LekkeSlaap se top-keuses vir die 2020-langnaweke

Knysna Quays Accommodation (Foto: LekkeSlaap)

Met die feesseisoen en die meeste mense se eerste week van werk al agter die rug, begin ons almal weer die dae na die eerste langnaweek van die jaar aftel. LekkeSlaap vertel jou ’n bietjie meer van al die langnaweke wat dié jaar vir jou voorlê, waar jy jou verlofdae slim kan gebruik om ’n langer naweek te geniet en waar jy die perfekte plekkie kan bespreek om die beste van elke langnaweek te maak.

Paasnaweek
10 tot 13 April

Paasnaweek is die eerste langnaweek van die jaar en boonop is dit nog ‘n lekker lang een ook! Daarom is dit die perfekte geleentheid om weer saam met die hele gesin ‘n wegbreek ver van die stad se gejaag te geniet. OuKlip Game Lodge is ’n lieflike eko-lodge wat verblyf in luukse selfsorg-glanskamptente aanbied. Saans kan julle heerlik om die kampvuurtjie kuier en bedags die Groot 5 op ‘n wildrit gaan soek.

OuKlip Game Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Vryheidsdag 
25 tot 27 April

Vryheidsdag word ter herinnering aan die land se eerste demokratiese verkiesing wat op 27 April in 1994 plaasgevind het, gevier. As jy so in die KwaZulu-Natalse Middellande op Star Dam Estate se stoep sit en oor die wye, oop vlaktes en dam met ’n glasie wyn in die hand staar, kan jy nie anders as om vry te voel nie.

Wenk: Neem 28 tot 30 April verlof en kry nege dae vakansie met net drie verlofdae.

Star Dam Estate (Foto: LekkeSlaap)

Internasionale Werkersdag
1 tot 3 Mei

Tydens die industriële revolusie was daar van werkers verwag om vir ses dae ’n week tot sestien ure te werk. ’n Federasie van vakbonde het op ’n werksdag van agt ure vanaf 1 Mei 1886 aangedring, maar toe die meeste werkgewers dit weier, het werkers op daardie eerste dag in Mei gestaak. Danksy talle werkers van reg oor die wêreld is die werksomstandighede van alle werknemers verbeter.

Bederf jouself met ’n welverdiende vyfsterwegbreek na die luukse Drostdy Hotel in Graaff-Reinet waar jy net kan agteroorsit en ontspan. Bespreek ’n spa-behandeling, span langs die swembad uit, trek een van die boeke in die pragtige biblioteek nader, of gaan verken een van Suid-Afrika se oudste dorpe.

Drostdy Hotel (Foto: LekkeSlaap)

Nasionale Vrouedag
8 tot 10 Augustus

Die eerste Nasionale Vrouedag is op 9 Augustus 1995 gevier om vroue se dapperheid en staal te herdenk. Dit dien as ’n herinnering aan die groot bydrae van vroue tot die bevordering van vroueregte in Suid-Afrika en is terselfdertyd ’n geleentheid om opnuut oor dié regte te besin.

Dít is jou kans om jou vrou op ’n behoorlike wegbreek te neem! Clifftop Exclusive Safari Hideaway in die Waterberge is die ideale toevlug waar warm borrelbaddens, knus winterkaggels en smaaklike etes definitief haar voete onder haar sal uitslaan.

Clifftop Exclusive Safari Hideaway (Foto: LekkeSlaap)

Kersfees
25 tot 27 Desember

Teen die einde van die jaar wil ’n mens so ver as moontlik van die werk af wees en kwaliteit-tyd saam met jou familie deurbring. Beskikbaarheid by al die gewilde bestemmings is reeds besig om vinnig minder te word, so maak seker jy bespreek vroegtydig jou verblyf vir die feesseisoen!

Dié jaar val Kersdag op ’n Vrydag, so jy hoef nie eers ekstra verlof te neem om die feesseisoen saam met jou familie te geniet nie. Knysna Quays Accommodation langs die Knysna Waterfront is heel bo aan ons lysie vir ’n lieflike somervakansie reg op die water. Daar is sewe losstaande woonstelle wat elkeen slaapplek vir twee, vier of ses gaste het, so moenie langer op jou laat wag nie!.

Knysna Quays Accommodation (Foto: LekkeSlaap)

Nuwejaarsdag
1 tot 3 Januarie

Ons kan nie aan ’n beter plek dink om die Nuwejaar te vier as reg onder Tafelberg nie. Jy en sewe vriende kan die nuwe jaar by Table Mountain Eco Retreat afskop. Dié pragtige plek is op die Tafelberg Nasionale Park se grens geleë en spog met ’n groot stoep vanwaar jy ’n asemrowende uitsig oor die prentjiemooi moederstad het en jy ook heel moontlik al die vuurwerke kan sien.

Table Mountain Eco Retreat (Foto: LekkeSlaap)

Die volgende drie openbare vakansiedae val in die middel van die week en dit beteken as jy ’n dag of twee verlof neem, kan jy sommer nóg ekstra langnaweke geniet!
Jeugdag, Dinsdag 16 Junie ─ neem 15 Junie verlof en breek vier dae weg.
Erfenisdag, Donderdag 24 September ─ neem 25 September verlof en breek vier dae weg
Versoeningsdag, Woensdag 16 Desember ─ neem 17 en 18 Desember verlof en breek vyf dae weg.

Beplan nou al jou langnaweekwegbreke vir die jaar sodat jy om elke hoek en draai iets het om na uit te sien en só jou gemoed hoog kan hou tydens die moeiliker werksdae.

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Johmine Croeser.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.