhagen

Foto: Anton Karatkevich/Unsplash.com

Die Deense hoofstad tel gereeld onder die topstede wat lewensgehalte betref. Die Dene het ’n eie term wat hul lekker ontspanne leefwyse beskryf, naamlik “hygge”, iets wat vertaal kan word as knus en gemoedelik.

Kopenhagen met sy voorstede is wel ’n stad met sowat ’n miljoen inwoners, maar is werklik aangenaam om in te wees. Min wolkekrabbers, deurpaaie of nywerheidsgebiede verontsier die stad. Die vars bries van die see sorg dat die lug skoon is en die eertydse handelshawe in die stad is lankal omskep in gewilde woon- en ontspanningsplekke met hoë lewensgehalte. Al wat teen Kopenhagen tel, is die noordelike weer (alhoewel dit tans somer is en die warmste weer in ’n lang tyd daarby!), en die hoë pryse vir bykans alles. ’n Bier of selfs koeldrank kos jou soveel soos ’n ete in ’n goeie restaurant in Suid-Afrika, en ’n woonstel daar kos soveel soos ’n luukse huis hier. Die belasting is ook van die hoogste in die wêreld. Soos orals, het elke voordeel sy prys.

Die stad het ’n magdom besienswaardighede. Almal dink eerste aan die standbeeld van die meermin, en hier kry jy ʼn samedromming van busse met veral Chinese besoekers – ’n klassieke toeristelokval. Almal moet dit sien en selfies neem omdat almal dit al iewers op die internet gesien het, al is dit eintlik ʼn onopvallende klein monument. Wel, daar is beslis meer indrukwekkende standbeelde of besienswaardighede sommer in die onmiddellike omgewing van die meermin, soos die ou kasteel (nogal vergelykbaar met die een in Kaapstad) of die Gefion-fontein wat ’n verhaal uit die Germaanse mitologie uitbeeld.

Hier is ook ’n magdom argitektoniese skatte en museums en die stadsatmosfeer werklik aangenaam: groot dele van die middestad is voetgangervriendelik en fietse is volop. Die see is altyd naby, met talle seiljagte of selfs egte driemas-seilskepe, lieflik om na te kyk. Nyhavn, die klein voormalige handelshawe in die stad, is nou ’n waterfront met baksteenstore uit die 18de eeu wat omskep is in restaurante, kroeë en hotelle en wat jou aan Amsterdam laat dink, maar minder oorweldig deur die massas.

Kopenhagen het ook sekere groot pleine soos die Kongens Nytorf met monumentale openbare geboue uit die laat 19de eeu wat ’n mens aan Parys laat dink met die teater, biblioteek en Franse ambassade.

Omdat Denemarke al vir baie eeue ’n koninkryk is, is hier ook verskeie paleise. Die huidige koningin, Margrethe II, regeer al sedert 1972. Amalienborg is die setel van die koningshuis en bestaan nie uit een gebou nie, maar uit 4 kleiner paleise rondom ’n ovale plein. Op die plein marsjeer die paleiswag met die hoë beervel-helmhoede soortgelyk aan die Britse paleiswag – ’n gewilde fotomotief.

Naby is die indrukwekkende Frederikkerk, ’n koepelkerk en amper ’n kleiner weergawe van die St. Pieterskerk in Rome en iets wat ’n mens nie sommer in die sober Denemarke verwag nie, soos ook die monumentale stadsaal met sy toring, in die tipiese rooibaksteenstyl gebou, en die groot plein voor wat daarvan getuig dat Kopenhagen eens ʼn hoofstad van ’n moondheid was.

Die politieke hart klop op die eiland waar die stad sy ontstaan gehad het en wat die Christiansborg-paleis bevat. Die een vleuel word nog deur die koningshuis gebruik vir onthale, die ander vleuel huisves die parlement. Nêrens is monargie en demokrasie geografies nader aan mekaar nie. Ook die hoogste regsprekende gesag en die kantoor van die eerste minister is in die gebou, sodat die hele trias politica (uitvoerende, wetgewende en regsprekende gesag asook die seremoniële staatshoof in die vorm van die koningin) in een gebou verenig is. Die huidige Christiansborg-paleis het min in gemeen met sy twee voorgangergeboue wat al twee afgebrand het en is in die neobarokstyl van 1907 tot 1937 gebou.

Denemarke het ’n lang geskiedenis van permissiwiteit en liberalisme, maar nogtans is dit hier georden en skoon en is daar ooglopend geen bedelaars of maatskaplike gevalle in die voetgangerstrate of op pleine te sien nie, anders as dikwels in groot stede. Of dit toe te skryf is aan ’n effektiewe polisiemag of ’n sterk welsynstaat, is vir die besoeker nie duidelik nie. Dalk iets van al twee. (In Denemarke leef dié soort mense/bedelaars saam in die hippievesting Christiania, ’n storie vir ’n ander dag).

Denemarke was lank ’n modelland vir linksgesindes, maar is sedert die vlugtelingkrisis meer regs. Die vervreemding van Islam het al vroeër begin met die aggressiewe reaksie op die Mohammed-karikature deur ʼn Deense spotprenttekenaar. Denemarke het toe al, ’n hele paar jaar voor die krisis van 2015, besef dat onbeheerde immigrasie uit veral arm Moslemlande, en die oop samelewing en welsynstaat, nie saam kan werk nie. Daarom is ook met die massa-instroming in 2015 konsekwent opgetree en die grense beheer. Die liberale Denemarke was skielik ’n soort noordelike Hongarye, tot irritasie van die linkse idealiste.

Mense uit die Derde Wêreld is minder opvallend as in ander Westerse stede, maar Denemarke is nie meer die homogene land wat dit eens was nie, en misdaad het van ’n baie lae vlak blykbaar voelbaar gestyg, maar is in vergelyking met Suid-Afrika nog steeds te gering om te noem.

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Reis, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

koos1 ·

Hier in SA betaal ons ook hemel hoë belastings, maar dit is anders verskans. Kom ek verduidelik. Ons betaal inkomste belasting en BTW. Nou kom BTW op bykans alle voor.
Van die ander belastings is brandstofheffings ens. Die geld gaan direk na ‘n wanfunksionale regering. Met die dat die regering ons faal moet die volgende ook nog betaal word, sekuriteit, pensioenfondse, medies en so kan ons maar aangaan. Ekonome het bereken dat ons tot 50% van ons inkomste aan belasting betaal.
Ons het bykans geen openbare vervoer nie, daarom moet ons nog karre ook koop.
As alles van dit in ag geneem word dink ek nie Denemarke se belastings is so hoog nie!

Reinhardt ·

Presies. As ek weet my belastinggelde word doeltreffend aangewend sal ek met liefde 50% van my salaris afstaan. Maar tans sit ons met relatiewe hoë belasting en geen merkbare verandering aan ons probleme nie.

Amelia ·

Ja, ons betaal op alles belasting. Tot op die erf wat jy gekoop het moet maandeliks belasting gehef word, en op ons inkomstes. Eintlik betaal ons 2 maal. Eers as ek die geld verdien en dan as ek die geld uitgee.

Celtis Africana ·

” Denemarke was lank n modelland vir linksgesindes maar is sedert die vlugtelingskrisis, meer regs.”
Dit is darem opmerklik hoe die harde werklikheid n liberale siening kan temper.

Bronnie ·

Ons bly nou so 7jaar in Kopenhagen, sal dit vir niks verruil nie, ons bly oop en vry, veilig en vriendelik!

Dalk ·

Kan jy dalk vir ons se wat doen die werkloses daar? Of is daar werklose en armder mense?

Liberaal ·

Ons liberale heersers probeer hulle bes om hierdie skandenawiese lande ook te verglobaal, dan kan hulle ook deel in misdaad en BEE tipe wetgewing.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.