Krugerhuis-museum: ʼn Verborge skat in Pretoria

Krugerhuis-museum in Pretoria (Foto: Janek Szymanowski via Wikimedia Commons)

Die Krugerhuis-museum. Dit kan waarskynlik as ʼn verborge skat van Pretoria beskou word. Hier vóél jy en sién jy geskiedenis.

Soos die stoep van die huis op die hoek van WF Nkomo (Kerkstraat) en Kgosi Mampuru (Potgieterstraat): Jy kan jou indink hoe die destydse ZAR-president Paul Kruger met sy gaste buite op die stoep kon kuier. Perdekarre en perde as destyds die gewildste vervoermiddel. Dink nou hoe oom Paul hom sou vererg het vir die al toetende taxi’s op soek na passasiers!

Maar terug na die huis. Gids Khomotjo Moyo vertel dat die meeste van die meubels en matte in die huis oorspronklik is, tot selfs die plafonne. Interessante feite wat sy opper, is dat die Krugerhuis een van die eerstes is wat in Pretoria geëlektrifiseer is. En dit het met die eerste telefoon gespog – Pretoria 1.

Vertrek ná vertrek lewer hul interessanthede. Daar was byvoorbeeld twee sitkamers – een vir mans en een vir vroue. In laasgenoemde kon oom Paul se vrou Gezina vroue en kinders trakteer. In oom Paul se sitkamer het groot name bymekaar gekom – Koos de la Rey, Louis Botha, Danie Theron en Christian de Wet.

Die sitkamer is wel soggens oopgestel vir oggenddiens. Daarna moes die vroue en kinders uit.

Foto: Ditsong Museums

Moyo wys ook ʼn seunskamer wat ná die Britse besetting van Pretoria deur die Britte as kraamsaal gebruik is. Die kombuis is redelik klein met ʼn yskas so groot soos ʼn peuter. Sy sê baie van die kookwerk is buite gedoen.

Dan is daar ʼn “doodskamer” waar oom Paul se lyk gelê het nadat hy in 1904 in Clarens in Switserland dood is. Sy begrafnis is in Desember 1904 gehou. Sy vrou Gezina is ook daar oorlede.

Dan is daar die ballingskapkamer waar oom Paul se reis in Clarens gevier word. Verskeie tydskrifte – Frans, Nederlands, Duits en Oostenryks – het hieroor berig. Die reis met die Gelderbloem het al langs Akrika se ooskus plaasgevind.

Van oom Paul se persoonlike besittings wat daar is, sluit in die geweer waarmee hy homself tydens ʼn skietongeluk beseer het en verskeie pype. Daar is ook ʼn kleiner weergawe van die huis waarin hy gebore is op Colesberg in die Noord-Kaap.

ʼn Woordvoerder van die Ditsong-museums betreur egter die gebrek aan belangstelling van binnelandse besoekers. In September het 50 plaaslike inwoners die museum besoek. Daarteenoor het meer as 1 000 buitelanders die huis besoek.

Volgens die woordvoerder is daar tans onderhandelinge aan die gang om meer parkeerplek te kry. Verlede maand het 20 Suid-Afrikaners die museum besoek. Dit is verdwerg deur die bykans 2 000 buitelandse besoekers.

Oom Paul se koets (Foto: Ditsong Museums)

Ander interessanthede is oom Paul se koets en ossewa en sy NZASM-treinwa. En wanneer jy daar instap, vóél jy die geskiedenis – so asof oom Paul jou dophou.

En Moyo wys van die naaldwerk uit wat destyds deur Voortrekkervroue gedoen is met ʼn sterk invloed van Duitsers. Sy sê juis dié styl het gewild geraak by Pedi-vroue wat streng by die styl hou.

Die museum is weeksdae oop van 08:30 – 16:30 en oor naweke en op vakansiedae van 09:00 – 16:30. Die museum is gesluit op Goeie Vrydag en Kersdag.

Toegangsfooie beloop soos volg:
Volwassenes (plaaslik): R45-00 pp
Volwassenes (internasionaal): R65-00 pp
Skoliere: R25-00 pp
Studente: R30-00 pp
Senior burgers: R30-00 pp
Begeleide toer (moet vooraf gereël word): R60-00 pp

Besoek die webwerf vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ella ·

Ek was daar voor my Engelse vriendin Australie toe verhuis het: op haar aandrang tot my skande. Dis regtg die moeite wrrd om te besoek. Ek was ook beindruk oor hoe mooi.die tuin agter die huis was. Voor die skole open in Januarie gaan ek my kleinkinders vat. Dis goed dat julle ons herinner van ons erfgoed. DANKIE

leon ·

Besoek ook gerus die Irene Kampkerkhof. Die tuine is pragtig met Afrikaner blommetjies in volle prag!

Loeis ·

Pragtig, maar wanneer is die foto geneem? Laas wat ek by die Krugerhuis verby gery het, het daar ‘n vuil en verslete nuwe landsvlak daar gehang. Wat natuurlik met niks met Paul Kruger of sy nalatenskap te doen het nie.

Pierre ·

Paul Kruger was nie in Colesberg gebore nie. Hy het op die plaas Buffelshoek of Buffelsfontein by Steynsburg in die Oos Kaap groot geword.

John ·

As die museum nie goed bewaak word nie, en mens twyfel of dit wel so is, gaan daar binnekort niks van oor wees nie… Ongelukkig is ‘n skrywe soos bogenoemde dikwels die doodskrif aan die muur vir enige waardevolle Afrikaner-kultuurskatte… want verkeerde mense lees dit ook…

Delize de Jager ·

Was laas voor 1994 baie by die museums in die stad, maar nou voel ek dis te onveilig. :-)

Meraai ·

Ek was nog nooit daar binne nie, maar het skuins oorkant die huis gewerk. Kon dit uit ons kantoor venster gesien het. Maar ek glo my voorgeslagte ouma het verseker daar gekuier. was die tante Gezina se niggie. So ek moet dalk maar ‘n besoek gaan afle.

Niki ·

Kan MM asb vir ons ‘n lys gee van al hierdie ‘vergete’ historiese plekke (museums) wat mens kan besoek?

Ek was eerlikwaar nie eers bewus gewees van dit nie, en sal defnitief nou met die vakansie my kinders saam vat soontoe.

CJ ·

Niki. Skakel gerus met die Erfenisstigting. Ons het onlangs ‘n Saterdagtoer saam met hulle gedoen na Fort Klapperkop en Fort Daspoort. Hulle beplan om op ‘n gereelde basis kort toere te doen na kultuurhistoriese besienswaardighede in Pretoria omgewing.

CJ ·

John. Dink jy regtig dit gaan help om ons kultuurerfenis te probeer wegsteek en niemand daarvan te vertel nie? Wie dink jy hou Krugerhuis in stand? Die staat! (Dit is deel van die Nasionala Kultuurhistoriesemuseum). Op die oog af word dit baie goed gedoen – ‘n besoek word ten sterkste aanbeveel. Baie van ons kultuurefenis word deur die staat (op al drie vlakke) in stand gehou (en ongelukkig, in sommige gevalle, verwaarloos). Hoeveel Afrikaners weet van en het al besoek afgele by Krugerhuis (Pretoria); Krugerhof (te Watervalonder, waar Kruger vir ‘n paar maande tydens die Tweede Vryheidsoorlog tuis was); Boekenhoutfontein (Kruger se huis naby Rustenburg) en selfs Krugerhuis te Clarence, Switserland)? Daar is ook ‘n Krugerhuis in Maputu, maar ek was nog nie self daar nie. Ek lees hier van persone wat nie van die bestaan van Krugerhuis, Pretoria, geweet het nie, maar nou dit graag wil besoek. Dit is waarna ons moet streef – om ons kultuurerfenis aan ons mense bekend te stel en in hulle harte te laat leef! Terloops, moenie vergeet van wat “Afrikaners” al aan ons eie erfenis gedoen het nie, byvoorbeeld Jannie Smuts wat die Wonderboom- en Daspoortforte tydens die Tweede Wereldoorlog opgeblaas het omdat hy bang was dat “regses” dit as basisse kon gebruik. MM, vertel ons van ons kultuurerfenis, dat ons daarvan kan weet en dit kan gaan besoek, asseblief!

CJ ·

Niki. Moet asseblief ook nie van ons vergete slagvelde vergeet nie. Vroeër vanjaar had ons doe voorreg om deur die Bothaspas slagveld te ry (Op die R34, tussen Newcastle en Memel). Daar is geen padteken wat aandui dat daar op 8 Junie 1900 ‘n groot veldslag daar plaasgevind het nie (Daar is wel iewers op privaatgrond ‘n klein gedenkteken). Met Pa wat bietjie opgelees het en kan vertel, ons kaarte en fotos, kyk ons waar die Britte met groot moeite hulle kanonne teen Vanwykskop opgesleep het; die vlakte met die Spitskoppie waaroor die Britte gestorm het en die Drakensberge waarop die Boere stelling geneem het. Daar het hulle vir ure lank die Britse artilleriebombardement getrotseer en eers teruggeval toe die Britte die kruin bereik het. ‘n Klompie kilometers verder (R542 tussen Volksrust en Vrede) staan ons en bibber in die koue nattigheid by die klein monument te Allemansnek. Weer is dit die Carolina- en Lydenbugkommando’s wat die Britse oormag trotseer (11 Junie 1900). Agter hulle rue is Pretoria reeds op 5 Junie 1900 deur die Britte verower. Tog veg hulle vir ‘n dag lank soos leeus om te verhoed dat Generaal Buller vanuit Natal na Transvaal toe kan deurbreek. Weer is dit die Britse artillerie wat die deurslag gee. Eers toe die Britte uteindelik met gevelde bajonette storm, begin die Boere hulle posisies verlaat. Ons lees die name op die monument van die Boerestryders wat hulle lewens afgelê het…. Mag ons nooit vergeet nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.