ʼn Kaapse draai

Ek het ʼn vriendin, ver by die blou see. Teen die hang van Tafelberg, as die son sak, speel sy die mooiste melodieë …

Kaapstad, ook bekend as die Herberg van die See, is vanjaar die eerste plek aangewys in die kategorie “Topstede in Afrika en die Midde-Ooste” in die Travel & Leisure 2016 Wêreld se Beste-toekennings. Indien jy gelukkig is om hierdie Desember ʼn Kaapse draai te maak, hier is 15 doendinge:

Op die bloedrooi bus

Die bus besoek ʼn verskeidenheid besienswaardighede en daar is ʼn paar roetes om van te kies. Die roetes begin by die Two Oceans Akwarium en maak ʼn draai verby Langstraat, Mount Nelson Hotel, Kirstenbosch Botaniese Tuine, World of Birds, Kampsbaai, Groenpunt en eindig dan weer by die akwarium. Besoek www.citysightseeing.co.za.

austinhealy_2_big1Franschhoek-motormuseum

Die motormuseum op die L’Ormarins-landgoed buite Franschhoek is elke motorentoesias se droom. Die sakemagnaat Johann Rupert het dié museum, wat uit vier groot lugverkoelde vertrekke bestaan, in 2007 geopen.

Die museum is Maandae tot Vrydae van 10:00 tot 18:00 oop, en naweke tot 16:00.

Kasteel de Goede Hoop

Die Kasteel is die oudste gebou in Suid-Afrika en het twee eeue lank as die setel van die burgerlike, administratiewe en militêre aktiwiteite aan die Kaap gedien.

Besoekers kan op ’n begeleide toer deur die Kasteel gaan om meer oor die gebou self en die geskiedenis van die Kaap te leer – die perfekte uitstappie vir ouers met kinders! Toegang kos R30 vir volwassenes en R15 vir kinders. Die deure maak soggens 09:00 oop.

Tonneltoere

Die toere vind onder die Moederstad se strate plaas, waar jy tussen een en drie uur lank in die ondergrondse kanaal van die stad rondloop. Van dié tonnels is reeds in 1652 gebou. Die toer begin by die Kasteel van Goeie Hoop en eindig óf aan die hange van Tafelberg óf weer by die beginpunt. ’n Ondergrondse toer van Kaapstad word aangebied in tonnels wat in die middel 17de eeu gebou is, en bied jou ’n opwindende avontuur.

screen-shot-2012-02-21-at-12-11-13Seepunt-promenade

Enige somersdag is ideaal vir ’n wandeling hier. Dié 11 km lange wandelpad langs die Atlantiese kus is verfrissend, mooi en goed vir jou.

Biscuit Mill

Die Old Biscuit Mill is in Albertstraat in Woodstock en perfek geleë as wegspringpunt vir die res van jou verkenningstog deur die Kaap. Die besige buurtmark is reeds ʼn instelling in die Moederstad, waar ʼn versameling van kunswerk-, handvlyt-, mode- en onderwerpwinkels beskikbaar is. Op Saterdae is die mark propvol organiese en vars kosprodukte wat ʼn mens daar kan geniet, of koop vir die huis. Hulle is Maandae tot Vrydae van 10:00 – 16:00 en Saterdae van 09:00 – 14:00 oop.

Nasionale Botaniese Tuin Kirstenbosch

Bring ’n piekniekmandjie of geniet ’n opelugkonsert van ’n verskeidenheid Suid-Afrikaanse kunstenaars en orkeste. Oop tussen 08:00 en 21:00.

Kompanjiestuin

Dié groot openbare park en botaniese tuin in die hartjie van Kaapstad het ’n roostuin, Japannese tuin, visdam, voëlhok en Suid-Afrika se grootste aangeplante peerboom wat van 1652 dateer. Jy kan die voëls voer, piekniek hou of wandel.

iziko-art-museumDie Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum
Dié kunsmuseum in die Kompanjiestuin het ’n goeie verskeidenheid kuns uit Suid-Afrika, Afrika, Brittanje, Nederland, Frankryk en België.

Jonkershoek-natuurreservaat

Die Jonkershoek-natuurreservaat sowat 9 km buite Stellenbosch bied ’n goeie alternatief tot die besige staproetes in en om Tafelberg. Ná 15 minute se stap sal jy reeds die eerste waterval teëkom. Die hele staptog tot by die tweede waterval en terug kan twee tot drie uur duur. As jy lus is vir piekniek, stap na die Assegaaibos-natuurreservaat en gooi jou kombers oop op die grasbank langs die Eersterivier.

tulip-670643_1920Koop blomme in Adderleystraat

Besoek een van Kaapstad se mees kleurryke en oudste markte – die blommemark in die hartklop van Adderleystraat. Oop Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 16:00.

Klim Leeukop uit

Leeukop is bekend vir sy skouspelagtige uitsig oor die stad, en die uur lange klim na die kruin is veral gewild tydens volmaan.

Fliek onder die sterre

Fliek onder die sterre onder die groot bome van die Kirstenbosch Botaniese Tuin by The Galileo-opelugteater.

labia-theatre-750x400Kunssinnig

Die Labia-teater in Oranjestraat is die oudste onafhanklike teater vir kunsrolprente in Suid-Afrika. Die teater, wat oorspronklik die Italiaanse gesantskap gevestig het, is in 1949 deur prinses Labia geopen. Indien jy ’n voorliefde het vir onafhanklike en alternatiewe rolprente, is hierdie teater die besoek werd. Dis ook die enigste rolprentteater waar jy by ’n kroeg kan ontspan en ’n drankie kan geniet terwyl jy na ’n rolprent kyk.

penguin-657527_1920Meer as drie pikkewyne

Omtrent 2 000 pikkewyne waggel op Bouldersstrand in Simonstad. Hierdie bedreigde spesie bly tussen die granietrotse wat die hele strand vol staan. Volwassenes en kinders ouer as 12 kan die pikkewyne vir R40 besoek en kinders tussen 2 en 12 betaal slegs R15.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan ·

Baie van die bostaande roer die hartsnare. Ons het vir jare op die kop by Suikerbossie restaursant, anderkant Llandudno, skons met lekker room en rooibostee onder van daai groot sambrele buite geniet, terwyl ons op Houtbaai afgekyk het. Later het ons Snoekies in die hawe gaan besoek, lekker vis, perlemoen, kreef edm gekoop. Geelstert, kabbeljou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.