Kry jou Amerikaanse visum moeitevry

Die Statue of Liberty in Amerika (Foto: mrzai.com)

Die Statue of Liberty in Amerika (Foto: mrzai.com)

Mens mag dalk dink dis moeiliker om by Amerika ín te kom as by Fort Knox… dis egter nie altyd die geval nie.

Hoe mens ook al voel oor die Amerikaners, een ding kan mens van hulle sê: hulle is ongelooflik effektief en deeglik.

Net soos met ʼn Schengen-visum kan jou ervaring om ʼn Amerikaanse visum te kry egter baie meer pynloos wees as wat mens verwag. Solank jy jou huiswerk goed doen en jouself “sielkundig” voorberei.

Georganiseerd soos die Amerikaners is, word die hele proses baie duidelik uiteengesit op hulle webwerf https://ais.usvisa-info.com/en-za/niv/information/niv. Volg dus die aanwysings baie deeglik en jy gaan nie probleme hê nie.

Daar is egter ekstra dingetjies wat jou aansoek ʼn bietjie makliker gaan maak as mens dit vooraf weet.

Hier is my raad om ʼn Amerikaanse visum vinnig en moeiteloos te kry:

  • Moenie ʼn vliegtuigkaartjie koop voor jy jou afspraak maak nie. Vroeër jare moes mens verseker ʼn kaartjie gehad het, maar intussen het die reëls verander.
  • Goed begin is half gewin – vul die vorm aanlyn in op hulle webwerf by https://ceac.state.gov/CEAC/. Die lekker van die vorm is jy kan enige tyd die half ingevulde vorm stoor en later terugkom om dit klaar te maak indien jy nie alles op een slag kan doen nie.
  • Betaling vind plaas terwyl jy die vorm aanlyn invul, wat beteken jy hoef niks te betaal tydens die “onderhoud” nie. Maak seker om die korrekte betaalmetode te kies, d.w.s. vir EFT, anders neem dit ʼn wyle om te bevestig dat jy betaal het. Mens kan eers ʼn afspraak maak wanneer die betaling bevestig is.
  • Kies ʼn onderhoudtyd aanlyn op hulle webwerf. Mens kan nie opdaag sonder ʼn onderhoudtyd nie. “Onderhoud” klink baie professioneel, maar dit beteken eintlik net dat mens al jou dokumente ingee en hulle mens ʼn paar vrae vra, soos: Hoekom gaan jy Amerika besoek? Beplan jy om daar werk te soek?
    Wees gewaarsku dat die tyd wat jy kies vir jou onderhoud nié net vir jou is nie. Dit is net ʼn tydgleuf waarin jy moet kom… saam met 30 ander mense. Wees dus gereed om te wag.
  • Mens vat niks saam met jou wanneer jy by die konsulaat ingaan nie. Nie ʼn handsak, selfoon of enigiets anders nie. Indien jy nie sonder dit tot daar kan kom nie, kan mens dit ingee by die ingang waar mens dan ʼn nommer kry om dit weer terug te kry na die tyd.
  • As mens by die konsulaat aankom kan dit effens deurmekaar voel, want mens weet nie mooi hoe die stelsel werk nie. Val egter net in die ry wat reeds daar gevorm is… Ja, die dikwels lang ry is die een waarin jy moet gaan staan.
  • Die hele prosedure word baie duidelik en perfek uitgestippel op die webwerf en hulle doen dit presies so. Volg dit presies na en moenie die stelsel probeer verander nie. Maak dus seker jou dokumente is presies wat hulle vra en in die volgorde waarmee hulle dit vra op die webwerf.

Die lysie bestaan uit die volgende:

– Huidige paspoort wat vir ten minste 6 maande langer geldig is as die datum waarop jy beplan om Amerika te verlaat.
– Indien mens al ʼn Amerikaanse visum in ʼn vorige paspoort het, moet die paspoort ook saamgebring word.
– Bevestigingsbladsy van die visumaansoekvorm (vorm DS-160 vir vakansiegangers) met jou strepieskode.
– Die papier met die bevestiging van jou onderhouddatum en -tyd moet saam gewys word, anders laat hulle jou nie in nie.
– Een 5 x 5 cm kleurfoto geneem in die afgelope 6 maande.
– Indien mens as ʼn familie saam gaan, moet huwelikskontrakte en geboortesertifikate vir kinders saamgeneem word.

Ekstra dokumente wat jou saak makliker kan maak:

– Bewys van permanente aanstelling by die werk
– Die afgelope 3 maande se bankstate, gesertifiseer deur die bank, om te bewys jy sal jou toerkostes in Amerika kan dek.
– Jou reisplan.

Indien jy Amerika om enige ander rede as vakansie besoek, klik hier om te sien watter dokumente jy moet saamneem: https://ais.usvisa-info.com/en-za/niv/information/required_docs

  • Maak doodseker jou visumfoto is volgens die Amerikaanse spesifikasies. Neem eerder twee saam. Hulle is baie streng daarop en het al mense terug huis toe gestuur as hulle foto’s nie reg is nie. Daar is iemand wat in die ry afbeweeg om die foto’s te kontroleer, maar dis beter om dit wel reg te hê as om te moet terugkom en jou plek in die ry verloor. Wanneer mens die foto’s laat neem maak doodseker die persoon wat dit neem weet dis vir ‘n Amerikaanse visum.
  • Mens kry ‘n nommer wanneer jy instap by die ambassade-gedeelte. Hier begin die lang wag. Dit kan soms tot 3 ure duur. Moenie ontsteld word as iemand met ʼn hoër nommer voor jou geroep word nie. As gevolg van verskillende vereistes vir verskillende tipe visums kan dit gebeur dat nommer 184 voor 172 geroep kan word. Kies ʼn sitplek naby die hokkies waar die onderhoude gevoer word. Dit kan mens iets gee om te doen tydens die lang wag. Later kan mens selfs voorspel of die persoon die visum gaan kry of nie! (Daar was selfs ʼn man wat vir sy “vrou” wou gaan kuier wat hy deur die internetspel “Warcraft” ontmoet het… Hy het natuurlik nié ʼn visum gekry nie.)
  • Moenie bekommerd of senuweeagtig wees as jy geroep word vir die onderhoud nie. Die mense wat die onderhoud doen is baie professioneel en dit gaan eintlik vinnig. As mens eerlik is en met goeie bedoelings Amerika besoek, is daar niks te vrese nie.
  • Mens word daar in kennis gestel of jy die visum kry of nie. Indien wel, los jy jou paspoort daar. Tydens die invul van die aanlynvorm kan mens kies waar jy jou paspoort wil gaan haal en of jy ekstra wil betaal om dit vinniger afgelaai te kry. Sonder die ekstra betaling vir vinniger aflaai kan mens nog steeds die paspoort maklik binne vyf dae al by jou naaste DHL-kantoor kry. Dit neem egter gewoonlik tussen 5- 10 werksdae.

Geniet jou reis na die ongelooflike en indrukwekkende Amerika!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lindie van Loggenberg ·

Mariaan ,
Alles wat jy se is waar ….. Al wat ek kan byvoeg is dat dit die mees ongeskikte mense is wat ek al teegekom het
Hulle behandel jou soos n krimineel … Die 1 dame was naderhand so verward sy kon nie eers haar dogter se naam onthou nie … Visa afgekeur
Hier sit ek al 3maande in Suid Afrika … My AMERIKAANSE verloofde is in Tulsa …. Visa 2x afgekeur mag nie weer aansoek doen nie …. Nou doen ons aansoek vir K1 fiance visa …. R25000 later en dis nog steeds nie gewaarborg dat visa goedgekeur word nie
So op die oomblik is ek redelik gatvol vir hulle

Gerrie Bruwer ·

Kan jy asb. groot asb. vir my hierdie artikel van hoe maklik is dit om jou VSA visum te kry email.

Cathy Kotze ·

Probeer om ‘n visum te bekom wat vir ‘n paar jaar geldig is, die sg “multi entry visa.” Mens kan die VSA daarmee verskeie kere besoek. Suksesvolle aansoekers se visum kan tot 10 jaar lank geldig wees. Dit help veral as jy sommer tegerlykertyd ‘n draai in Kanada of Mexiko wil gaan maak.

Michelle ·

Ek het gister my visa aansoek in Kaapstad gedoen. Vandat ek by die nabygelee winkelsentrum parkeer het, opgestap het na die ambassade, visa aansoek gedoen het, goedgekeur is en terug is by my motor, was dit minder as 20 minute!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.