’n Handvol redes om die salige Sederberge te besoek

Foto: Hennely Nel/LekkeSlaap

Die Sederberge is een van die Wes-Kaap se juwele. Met sy betowerende rotsformasies, ongerepte natuurskoon, oeroue rotstekeninge en hemelse stilte, bied dié area ’n idilliese wegbreek. Dis slegs 250 kilometer noord van Kaapstad en strek vanaf die Sederberge by Citrusdal en Clanwilliam, regdeur die Middelvallei van die Olifantsrivier tot by die Atlantiese kus.

Daar is min plekke waar jy Moeder Natuur in soveel glorie sal ervaar soos hier. Dis ’n plek wat iets vir almal bied, met uitdagende voetslaanpaaie, hoë kranse, bergfietsryroetes en kristalhelder rotspoele waar jy net heerlik aan jou gunstelingdrankie kan teug. LekkeSlaap het gaan uitvind waarin die Sederberge se toenemende gewildheid steek en waarom dit regdeur die jaar ’n droomwegbreek vir ieder en elk is.

Stilte weg van die storm

Foto: lennardsims/Instagram

Die kort twee en ’n half uur rit vanaf die Kaap maak van die Sederberge ’n ideale naweekbestemming vir moeë stadsjapies. Kapenaars wat van die daaglikse gejaag wil ontsnap reis dikwels hierheen om die ongerepte natuurskoon in salige stilte te ervaar. Dis die ideale plek om af te skakel, ’n breek van tegnologie te neem, en jou daaglikse bekommernisse vir ’n naweek eenkant toe te stoot en te verruil vir uitsigte waarvan jy net kan droom. Die voëlgesang en paddakoor sal jou ook aan die slaap sus. Daar is dele van die Sederberge wat geen selfoonopvangs het nie, maar as jy steeds in kontak met die res van die wêreld wil bly, kan jy verblyf bespreek wat WiFi bied. Die Sederberge beskik oor ’n soort tydloosheid wat kosbaar in ons moderne samelewing is.

’n Skouspel van rotsformasies

Foto: hiking.southafrica/Instagram

Die Sederberge is welbekend vir indrukwekkende rotsformasies wat oor miljoene jare deur wind en water gevorm is. Kenners meen dat dié wonderskone area al reeds voor die verskuiwing van Gondwanaland sowat 130 miljoen jaar gelede bestaan het! So te sê die hele area is met sedimentêre gesteentes, sandsteen en skalie bedek, met formasies wat soos kunswerke teen die helderblou lug afgeëts is. Dit is ’n behoorlike skouspel wanneer hierdie formasies met hul interessante vorms deur die oranje lig van die sonsondergang verhelder word. Welbekende rotsformasies wat jou verstom sal laat, sluit die Wolfberg-rotsboog, die Maltese Kruis en die betowerende Stadsaal-grotte in. ’n Beter vertoning van Moeder Natuur sal jy nie maklik elders vind nie!

Eeueoue rotskuns

Foto: mrchandlerhouse/Instagram

Daar is min dinge so fassinerend soos eeueoue kuns wat op ’n unieke wyse vasgevang is. Die Sederberge is soos die natuur se eie kunsgalery en spog met sowat 2 500 San-rotskunsterreine wat geskat word om tussen een- en agtduisend jaar oud te wees. Die San-mense was die oorspronklike bewoners van die gebied. Om die kunswerke op hul beste te ervaar, word dit aangeraai dat jy saam met ’n toergids die rotse aandurf. Die voetslaanpaaie waar jy die beste rotskuns sal vind sluit die Warmhoek-terrein naby Clanwilliam in ─ ’n halfdagtoer wat deur ervare, plaaslike toergidse gelei word. Die Sevilla-pad is ook ’n uitstekende pad vir rotskuns wat jy self kan stap en dit begin by die Traveller’s Rest-plaas. Dié soektog na rotstekeninge is iets wat jou vir meer as net ’n wegbreeknaweek kan hou!

Vir meer inligting oor die verskeie voetslaanpaaie wat na rotstekeninge lei, kan jy die Citrusdal Toerismekantoor se webtuiste besoek.

Rotspolle en watervalle vir snikhete dae

Foto: cape_secrets/Instagram

Dis nie ’n geheim dat die temperatuur uiters hoog in die Sederberg-area kan styg tydens die somermaande nie. Die gemiddelde temperatuur in die somer is tussen 30°C en 38°C. Dié area is egter verskeie watervalle en rotspoele se tuiste waarin jy heerlik kan afkoel ná ’n lang staptog. Vir die avonturiers is daar die Maalgatkranse waar jy van ’n krans van tot 11 m hoog in die rotspoel kan spring! Jy hoef slegs 2 kilometer te stap om by dié paradys uit te kom en dis net ’n kort entjie se ry vanaf die Sanddrif-kampeerplek. Hou net in gedagte dat jy ’n permit moet hê om hiér te baljaar. As jy bietjie skrikkerig vir hoogtes is, is daar verblyf in die Sederberge, soos Rockwood Farm, wat ’n rotspoel slegs ’n paar meter van die huis af het! Jy hoef dus nie altyd ver te stap of te spring om in die koel, vars water van dié omgewing te ontspan nie.

Wêreldklas-verblyf

Die Sederberge is nie net vir avonturiers wat van rotsagtige voetslaanpaaie, kransspring, of bergfietsry hou nie. Hiér kan jy ook ’n luukse wegbreek met toegang tot alle moderne geriewe geniet!

Hier is ’n paar plekke wat jy nie sommer sal kan verlaat as jy eers dit besoek het nie:

Mount Ceder

Mount Ceder (Foto: LekkeSlaap)

Dié ideale naweekbestemming bied verskeie doendinge en verblyf-opsies. Dit lê op die hoofroete wat deur die Sederberge strek en is deur die majestueuse berge omring. Daar is selfsorgkothuise vir 2 tot 6 gaste, 3 kampplekke en 4×4-roetes vir die avonturiers en selfs ’n restaurant vir dié wat behoorlik wil ontspan. Mount Ceder bied ook ’n Jacuzzi op ’n dek vanwaar jy die beeldskone natuur kan bewonder!

Kagga Kamma-natuurreservaat

Kagga Kamma-natuurreservaat (Foto: LekkeSlaap)

Kan jy sê dat jy al ooit in ’n rotsagtige struktuur vakansie gehou het? Nou is jou kans! Kagga Kamma-natuurreservaat spog met indrukwekkende rotsformasies, ’n ryk kulturele geskiedenis, volop inheemse plantegroei en rotskuns. Jy kan in een van hulle grot-suites bly wat lyk asof dit deel is van die sandsteenformasies, of die grasdak-hutte wat ’n weerspieëling van die inheemse stamme van dié area is. Daar is ’n restaurant by die lodge, asook ’n boma waar jy heerlik kan kuier. Kagga Kamma is ’n paradys vir natuurliefhebbers, met volop dierelewe en ’n sterrehemel wat snags ophelder soos in min ander plekke in die land.

Dié reservaat bied ook rotskunstoere waar gaste meer kan leer van die fassinerende kulturele geskiedenis van die San-mense wat vir eeue die area bewoon het.

Bushmans Kloof Wilderness Reserve

Bushman’s Kloof Nature Reserve (Foto: LekkeSlaap)

Dié bekroonde reservaat is die toonbeeld van luuksheid en is onder ou sandsteen-rotsformasies geleë. Bushmans Kloof is bekend vir sy uitstekende omgewings- en bewaringsprojekte en is die bewaarder van sowat 130 rotskunsterreine, en bied toevlug vir diverse dier- en plantlewe. Jy kan ’n verskeidenheid doendinge hier geniet, soos voetslaan, swem in die pragtige, kristalhelder rotspoele en selfs kanovaart. As jy dalk ’n romantiese naweek beplan, is Bushmans Kloof beslis nie ’n slegte keuse nie!

Pretfeit: Die Sederberge het selfs sy eie bier, genaamd Nieuw Brew, wat in 2013 gestig is! Dit word deur die Nieuwoudt-familie op die plaas Kromriver in die hartjie van die Sederberge gebrou. Die uitstaande gehalte van die water wat vanaf die Sederberge vloei, bied uitstekende geleentheid om ’n hoë-gehalte bier te produseer, en die Nieuwoudts het dié geleentheid met albei hande aangegryp. Nieu Brew-bier word nou in verskeie dorpe in die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Vrystaat, KwaZulu-Natal en Gauteng verkoop!

Daar is beslis meer as net ’n handvol redes om die Sederberge te besoek en of jy nou naby of ver van dié pragtige plek af bly, dit is beslis ’n besoek werd!

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur is Hennely Nel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.