Mooie Mosselbaai: Hier gaat dit geil!

Foto: Carina Stander

As jy net met die N2 verbywoerts, kry jy nie ʼn idee watter skatte daar in Mosselbaai skuil nie. Geskiedkundige sandsteengeboue met uitgeboude vensters en broekielace bo die stoepe. Antieke winkels en winkels met ʼn Afrikaanse kinkel in die naam soos “mansuitrusters” en “motorhawe”. Salige strande.

Vir inkommers soos ons lyk die dorp gemaklik in haar eie vel en trots op wie sy is. Hoe dan anders, sy is immers vanjaar deur Good Governance Africa aangewys as die beste munisipaliteit in die land! Soos my man, Gerrit, sê: “Mosselbaai blaker nie vir die hele wêreld uit hoe lekker plek dit is nie. Mens moet dit maar self kom ontdek.” As jy net ʼn naweek vir ontdekking het, doen jy dit voluit. Só het ons gesin ons 48 uur in Mosselbaai tjokkervol pret en plesier gepak:

Foto: Carina Stander

St Blaize Staproete is ʼn natuuravontuur! Al met die kontoerlyn langs stap ons op ʼn krans ongeveer 30 m bo die branders. Die klipperige paadjie kronkel verby grotte wat derduisende jare gelede deur die Khoi-Khoi bewoon is. Ons wys die inheemse plante vir mekaar uit: bosluisbossie, bitou, fluitjiesriet, geel en pienk bokbaaivygies, heide, lang grasse met sagte pluime en oranje korsmos teen die rotse. En dassies! ʼn Groot kolonie aartsnuuskierige dassies wat met hulle stip ogies ʼn staarkompetisie met ons probeer hou! Ek is sommer trots op ons agtjarige klong wat die roete kafdraf, veral omdat daar nie veel ruskans is nie – ons jaag teen die ondergaande son. Die roete is silwerskoon en soms redelik stil (ons het net twee ander stappers teëgekom) daarom is dit wys om in groepe van minstens drie mense te stap indien jy hulp nodig kry. Dit strek vir 13,5 km tussen Danabaai en Mosselbaai. Staptyd is ongeveer 5,5 ure. Neem genoeg drinkwater saam. Klik hier om die roetekaart te sien.

Foto: Carina Stander

By die Bartolomeu Dias-museumkompleks word die geskiedenis van die omgewing weer lewend. Vir byna drie ure lank verken ons en ons twee laerskoolseuns elke hoekie en draaitjie. Ons leer dat dit ʼn statussimbool vir die Khoi-Khoi was om hulself met krale te versier en met skaapvet in te vryf. (“Kinders, van nou af praat ons van ‘blinkryk’, nie ‘stinkryk’ nie!”) Op 3 Februarie 1488 het die Portugese seevaarder Bartolomeu Dias met sy twee karvele ʼn Suid-Afrikaanse baai binnegevaar. Hy het dit Aquada de Sāo Bras genoem en vandag ken ons dit as Mosselbaai. Ons stap na die varswaterfontein waar Dias se manne hulle drinkwater vandaan gekry het en wat vandag steeds ʼn dammetjie voed. Die interessantste deel van die museumkompleks is die ou saagmeule wat in 1901 gebou is en wat die lewensgrootte replika van Dias se karveel huisves. Dis die einste replika waarmee ʼn span Portugese en Suid-Afrikaners in 1988 van Portugal na Suid-Afrika gevaar het om die vyf-eeuse verbintenis tussen die twee lande te herdenk. Soos wafferse matrose klouter ons in die karveel rond.

Die koerspeilers (ʼn antieke soort kompas) is pragtig en die reeks skilderye deur M.C. du Toit wat die seestories van Portugese, Nederlandse en Britse navigators uitbeeld, is besonder wonderlik. Ons staan stil lank by elke skildery en verkyk ons aan die verhale van speseryhandel en skeepsvaart en see-oorloë.

Die skulpe by die museum is fraai. Maar die “akwarium” se vistenks is vuilerig, een is oorvol krewe en die eensame seekat op ʼn hoop mosselskulpe is ʼn droewige gedoente… In die museumtuin is ʼn mooi sonwyser, inheemse medisinale plante en die Posbusboom: ʼn stokou melkhoutboom wat in 1501 as “posbus” gebruik is toe die Portugese belangrike boodskappe vir mekaar gelos het in ʼn skoen of ysterpot.

Die Bartolomeu Dias-museumkompleks se die ingang is R40 per volwassene, R20 per pensioenaris, R10 per kind. Maandag tot Vrydag: 09:00 – 16:45. Naweke: 09:00 – 15:45. Skakel: 044 691 1067. Webwerf: www.diasmuseum.co.za

Foto: Carina Stander

Dis altyd lekker om ʼn verblyfplek te vind wat jou laat voel asof jy onder die vel van jou nuwe omgewing inklim. Aquamarine is só ʼn gastehuis. Nie net is alles in oseaanskakerings van blou, wit en sandkleur nie, maar hier is ook geraamde foto’s van Mosselbaai teen die mure. Die ruim familiekamer word met goeie rede ook die “tweede wittebroodkamer” genoem. Al is die twee dubbelbeddens en selfsorgkombuisie ideaal vir ʼn gesin, is dit óók romanties – daarvoor sorg die borrelbad, kraakvars katoenlinne en die uitsig. Wát ʼn allerlieflike uitsig! Skemertyd sit ons gesin elkeen met ʼn beker tee op ons privaat stoepie terwyl die huise wat teen die bult opkruip in die laaste sonstrale gloei. Die blou dakke en wit mure, die smal stegies en hawe, die malvas en bougainvilleas, die sonskyn en see – dit alles herinner my aan ʼn reis deur Griekeland, jare gelede.

Voor seweuur die volgende oggend is ek wéér op die balkon, dié keer vir sonsopkoms en met ʼn koffie in die hand. Terwyl my man langs die see gaan draf, my oudste kind nog slaap en my jongste boek lees, geniet ek die bietjie alleentyd. Die kerkklokke lui en ʼn swerm swaeltjies vlieg wye draaie voor die opkomende son, bo-oor die kerktorings en hawe van Mosselbaai. Hier vanaf die balkon kan ek ook die Outeniekwaberge doer oorkant die see sien. Die oggend is windstil en sonnig. Kortmou-weer, ook toe ons later aansit vir ʼn hartlike ontbyt wat bedien word deur die vriendelike bestuurder, Vanessa. Sy laat mens sommer tuis voel net die koffie, vars vrugte en omelet gevul met spek, sampioen en kaas.

Aquamarine is uitstekend geleë vir besoekers: slegs 400 m vanaf die naaste eetplek, 500 m vanaf ʼn blouvlagstrand, 1 km vanaf die Dias-museum en 1,2 km vanaf die hawe waar jy daagliks bootritte kan neem vir walviskyk. Met alles so gerieflik naby, beteken dit dat jy nie eers jou eie vervoer nodig het nie – die pret en plesier is stapafstand! Indien jy wel jou eie vervoer het, is die parkering by Aquamarine veilig. Hier is ook ʼn swembad en braaigeriewe. Bespreking: 076 882 0003. Besoek die webwerf: www.aquamarineguesthouse.co.za

Foto: Carina Stander

De Vette Mossel is ʼn eg-Afrikaanse, skop-jou-skoene-uit-en-eet-soveel-as-wat-jy-wil opelug strandrestaurant. “Hier gaat dit geil!” waarsku ʼn bordjie. Want sowaar, dis baldadig oorvloedig! Die “Mossel” in die naam verwys na een van hulle staatmakerdisse, maar sinspeel ook op Mosselbaai – al is die restaurant nader aan Grootbrak. Die eienaar van De Vette Mossel, Niël du Bois, is in sy eie woorde ʼn “vrye gees en ware Weskusklong”. In 2004 het hy dié seekosrestaurant begin en “met die genade van Bo” het die mense net aanhou instroom. Vandag is daar vier takke reg oor die land.

Niël is ʼn oud-omgewingsjoernalis en die natuur lê hom na aan die hart, daarom word die restaurant bedryf met omgewingsvriendelike seekos, ʼn eie groentetuin, sonkrag, papierborde en ʼn mosselskulp vir eetgerei. Orige kos word aan behoeftige gesinne geskenk en net indringerplante word gebruik om die feesvure aan die brand te hou. Jy kan dus met ʼn rein hart smul aan die mosselvleis gebraai in ui, knoffel en plaasbotter (dis ʼn treffer op potbrood), die soetpatat en snoek, seekospot, vleispot, geelstert, kalamari-steak, groentedis, waatlemoen, pynappel, moerkoffie en koeksisters. So naby is die strand, dat jy tussen die disse kan gaan swem – as jy nie bang is jy sink soos ʼn klip nie!

Tussen die geregte lui Nikkie Geyer (mede-eienaar, gulhartige gasvrou en fieterjasielose vasvatter) die kosklok en maak aankondigings vol kwinkslae. Ons seuns speel ʼn hond uit ʼn bos, ry die kloutertoue en torings en lê later trommeldik in die hangmatte – ons sien hulle net wanneer die kosklok lui! Die oop vure en seekosgeure, die vlaggies en grappige gesegdes, die Afrikaanse musiek van Refentse en Theuns Jordaan op die agtergrond skep alles saam ʼn feestelike atmosfeer.

De Vette Mossel se vaste spyskaart bestaan uit nege gange van sestien tradisionele disse. Skiep ontbyt, dat jy die smulkos behoorlik kan geniet! Bespreking: 079 339 0170. Maak ʼn draai op die webwerf, dis in kraaklekker Afrikaans: https://devettemosselgrootbrak.co.za/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Boerboel ·

Ek onthou as Kind het ons by die ATKV oord op Hartenbos vakansie gehou, dis nou baie jare terug so in die laat 70. Mosselbaai is nie ver van Hartenbos, ons het gereeld soontoe gery as die weer sleg was. Baie mooi deel van Suid =Kaap. Ek sal graag weer daar wil gaan kuier.

Magda ·

Ons gaan jaarliks Mosselbaai toe. Sal nooit iewers anders wil vakansie hou. Carina het n wonderlike gesig by die grot aan die begin/einde van St Blaize gemis. Die gesig van Jesus as jy uit n sekere hoek kyk. Iets besonders om te sien.

DeVill ·

Weet enige iemand dan werklik hoe Jesus gelyk het?
Hoe weet jy dit is hoe Jesus gelyk het?
Wie het besluit die gesig, as jy uit ‘n sekere hoek kyk, is die van Jesus sin?

DeVill ·

As kind was dit altyd ‘n groot teleurstelling as ons weskus toe gegaan het vir vakansie(Lekker bederf nê!)
Die water is koud en daar is niemand nie, ook geen malls en cinemas nie.
Dwarskersbos was darem nie te bad nie!

Nou sal ek in die eerste karretjie wat af weskus toe gaan spring en net gaan relax en op die strand stap!

Salome Seyffert ·

Mosselbaai saamgevat in ‘n neutedop- wat’n lekkerlees artikel! Ons kan getuig van Aquamarine gastehuis se goeie diens, luukse kamers met private balkonne en onverbeterlike uitsig op die see in die hart van Mosselbaai!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.