’n Alternatiewe Somervakansie: Bekoorlikste kothuise in die binneland

Thatcher’s Rest Self-catering Cottage (Foto: LekkeSlaap)

Die somervakansie kruip nader en dis nóú tyd om jou volgende wegbreek te beplan om te verhoed dat jy vanjaar met Jan Tuisbly se karretjie ry. Ja, ons almal smag na daardie perfekte seevakansie, maar soms raak die strand net té besig. As jy ’n slag behoorlik rustig vakansie wil hou, weg van die oorvol strande af, het ons die kuur! Hoe klink ’n blaaskans in ’n afgeleë kothuis omring deur die mooiste natuurskoon om dié jaar se somervakansie by deur te bring? Om jou te help het LekkeSlaap die bekoorlikste kothuise in Suid-Afrika se binneland uitgesoek waar jy vanjaar jou skoene kan uitskop en in rus en vrede kan ontspan.

Thatcher’s Rest Self-catering Cottage, KwaZulu-Natal

Thatcher’s Rest Self-catering Cottage (Foto: LekkeSlaap)

Dié pragtige, afgeleë houtkothuis skuil tussen Ladysmith, Dundee en Newcastle in die asemrowende voorheuwels van die Biggarsberge. Jy sal nie sommer ’n meer gepaste plek vind waar jy net kan ontspan nie. Jy hoef nie bekommerd te wees dat jy dalk té warm sal kry gedurende jou somervakansie nie, want die kothuis is reg op die dam geleë en jy kan dus enige tyd heerlik afkoel. Thatcher’s Rest Self-catering Cottage is die ideale blyplek vir ’n groot gesin of groep vriende wat ’n rustige wegbreek saam beplan en het slaapplek vir ses gaste. Die kothuis beskik nie oor elektrisiteit nie, maar daar is ’n kragopwekker en die nodige gasaangedrewe toebehore. Maak nie saak waar jy jou in dié kothuis bevind nie, jy sal oral met ’n prentjiemooi dam-, berg- of plaasuitsig begroet word.

Lekker doendinge naby: Perdry, wildritte, voëlkyk, visvang en swem.
Wat sê ander LekkeSlapers van dié kothuis?
“Wonderlikste plek vir ’n wegbreek as ’n paartjie of gesin. Heerlik afgesonder! Paddakoor en sterre wat jy kan pluk. Lieflike ervaring. Verblyf uitstekend!” ─ Henrique K.

Dumbe Cottages, Noordelike Drakensberge

Dumbe Cottage (Foto: LekkeSlaap)

Dumbe Cottages is op die Retiefpas geleë en is die toonbeeld van ’n sprokiesagtige, romantiese wegbreek ─ klipkothuise met groot dekke wat ’n byna onwerklike uitsig bied, uitgestrekte vlaktes en elke kothuis het ’n groot bad vanwaar jy die Drakensberge kan bewonder. Jy kan ook lekker in die eet- en leefarea ontspan terwyl jy deur die uitsig oor die hele vallei betower word. Bederf jou geliefde met luuksheid, rustigheid en natuurskoon wat verder tot die romantiese atmosfeer sal bydra.

Lekker doendinge naby: Kunsvlieghengel, visvang, voëlkyk, bergfietsry, fietsry, 4×4-roetes en voetslaan.
Wat sê ander LekkeSlapers van dié kothuis?
“Wonderlik. Lieflike plek met wonderlike uitsig, baie rustig en privaat. Ideaal vir ’n wegbreek saam met jou geliefde!” ─ Andrew S.

Klein Eikeboom Self-catering, Wes-Kaap

Klein Eikeboom Self-catering (Foto: LekkeSlaap)

Verlang jy na vars plaaslug, ’n helderblou hemel en lang wandelings in ’n pragtige omgewing? Dan is Klein Eikeboom Self-catering die perfekte plek waar jy van jou alledaagse sorge kan vergeet! Daar is twee kothuise op die stoetery buite Hermon, sowat 10 kilometer vanaf die skilderagtige Riebeek-Kasteel. Dis die ideale ligging om die Swartland én Boland te verken ─ twee vlieë met een klap! Die kothuise bied onderskeidelik slaapplek aan drie en vier gaste, so jy kan gerus jou gesin saambring en dié pragtige area op fietse verken! Voëlkykers sal in die sewende hemel wees met al die flaminke, visarende en pelikane wat die omliggende area gereeld besoek. Daar is verskeie wyn- en olyfplase naby waar jy ook proesessies kan geniet.

Lekker doendinge naby: Perdry, wynproe, visvang, wildritte, swem, voëlkyk, bergfietsry en fietsry.
Wat sê ander LekkeSlapers van dié kothuis?
“Ongelooflik rustige atmosfeer van die plaas het my van alles laat vergeet! Heerlik. Klein Eikeboom is ideaal as jy van plaaslewe en die natuur hou. Die cottages is van die skoonste en netjiesste wat ek nog gesien het. Ook baie goed toegerus, alles wat jy nodig het is daar. Was werklik ʼn heerlike wegbreek.” ─ Hettitia L.

Cypherkuil Karoo Cottage, Noord-Kaap

Cypherkuil Karoo Cottage (Foto: LekkeSlaap)

Dié rustieke kothuisie bied heerlike wegbreekverblyf halfpad tussen Kaapstad en Johannesburg. As jy dalk ’n roetereis vanaf die Moederstad na die Goudstad of vice versa vir die komende vakansie beplan, is hierdie skaap- en wildplaas naby Strydenburg nét wat jy nodig het om nuwe energie te kry vir die lang pad wat voorlê. Beleef egte Karoo-rustigheid en maak dié pragtige plaas deel van jou vakansie. As jy gelukkig is, sal jy springbokke, koedoes, gemsbokke en ribbokke sien. Jy kan ook vars plaasbrood, roosterkoeke en braaipakke vooraf bestel en die plaaslewe behoorlik vier!

Lekker doendinge naby: Fietsry, voëlkyk, wildkyk en voetslaan.
Wat sê ander LekkeSlapers van dié kothuis?
“Was so ’n ongelooflike mooi plek. Vriendelike mense en heerlike warm roosterkoek vir ’n bederf. Kan dit beslis aanbeveel.” – Karien S.

Tangleberry Cottage, Wes-Kaap

Tangleberry Cottage (Foto: LekkeSlaap)

Kombineer outydse bekoorlikheid met die mees moderne geriewe in die sprokiesagtige Elginvallei. Hiér, tussen die neut- en vrugtebome met die Bolandse berge in die agtergrond, sal jy waarlik kan rus en terselfdertyd met die mooiste uitsig reg rondom die kothuis bederf word. Tangleberry Cottage spog ook met ’n groente- en kruietuin wat jy ten volle kan geniet. Jy en jou geliefde kan selfs julle eie pizza in die pizza-oond bak met die nodige geriewe wat voorsien word! Dis beslis die plek vir ’n onvergeetlike vakansie in ’n manjifieke omgewing slegs 40 minute se ry van Kaapstad af.

Lekker doendinge naby: Perdry, kunsvlieghengel, visvang, forelhengel, voëlkyk, wynproe, fietsry, bergfietsry en swem.
Wat sê ander LekkeSlapers van dié kothuis?
“Die ervaring was beter as wat die foto’s kan vasvang. Rustige en pragtige omgewing dra by tot die besonderse ervaring. Ons het ons kuiertjie baie geniet. Die vars kruie wat tot ons beskikking was, het ons definitief aangemoedig om ons eie kossies op te kikker.” – Johanna T.

Cottage Pie, Vrystaat

Cottage Pie (Foto: LekkeSlaap)

Cottage Pie is nét die plek om van al jou stres ontslae te raak en dis boonop net ’n entjie se stap van Clarens af. Dié droomwegbreekplek skuil tussen lowergroen bome en het ’n sonnige stoep vanwaar jy na die digte tuin kan kyk. Vir diegene wat beplan om die Golden Gate Nasionale Park te besoek, is Cottage Pie ook die perfekte verblyf aangesien dit net 17 kilometer van die park af is. Bederf jou geliefde of jou gesin met ’n vakansie in feetjieland! Jy kan selfs jou vierpotige vriende saambring om die skilderagtige area te verken ─ onthou net om dit vooraf te reël!

Lekker doendinge naby: Perdry, kunsvlieghengel, visvang, forelhengel, baarshengel, voëlkyk, wynproe, fietsry, wildritte, wildkyk, bergfietsry, swem en tennis.
Wat sê ander LekkeSlapers van dié kothuis?
“Slegs een woord! Wonderlik! Pragtige plek aan die voet van die berg. Baie rustig en stil. Het dit ongelooflik geniet!” – Martin P.

Eden Cottage White River, Mpumalanga

Eden Cottage White River (Foto: LekkeSlaap)

’n Beter somervakansie-bestemming in die binneland kan jy nie voor vra nie! Hierdie kothuis is naby Witrivier op die Panoramaroete en spog met ’n dek wat so te sê op die dam is, ’n luisterryke uitsig, ’n idilliese buitestort, watervoëls, hoenders, ’n hond en skape wat sommer op die werd rondloop. Jy kan salig met ’n koppie koffie in die hand op die dek sit en droom terwyl jy oor die dam uitkyk en van al jou sorge vergeet … Wat Eden Cottage White River nóg beter maak, is die feit dat dit lekker naby verskeie besienswaardighede is, soos die Krugerwildtuin, Graskop, Hazyview en Sodwala-grotte ─ maak dus seker jy verken die ongelooflike omgewing!

Lekker doendinge naby: Groot 5, perdry, visvang, forelhengel, voëlkyk, wynproe, fietsry, wildritte, wildkyk, begeleide wandelpaaie en bergfietsry.
Wat sê ander LekkeSlapers van dié kothuis?
“Wat ’n aangename ontspannende omgewing en ervaring! Die kampvuur, buitestort en dammetjie is beslis ’n wenresep! Ons gasheer was baie gaaf.” – Mariette O.

Laughing Waters Farm, Wes-Kaap

Laughing Waters Farm (Foto: LekkeSlaap)

Brand jy om ’n bietjie die mooie Overberg tydens Desember te besoek, maar weg te skram van die besige kusdorpe soos Hermanus en Gansbaai? Laughing Waters Farm is die perfekte alternatief! Dis net ’n entjie se ry van dié gewilde kusdorpe af, maar bied selfsorgkothuise op ’n rustige plaas ver van die gedruis langs die kus. Jy kan ’n heerlike romantiese wegbreek geniet met tientalle doendinge op die plaas. As jy ’n swakplekkie vir organiese produkte het, sal jy in die sewende hemel by Laughing Waters Farm wees! Hulle verkoop vars melk, kaas, karamel en organiese groente. Reël dit vooraf en bring sommer jou troeteldier saam. Kom geniet ’n heerlike somervakansie met baie son, rustigheid en selfs ’n smaaklike piekniek langs die dam.

Lekker doendinge naby: Stap- en bergfietsroetes, swem in die dam, kaas- en wynproe, perdry, voëlkyk en visvang.
Wat sê ander LekkeSlapers van dié kothuise?
“Prentjiemooi, weggesteek tussen die berge. Die gasvryheid en vriendelikheid gekoppel met die warmte wat ons ontvang het, was regtig ongelooflik. Wens ons kon meer tyd daar spandeer. Perfekte plek as jy stilte en rustigheid soek. Baie oulike braai-area!” ─ Hanno N.

Glen Avon Farm, Oos-Kaap

Glen Avon Farm (Foto: LekkeSlaap)

Sit jy met jou hande in jou hare oor waar jy dié somer jou gesin kan neem om ’n bietjie te ontlaai? Glen Avon Farm bied ’n droomgesinswegbreek! Dié historiese plaas is aan die voet van die Boschberge en is 12 kilometer vanaf Somerset-Oos. Een van die vele daaglikse plaasdoendinge is om oor die skape en bokke wag te hou ─ kinders wat lief is vir diere sal hulle gate uit geniet! Daar is verskeie plaasdamme wat ideaal is vir forel- en baarshengel, en natuurlik om ’n bietjie af te koel as die dag te warm raak. Glen Avon Farm spog met historiese geboue, soos die watermeule, skeerskuur en plaasopstalle wat interessante stories oor vervloë dae en die plaas se Skotse voorvaders vertel.

Lekker doendinge naby: Voetslaan op die plaas, kunsvlieghengel, forelhengel, baarshengel voëlkyk, begeleide wandelpaaie, bergfietsry, swem en tennis.
Wat sê ander LekkeSlapers van dié kothuise?
“’n Belewenis. Die plaas het soveel om te sien en te waardeer. Dit is so ’n geskiedkundige plaas met baie interessanthede om te sien. Ons sal beslis weer Glen Avon besoek, maar dié keer ‘n minimum van 2 nagte oorslaap sodat daar tyd is om alles te kan sien en te doen. Die mense is baie aangenaam en hulpvaardig. Dit was net ’n plesier om daar te wees.” ─ Gert N.

Pommegranate Kothuis, Wes-Kaap

Pommegranate Kothuis (Foto: LekkeSlaap)

Dié oulike kothuis lê hoog teen die Olifantsrivierberge op die plaas Nuwedam, sowat 10 kilometer voor Citrusdal. Die ligging bederf jou met ’n asemrowende uitsig oor die Swartland-platorand in die weste en die majestueuse Sederberge in die ooste. Bring die hele gesin saam en swem lekker in die plaasdam waar jy selfs ook met ’n kano kan baljaar. As jy pootuit is, kan jy ook net op die dek ontspan terwyl jy die panoramiese uitsig bewonder. Pommegranate Kothuis het ’n lieflike onderdakstoep met ’n braai en ’n hangmat ─ ideaal vir ’n luilekker somersdag saam met die familie. Die kothuis is naby verskeie prentjiemooi uitkykpunte, asook die koffiewinkel op Piekenierskloofpas, Kardoesie, wat smullekker kos en speelplek vir die jongspan bied.

Lekker doendinge naby: Kanovaart, kunsvlieghengel, visvang, baarshengel, voëlkyk, fietsry, bergfietsry en swem.
Wat sê ander LekkeSlapers van dié kothuis?
“’n Lieflike, stil, gerieflike naweek-oord! Pommegranate Kothuis is ’n wonderlike plek om te ontspan! Die verblyf is skoon, ruim en gerieflik. Die area is pragtig en die plonspoel was baie welkom! Die kothuis is gerieflik geleë, net langs die N7 voor Citrusdal. Ek sal weer gaan!” ─ Welmoet B.

Moenie toelaat dat die idee van ’n somervakansie op ’n besige kusdorp jou ’n hol kol op die maag gee nie! Die binneland bied tientalle sprokiesagtige kothuise waar jy nét so lekker kan ontspan sonder om op ’n oorvol strand te lê. Beplan nóú al jou rustige binnelandse somervakansie saam met jou gesin of ander helfte, en maak seker dis gevul met hope pret, ontspanning en ongerepte natuurskoon ─ jy verdien ’n vreedsame vakansie!

Wat is jóú ideale somervakansie?

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Hennely Nel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.