ʼn Kultuurfees in Abu Dhabi

Sheikh Zayed Grand Mosque

Sheikh Zayed Grand Mosque

Daar is min dinge wat ʼn mens só na ʼn onbekende land of eindbestemming lok soos die andersheid van hulle kultuur. Dit is tog wat ʼn land sy identiteit gee, nie waar nie?

Vir my is byvoorbeeld Italië sinoniem met pasta en passievolle mense. Oostenryk met houthuisies, Wiener Schnitzel en Glühwein. Amerika met sy hamburgers en Disney World.

Met Abu Dhabi, ʼn plek in die middel van ʼn woestyn, is dit amper ʼn ontploffing van oud en nuut wat mekaar in die middel ontmoet.

Dié stad het dit reggekry om die ou bekende woestynkultuur nie verlore te laat gaan nie, maar dit parallel met haar wêreldbekende “eerstes” en “enigstes” te laat bestaan op ʼn manier dat hulle mekaar totaal komplementeer.

Maniere om die Abu Dhabi-kultuur te kan ervaar:

ʼn Reis na Erfenisdorp

Die kultuur word die beste vasgevang hier waar dit vir jou ʼn blik gee op die voor-olie-era in die Verenigde Arabiese Emirate. Hierdie museum bied ʼn hele sensoriese ervaring wat Bedouimtente en ʼn souk (mark) met ʼn verskeidenheid van speserye, kleure, teksture en aandenkings, insluit. Daar is selfs geleentheid om met ʼn kameel te ry.

Sheikh Zayed Grand Mosque

Heel moontlik een van die mooiste moskees in die wêreld en boonop met ʼn groot kulturele waarde. Dit kan ʼn ongelooflike 40 000 aanbidders akkommodeer, het vier minarette (torings) en 82 koepels – elk ʼn voorstelling van ’n ander Islamitiese styl. ʼn Besoek aan die moskee gee mens dus ʼn geleentheid om nie net die geskiedenis te sien nie, maar ook te ervaar.

Henna-tatoes in Abu Dhabi

Henna-tatoes in Abu Dhabi

Tradisionele kameelresies

Ja, daar is so iets! Dit is besig om een van die grootste toeriste-aantreklikhede te word in Abu Dhabi. Hier kan jy sien hoe die effens ongemaklike diere teen ʼn baie hoë spoed om ʼn spesiaal ontwerpte renbaan hardloop. Werklik iets baie ongewoon om op jou reisagenda te sit.

Henna-tatoes

ʼn Mode wat elke nou en dan sy kop uitsteek in die res van die wêreld, is hier niks vreemds nie. Alhoewel dit basies in enige mark gedoen kan word, besoek gerus die Vrouehandewerksentrum (Women’s Craft Centre) vir werklike kunswerke. Jy kan terselfdertyd rondsnuffel tussen al hulle pragtige handgemaakte produkte vir aandenkings. Dis egter die eg Arabiese ervaring wat jy hier kry wat dit laat uitstaan.

Valk en Saluki-vertoning in Abu Dhabi

Valk en Saluki-vertoning in Abu Dhabi

Valk en Saluki-vertoning

Die beste plek om hierdie ongelooflike ervaring te beleef, waar twee spesies saam jag, is by Qasr al Sarab in die Liwa-woestyn. Mens sien nie elke dag hoe ʼn valk vir een van die oudste honderasse aandui waar om te jag nie. Die valk sirkel die lug waar hy die prooi gewaar en dit is ʼn aanduiding vir die Saluki om na aksie oor te gaan. Wanneer die hond (wat tot 75 km/h kan haal) die prooi gevang het, kan die jagters dit gaan oplaai. ʼn Onvergeetlike ervaring.

Dadelmark en Liwa-fees

Dadels is so gewild in Abu Dhabi dat hulle selfs hul eie fees het! Hier kan jy kies en keur tussen ʼn groot verskeidenheid, selfs dadels wat bedek is in sjokolade. Wie kan nou nee sê daarvoor? Die Liwa- dadelfees is nou al in sy 11de jaar en trek maklik tot 70 000 besoekers jaarliks. Die fees word elke jaar in Julie gehou en is verseker ʼn móét wanneer jy Abu Dhabi besoek. ʼn Ervaring wat nie net tradisioneel is nie, maar ook die “soeter” kant van Abu Dhabi wys.

Abu Dhabi-kameelfees

Abu Dhabi-kameelfees

Al Dhafra-kameelfees

Die Mej. SA van Kamele… Meer eg Abu Dhabi kan mens nie kry nie. Die Desember Al Dhafra-fees wat ʼn viering is van kultuur en erfenis, bied vir jou ʼn markparadys waar ʼn mens kan koop na hartelus. Maar dis die kameel-“skoonheidskompetisie”, waarvoor meer as 25 000 kamele jaarliks ingeskryf word, wat die grootste aantrekkingskrag het. Gelukkig word die mooistes reeds voor die tyd uitgekies en nie al 25 000 word na die fees genooi nie. Die kriteria van die kompetisie sluit kameelras, hobbel, hoogte, kleur en gewig in. Hierdie is werklik ʼn kulturele belewenis.

Opwindende vooruitsigte

In die toekoms kan jy ook uitkyk vir die ongelooflike Saadiyat-eiland wat besig is om gebou te word. Dit sluit vyf museums op een eiland in: Die Performing Arts Centre, Guggenheim Abu Dhabi, Zayed National Museum, Maritime Museum en die Louvre Abu Dhabi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.