‘Loslappie’ in ʼn straat in Tsjengdoe

china-04

Daar is seker oor ‘n duisend inkopiesentrums in Tsjengdoe. Raffles City is een van die grootste. Foto: Verskaf.

ʼn Donker mislaag hang oor die stad; aangehelp deur die alomteenwoordige rokers wat suig-suig hulle bydrae  tot die lugbesoedeling lewer. Die lug ruik vreemd suur. So al asof die stad nie sy tande ná ʼn nag van brassery geborsel het nie.

Mense loop haastig langs die paaie; toeters raas en blaas. Dit is Donderdagaand. Amper negeuur in Tsjengdoe – die hoofstad van die Sietsjoean-provinsie in die suidweste van China.

Ek bevind myself buite my hotel in Tianfoe-straat, so tien minute se ry vanaf die Global Centre – wat glo die grootste gebou ter wêreld is. Soos dit ʼn goeie werkgewer betaam, het I2 International Education, wat my as ʼn konsultant aangestel het, my in die goedkoopste hotel in Tsjengdoe laat bly.

china-02

Yolanda het in die besige straat gewoon. Foto: Verskaf.

Die hotel, die Seasun Journy (ja, ja, al die hotelle in Tsjengdoe het Engelse name, maar almal is verkeerd gespel) is op die 14de verdieping van die hotelkompleks geleë. Soos wat ek die ding verstaan, word daar omtrent 20 hotelle in die gebou gehuisves en elke hotel het sy eie verdieping. Soos wat die verdiepings opwaarts gaan, word die hotelkamers ook luukser. Ek wil nie eens weet hoe lyk die hotelkamers op die eerste verdieping nie.

Ná twee aande se gesteun-en-kreun in die krakerige bed met die vuilwit beddegoed,  Chinese televisie  en Oosterse kakkerlakke het ek net mooi genoeg gehad, maar ek het al my spaargeld vir my reis na die vreemde gebruik en kon nie self vir my hotelverblyf betaal nie.

Maar – soos dit ʼn goeie Afrikanernooi betaam – het ek vriende gemaak met die Chinese werkers by die Jameson Coffetel (dit is nou ʼn vreemde sinspeling op koffie en hotel) en ná twee dae van groot gebare, lekker koffie en geradbraakte Engels het hulle my genooi om in hulle hotel te bly. Sommer verniet, want ek het hulle geleer Engels praat. Ook sommer die Engelse vloekwoorde geleer (maar hulle weet dit nie). So trek ek en my drie tasse toe na die 20ste verdieping. Kamer 204. Luuks en groot. Sagte badhanddoeke (ek het een daarvan “geleen”, want ek het nie my eie handdoeke na Tsjengdoe gebring nie), sjokolade op die kussing en wit pantoffels.

china-01

Varser as dié visse sal jy nêrens anders kry nie. Foto: Verskaf.

Tsjengdoe is bekend vir kos met brandspeserye en as ek van “warm” praat, is dit nie die afgewaterde branderigheid wat ons by kerriekos-wegneemplekke koop nie. Dit brand jou hel toe en sommer terug aarde toe ook. In dieselfde straat as die hotelkompleks is daar ʼn magdom straatrestaurante. My gunstelingplek is die Pork Griler (presies so gespel). Die sous sjefs maak die disse voor die restaurant gaar. So ʼn tipiese straatkombuis. Jy kan jou kos kies en hulle braai dit vir jou. Langs die braaier staan daar ook ʼn groot tenk waarin visse van alle geure en kleure swem. Jy kan jou eie Gielie Goudvis kies wat hulle dan vir jou doodmaak, braai en opdien. Vars vis reg uit die tenk. Ek wil nie eens weet wat ons DBV van die gebruik sou dink nie.

Wyn is ongelooflik duur, maar die wynlus het my al vroegoggend beetgepak en ek bestel maar ʼn bottel Spaanse rooiwyn (wat omtrent R420 kos en dit is die goedkoopste op die spyskaart). Ek gaan sit alleen by die tafel, maar kort voor lank kry ek geselskap in die vorm van ʼn Chinese paartjie wat by die tafel langs myne kom sit. Alex en Lilly… Al die Chinese het Engelse name. ʼn Mens weet nie na watter Hollywood-rolprente hulle gekyk het om die name te kry nie, want ek het al ʼn Peachhead en ʼn Mollycoddle ontmoet.

Ek bestel een van die Pork Griler se fynproewersgeregte – warm oesters bedrup met knoffel; geroosterde beesvleis op stokkies en stukkies vis gebraai in ʼn warm sousie.

Alex kan ʼn bietjie Engels praat. Lilly dink “Thank you” beteken “Ek stem saam”, want sy knik haar kop en “Thank you” ná elke stelling wat ek of Alex maak.

Alex is ʼn 34-jarige landskapingenieur. Lilly is sy houpoppie. Sy is mooi. Lang bruin bene onder ʼn einakort rompie. Lang bruin hare. Hy sorg vir haar, maar wil vir haar ʼn blink diamant uit Suid-Afrika koop. (Die Chinese dink ons land is besaai met diamante.)

Hulle hou net vakansie in Tsjengdoe, sê Alex terwyl hy aan haaskop smul. Ek kyk eerder weg, want ek sien vir Roger Rabbit voor my. Lilly lek intussen stukkies varkbrein van haar vingers af. “Thank you,” sê sy, met die varkbrein tussen haar wit tande.

china-03

En kyk net die hartseer gesiggie. Hoewel daar in sekere stede wel hondevleis geeet word, is die inwoners van Chengdu lief vir hulle diere. Daar is orals stukkies groen in die stad waar die honde speel. Foto: Verskaf.

Lilly en Alex eet. Varkbrein, haaskop, haaspote, hoenderpote en selfs ʼn varktoon. “Ons eet nie katte en honde nie,” frons Alex toe ek hom uitvra oor die Oosterse mite. “Hulle is ook ons troeteldiere.” “Thank you,” sê Lilly.

Later draai die gesprek na … seks. “Wat noem julle nou weer liefde maak?” vra Alex kouend aan nog ʼn haasoortjie. “Seks,” sê ek. “Ja,” meen Alex, “ons Chinese praat graag oor seks, maar die Chinese mans is nie baie groot hieronder nie,” en hy proes oor sy bier. “Thank you,” sê Lilly.

Ek bloos tamaties en vat nog ʼn sluk van my peperduur rooiwyn. Alex raak so ʼn bietjie aangeklam. Hy het seker so agt biere (en dit is nie Castle Lites nie) binne twee uur ingeryg. Hy trek los met ʼn Chinese popliedjie. Die ander uiteters klap hande. Die straatkat wat na afvalstukkies kos bedel se stert trek krom en met ʼn gemiaau skoert hy na ʼn ander restaurant.

“Nou hoe klink julle liedjies?” vra Alex. En daar gaan staan ek op my stoel en trek los met “Loslappie”. Hard en duidelik. “Ek wil huis toe gaan na Mamma toe…” Kurt Darren se “Loslappie” bars by my mond uit. Maak my vol. Afrikaans in die hartjie van Tsjengdoe.

En toe begin die trane sommer regtig rol…

Meer oor die skrywer: Yolanda Barnard

Yolanda Barnard woon en werk in Tsjengdoe, China, en skryf weekliks vir Maroela Media oor haar wedervaringe in dié land.

Deel van: Reis, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Lala ·

Ek sit in my sitkamer en sien die helder blou hemel en die groen takke van ons eik wat lui het en weer wieg in die wind. Ons pret praat bly bly bly op die TV. Die elektriese heining zoem hoorbaar. Kort-kort gaan die honde in die buurt aan die blaf. ‘n Reaksie voertuig van ‘n veiligheidsmaatskappy kom met
skreeuende bande om die hoek gejaag. Ek wens dikwels ek was nie hier nie. Vandag is ek bly ek is. Sonskyn groete van SA al die pad na Sjina.

Liesl D ·

Dit was nou n heerlike artikel. Goed geskryf Yolanda. Bring nog stories uit verre. .thank you!!

Jano ·

Lekker storie
Well done en klink my daar was heelwat drank betrokke
Thank you Yolanda ?

Marlize ·

Die beautiful vriendin… ek mis jou en die trane rol saam..

Elton ·

Ai Yolla, dis nou lekker lees dié!! Wag gretig vir die volgende blog!!
Záijián!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.