Langpadwenke vir die Desembervakansie

Die langpad (Foto: LekkeSlaap)

Jou vakansieverblyf is lankal bespreek, jy is uiteindelik met verlof en die motor is gelaai ─ al wat nóú nog tussen jou en ’n welverdiende blaaskans staan, is die langpad! Duisende Suid-Afrikaners pak jaarliks ons land se paaie aan onderweg na verskeie vakansiebestemmings. Wanneer die pad egter eindeloos voor jou uitgestrek lê en die kleinspan kriewelrig raak, voel dit byna asof jy terug is op kantoor. Om seker te maak julle vakansie begin vanjaar al in die motor, vertel LekkeSlaap jou van talle stop- en oornagplekke langs die N1 en N2. Ons gee ook ’n rits langpadwenke wat die kilometers sommer in ’n japtrap verby sal laat vlieg!

N1: JOHANNESBURG NA KAAPSTAD (1 400 km)

As jy moeg is vir wolkekrabbers wat jou uitsig belemmer en verkeer wat teen ’n slakkepas beweeg, is dit tyd om die Hoëveld se donderstorms vir ’n soel seebriesie te verruil! Al kan jy reeds in Pretoria, of selfs in Polokwane, op die N1 klim, begin ons roetereis by die Goudstad met stilhouplekke ongeveer elke 200 kilometer tot in die Moederstad. Dis raadsaam om halfpad tussen Gauteng en die Wes-Kaap te oornag sodat jy veilig en uitgerus by jou eindbestemming kan aankom.

Laat ons weg wees!

Julle is al vroeg uit die vere om die lang pad see toe aan te pak en die jongspan gee nog lang gape op die agtersitplek. Sowat ’n uur buite Johannesburg ry julle deur die pragtige Parys in die Vrystaat. Die meeste winkels is nog toe en die fles boeretroos wat vanoggend inderhaas gemaak is, kom nou handig te pas. As julle egter teen 09:00 deur Parys ry, klop gerus aan by Plum Tree-koffiewinkel. Hiér sal “Moer met Boer” op die spyskaart beslis jou aandag trek ─ ’n stomende koppie koffie met boerebeskuit! As jy die kleingoed, of jou eie, peuselvoorraad wil aanvul, loer ook in by Candy Man, die outydse lekkergoedwinkel langsaan.

Sonneblomvelde naby Kroonstad (Foto: LekkeSlaap)

Ongeveer 115 kilometer verder begroet die Vrystaatse sonneblomvelde jou by Kroonstad en dis definitief tyd om ’n paar kiekies te neem ─ julle vakansie het immers al begin!

’n Bietjie meer as twee uur later ry julle Bloemfontein binne ─ net betyds vir ’n laatoggend-koffie of vars sap by Coffee Talks, waar beskuit en ander padkos ook te koop is. As jy dalk al lus is vir ’n vroeë middagete, sal Seven on Kellner in die middestad dié doel dien met iets vir elke smaak.

As julle egter eers later uit Gauteng vertrek het en die reis wil verleng, is Bloemfontein die ideale oornagplek ─ onthou net om vooraf te bespreek! Hier is ’n paar opsies:

Blue Crane Guest House | De Stallen Guesthouse | Nightingale Guesthouse | Janmar | Karma Gastehuis

Ongeveer 170 kilometer vanaf Bloemfontein is dit weer tyd om ’n bietjie bene te rek by die Kuilfontein-padstal waar egte Karoo-gasvryheid op jou wag! Hiér kan jy ’n romerige cappuccino geniet en jou biltongvoorraad aanvul. Kuilfontein is ook ’n gasteplaas waar jy kan oornag as die son al begin water trek.

Kuilfontein Guestfarm and Farmstall (Foto: LekkeSlaap)

Die halfpadmerk tussen die noorde en suide lê sowat 100 kilometer verder in Colesberg. Dis heel moontlik nou al skemer en julle is tam ná ’n warm dag op die pad ─ ’n smullekker aandete by Die Plattelander Restaurant is nét wat julle nou nodig het! As julle nog meer van die dorpie wil ervaar, loer in by die Horse and Mill vir heerlike kroegkos, pizza of ’n drankie om die lang dag mee af te sluit. Daarna kan jy salig oornag by een van dié plekke:

Donalds Guesthouse | The Lighthouse Guesthouse | De Vuur Gastehuis | Herb Garden Guest House | Spes Bona Guesthouse

Die Karoo (Foto: LekkeSlaap)

As Colesberg se blyplekke dalk vol is, kan jy 50 kilometer verder in Hanover oornag. Dié vreedsame Karoodorpie skuil teen Trappieskopberg en die landskap en Victoriaanse geboue is beslis iets besonders. Oornag gerus by:

Bun Clody Guest House | Hanover Lodge Hotel | Boutique Guesthouse Hanover | The Old Mill and Dairy | 3 Darling Street Guest House

Richmond, wat bykans 70 kilometer van Hanover af is, is ook ’n geskikte oornagplek. ’n Boekfees word jaarliks in dié dorpie gehou, so as jy ’n boekwurm is, is dit beslis die plek om nuwe leesstof aan te skaf! Eet gerus ietsie by die lieflike Richmond Café of die Krip ─ ’n ouwêreldse eetplek en kroeg. As jy in Colesberg oornag het, is Richmond ook ’n goeie stilhouplek vir oggendkoffie. Oornagopsies:

The Richmond Café and Rooms | Three Birds Country House | Rondawel Guest Farm | A Karoo Manor Marinas | Ka Ma Lodge

The Richmond Café and Rooms (Foto: LekkeSlaap)

’n Rit op die N1 is nie volmaak sonder om by die Ultra Shell-vulstasie op Drie Susters te stop nie ─ ja, ons almal ken daai susters! Dié kenmerkende heuwels verleen ’n unieke skoonheid aan die omgewing. Dis ook jou kans om die brandstoftenk weer vol te maak voor die laaste skof begin.

Drie Susters (Foto: LekkeSlaap)

Sowat ’n uur ná Drie Susters ry jy Beaufort-Wes binne. Dis dalk nog te vroeg vir middagete en jou snoephappies is nog nie uitgeput nie. Dis egter steeds ’n goeie idee om daai litte effens los te maak. Hoe klink ’n wandeling in die Karoo Nasionale Park vir jou? Dié pragpark is lekker stil en bied verskeie wild- en plantsoorte. As jy egter kultuur bo die natuur verkies, is die Spinwiel Antiekwinkel en Museum enige snuffelaar se droom met oudhede en versamelstukke net waar jy kyk! As jy elders as in die Goudstad op die N1 geklim het, is Beaufort-Wes ook ’n goeie oornagbestemming met ’n klompie opsies, soos:

Steenbokkie Nature Reserve | Lemoenfontein Game Lodge | Garden Corner Guesthouse | Aandblom Gastehuis | Casablanca B&B

Byna 200 kilometer anderkant Beaufort-Wes, lê Laingsburg. Dié dorp was die slagoffer van een van ons land se grootste vloedrampe waarin honderd mense hulle lewens verloor het. Die Laingsburg Vloedmuseum is ter nagedagtenis aan die slagoffers gestig en bring hulde aan diegene wat deur dievloed geraak is. As jy graag dié museum wil besoek of langer in die dorpie wil kuier, loer gerus na dié oornagplekke:

The Grand Hotel | Herambi Guest House | Laings Lodge | Swartberg

Street Guest House | Oskopvlakte Guest House

Laingsburg Vloedmuseum (Foto: LekkeSlaap)

Jy het nou al meer as 1 000 kilometer afgelê en is waarskynlik al keelvol gesit — toemaar, amper daar! Omtrent 90 minute later sien jy die Velskoen-padstal net buite De Doorns. Hier kan jy nog padkos koop of ’n heilsame middagete by die restaurant in die tuin geniet.

’n Uur later is jy al amper in die mooie Moederstad, maar dis eers tyd vir ’n bietjie pret by Spice Route in die Paarl! Hiér kan jy bier- en biltongproe, aan fynproewerspizza smul, aan ’n glasie gin teug, lipleklekker roomys geniet, kuns waardeer en ongelooflike Bolandse uitsigte bewonder ─ dís mos nou hoe ’n mens vakansie hou!

Spice Route (Foto: Werner Bayer, Flickr)

Die Kaapse kus bied beslis vakansiedorpe te kies en te keur ─ van die Weskus en die bekende Bloubergstrand tot die Walviskus en die Tuinroete. Hou net deurgaans in gedagte dat die Wes-Kaap tans ’n ernstige droogte ervaar en dat water uiters spaarsaam gebruik moet word. Die kans is groot dat vakansiebestemmings se swembaddens leeg is en dat streng waterbeperkings geld.

N2: KAAPSTAD NA PORT ELIZABETH (750 km)

Dis waarskynlik een van ons land se gewildste en mees skilderagtige roetes ─ elke dorpie waardeur jy ry is ’n potensiële vakansieplek! Net omdat ’n mens by die see bly, beteken dit nie jy kan nie óók elders gaan vakansie hou nie ─ of hoe, Kapenaars? Al kan jy dié langpad in ’n dag voltooi, raai ons aan dat jy gereeld stilhou om bene te rek en selfs ’n avontuur of twee aanpak. Dis ook ’n goeie idee om in die George-omgewing te oornag sodat jy nie voos in die Vriendelike Stad aankom nie.

Laat die wiele rol!

Julle vertrek douvoordag uit Kaapstad en bereik Riviersonderend ongeveer twee en ’n halfuur later ─ dié dorpie is egter ’n bietjie nader as jy vanuit die Boland ry. Die Ou Meul Bakkery is nét die plek vir ’n oggendkoffie en ’n vuurwarm pastei wat jou sommer lekker woema vir die res van jou reis sal gee!

Ou Meul Bakkery, Riviersonderend (Foto: Pieter Wolhüter)

As jy nie van Riviersonderend se gasvryheid gebruik maak nie, kan jy sowat 60 kilometer verder ’n laatoggend-ontbyt of vroeë middagete in Swellendam se Swellengrebelstraat nuttig. Dié straat het verskeie eetplekke en sluit ook ’n heuning- en sjokoladewinkel in. As jy egter haastig is, is Tredici net langs die N2 ook ’n gawe stopplek met koffie en vars happies.

Swellengrebelstraat, Swellendam (Foto: Pieter Wolhüter)

Nes Drie Susters op die N1, kan jy nie die N2 volg sonder om by die BP-vulstasie in Buffeljagsrivier te stop nie. Dis wys om ’n wyle hier te vertoef sodat die woelwaters so ’n bietjie van hulle opgehoopte energie ontslae kan raak op die klimraam. Die Oude Post Bistro is ideaal vir middagete met heerlike roosterkoek. Daar is ook ’n winkeltjie waar jy jou proviand kan aanvul.

BP-vulstasie, Buffeljagsrivier (Foto: Pieter Wolhüter)

Om seker te maak die roete bied iets vir elke gesinslid, is Bali Trading net buite Riversdal spesiaal vir Ma! Hier kan jy na hartelus rondsnuffel, die dekor bewonder en selfs ’n paar kersgeskenke op die nippertjie aanskaf.

Bali Trading, Riversdal (Foto: Pieter Wolhüter)

90 minute verder bereik jy die middelpunt tussen Kaapstad en die Baai. As jy redelik laat in die pad geval het of tydsaam gery het, is George die perfekte plek om te oornag. Hier is ’n paar slaapplekke:

Outeniqua Travel Lodge | ArendsRus Country Lodge | Oakhurst Hotel | Farmlands Bed & Breakfast | Whispering Oaks

As jy werklik iets besonders wil sien, ry net ’n klein entjie verder tot in Wildernis. Hiér kan jy effens van die N2 afdwaal om die Kaart van Afrika te bewonder ─ die rivier en woud se buitelyn stem toevallig ooreen met ons vasteland se kenmerkende vorm en die uitsig sal voorwaar jou asem wegslaan! Wildernis is ook ’n lieflike plek om te oornag en jou kragte op te bou vir die res van jou reis. Loer gerus na dié opsies:

Mont Fleur | Whales Way Ocean Retreat | Xanadu Guest Villa | The Wilderness Hotel | Fairy Knowe Hotel

Kaart van Afrika, Wildernis (Foto: Pieter Wolhüter)

Jou reis is dalk nou eers halfpad en die mooiste lê nog voor! Dis egter onmoontlik om verby die Knysnawoud te ry sonder om ook in Oupoot se spoor te gaan trap en in die Tuin van Eden is dit presies wat jy kan doen. Kom loop self kringe in dié inheemse bos en omskep jou padkos in ’n piekniek ─ wie weet, jy gewaar dalk selfs die ontwykende Knysna-loerie!

Tuin van Eden, Knysna (Foto: Pieter Wolhüter)

As jy nie ’n bang haar op jou kop het nie, moet jy stellig 90 kilometer verder by die Bloukransbrug net buite Tsitsikamma stop. Dié kommersiële reksprongbrug is die hoogste ter wêreld en beslis nie vir sissies nie! Dit sal jou adrenalien behoorlik laat pomp en jy sal heeltemal van die langpad vooraf vergeet. As jou medereisigers nie so waaghalsig is nie, maak seker dat hulle jou sprong op film vaslê en geniet daarna ietsie te ete by Cliffhanger Restaurant.

Bloukrans-reksprongbrug, Tsitsikamma (Foto: Pieter Wolhüter)

As dié rondsweef nog nie jou avontuurlus geblus het nie, wag daar hope watersportpret by die meeste stranddorpies. Dis nou nog net sowat 180 kilometer tot in Port Elizabeth en jy ruik al die see! As jy mal is oor branderplankry of om net in louwarm branders te baljaar, hou jou oë oop vir die afdraaibordjies na Oesterbaai, St Francisbaai en Jefferysbaai.

Port Elizabeth is die begin van die Sonskynkus en net voor jy dié stad binnery, skuil daar ’n paar minder bekende strande sonder die skares. Dié goue strande is ideaal as jy smag na rus en vrede en is boonop naby genoeg as jy die stad wil verken.

Sonskynkus (Foto: Pieter Wolhüter)

Sjoe, wat ’n prentjiemooi roete ─ om nie eens te praat van al die ander kusdorpe, soos Mosselbaai, Hartenbos en Plettenbergbaai waarby julle verbygery het nie! Laai maar gereeld jou selfoon en kamera se batterye, want daar sal so baie wees wat jy op Facebook en Instagram wil deel!

LANGPADWENKE

Al volg jy nie vanjaar een van die paaie hierbo nie, sal jy tydens enige langpadreis by dié nuttige wenke baat.

’n Goeie begin is halfpad gewin

  • Bespreek verblyf lank voor die tyd
  • Begin betyds pak
  • Maak seker jy kry genoeg slaap die vorige nag
  • Sorg dat jou motor se brandstoftenk vol is
  • Gaan die noodhulpkissie se inhoud na
  • Laai jou selfoon en kamera se batterye

Reis op jou gemak

  • Trek gemaklike klere aan, soos ’n sweetpakbroek en T-hemp (nee, jy hoef jou nie vir die langpad op te dollie nie!)
  • Onthou jou sonbril, hoed en warm baadjie (net in geval)
  • Pak weggooibare lappies en ’n vullissakkie in

Kuur die kroos se kla-buie

  • ’n Geheuestokkie vol langpadtreffers wat almal sal laat saamsing
  • ’n Rits karspeletjies, soos karkrieket, 30 Seconds en nommerplaatraai ─ kliek hier vir nog speletjies

Stil daai hongerpyne

  • Peuselhappies is baie belangrik, soos biltong en neute
  • Onthou ook genoeg water en daai vertroostende koffiefles

Gee jou oor aan die nostalgie

  • Neem baie foto’s
  • Laat die jongspan die roete op ’n outydse padkaart volg en vertel staaltjies oor die dorpe wat jy uit jou kinderjare onthou

Rek daai bene

  • Stop gereeld
  • Doen strek-oefeninge ─ hier is ’n paar opsies
  • Drink genoeg water

Eerder bang Jan as dooie Jan

  • Hou by die spoedgrens
  • Kom die padreëls na
  • Maak dikwels beurte om te bestuur

Dié gids bied beslis iets vir almal ─ gebruik dit gerus om jou vakansiereis te beplan en te verseker dat die langpad vanjaar wéér lekker is!

Opgestel deur Karli Dürr

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.