’n Gesinsvakansie by ’n wild-lodge

Is jy raadop oor kindervriendelike vakansie-idees waarmee die jongspan gelukkig gaan wees of smag jy na ’n safari-ervaring saam met jou gesin? Dan het LekkeSlaap nét die antwoord vir jou — sewe kindervriendelike wild-lodges reg oor Suid-Afrika waar jy en jou hele kroos ’n unieke wegbreek kan geniet. Hierdie pragtige lodges bied nie net opwindende ervarings in die natuur nie, maar ook hope doendinge vir die kinders.

Khaya Ndlovu Manor House

 

As jy op soek is na ’n gerieflike vakansiebestemming in die Laeveld, is Khaya Ndlovu Manor House naby Hoedspruit die ideale plek vir jou! Dié lodge is een van die enigste kindervriendelike lodges in die Laeveld en hulle doen baie moeite om die jongspan te vermaak. Die area spog ook met van die mooiste natuurtonele in Suid-Afrika en die lodge is gerieflik geleë naby die Krugerwildtuin en die Blyderivierspoort vir onvergeetlike daguitstappies.

Waar: Hoedspruit, Limpopo
Tipe verblyf: Lodge
Kinderoppasdiens: Ja
Vermaak vir kinders: Swembad, begeleide wildritte, boswandelings, maak van pizzas en ’n kinderspa

Ngata Safari Lodge

 

Ngata Safari Lodge is ’n vierster-lodge met safaritente in die Dinokeng-wildreservaat. Dié safaritente skep ’n lekker kampatmosfeer en bied ’n pragtige uitsig oor die bosveld. Jy en jou gesin kan sommer die wild van julle tent se stoep af dophou soos hulle by die watergat kom drink.

Waar: Dinokeng-wildreservaat, Gauteng
Tipe verblyf: Safaritente en kampeerplekke
Kinderoppasdiens: Geen
Vermaak vir kinders: Klimraam en swembad

Buffelsdrift Game Lodge

 

Die Klein-Karoo is bekend vir sy ongeëwenaarde natuurskoon en jy kan dié pragtige omgewing in al sy glorie by Buffelsdrift Game Lodge in Oudtshoorn geniet. Die wild-lodge bied tientalle doendinge op die perseel ─ meer as genoeg om die kinders besig te hou. Met die verskillende programme wat by dié lodge aangebied word, kan hulle ook meer oor bewaring en wildspesies leer.

Waar: Oudtshoorn, Wes-Kaap
Tipe verblyf: Safaritente
Kinderoppasdiens: Ja
Vermaak vir kinders: Swembad, ontmoetings met olifante en begeleide wildritte

Mhondoro Lodge

Mhondoro Lodge in die Welgevonden-natuurreservaat bied nie net ’n luukse ervaring vir ouers nie, maar daar is ook oorgenoeg interessante doendinge vir die kleingoed. Dié lodge is bekend vir sy kindervriendelike geriewe en bied ’n uitstekende kinderprogram aan wat verseker dat hulle nie vir ’n oomblik verveeld sal wees nie. Hiér kan gesinne lekker saamkuier in die beeldskone Waterberge!

Waar: Waterberg, Limpopo
Tipe verblyf: Lodge
Kinderoppasdiens: Ja
Vermaak vir kinders: Speelplek, swembad, begeleide boswandelings, opvoedkundige doendinge, teikenskiet en wildritte

Garden Route Game Lodge

Die Garden Route Game Lodge aan die begin van die wêreldbekende Tuinroete in Albertinia spog met ’n ryk voël- en dierelewe wat die Groot 5 insluit. Die kinders kan aan die opwindende kindersafari’s deelneem, meer oor die natuur leer en van nader kennis maak met reptiele, terwyl ma en pa elders op die perseel ontspan.

Waar: Albertinia, Wes-Kaap
Tipe verblyf: Lodge
Kinderoppasdiens: Ja
Vermaak vir kinders: Swembad, ontmoetings met reptiele en kindersafari’s

Botlierskop Self-catering Bush Villas

Dié privaat wildreservaat bied luukse selfsorg-villas vir ’n lieflike wegbreek op die Tuinroete. As jou kinders passievol is oor die natuur is Botlierskop Self-catering Bush Villas net die plek vir jou gesin! ’n Opvoedkundige veldwagtersprogram leer die jongspan hoe om diere se spore, fauna en flora in die natuur te identifiseer — hulle ontvang selfs ’n sertifikaat as hulle die program voltooi het.

Waar: Groot-Brakrivier, Wes-Kaap
Tipe verblyf: Selfsorg-villas
Kinderoppasdiens: Nee
Vermaak vir kinders: Begeleide visvang-uitstappies en wildritte, ’n kinderspa en ’n junior-veldwagtersprogram

Manor House at Tintswalo Safari Lodge

Manor House at Safari Tintswalo is ’n luukse safari-lodge in die Manyeleti-natuurreservaat in die Krugerwildtuin. Dié weelderige lodge bied ’n unieke wildkyk-ervaring omdat daar so min voertuie deur dié deel van die reservaat beweeg. Gaste is dus lekker afgeleë om hulle tyd in die natuur ten volle te benut. Gesinne kan lekker in die groot herehuis saamkuier en onvergeetlike wildritte saam met ervare veldwagters geniet!

Waar: Manyeleti-natuurreservaat, Krugerwildtuin
Tipe verblyf: Safari-lodge
Kinderoppasdiens: Ja
Vermaak vir kinders: Begeleide wildritte en ’n swembad

Nou het jy nie meer ’n verskoning nie — verras jou kinders vandag nog met ’n onvergeetlike gesinsvakansie in die natuur! Wat is dan nou mooier as ’n gesinsfoto met die Groot 5 in die agtergrond?

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Danielle Terblanche.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.