ʼn Mengelmoes idees vir koue winters

Winterdoendinge (Foto: Lekkeslaap)

As jy reken ’n Suid-Afrikaanse winter is vaal, vervelig en alewig snerpend koud, sit jy die pot effens mis! Ons winter is ’n mengelmoes van ysige droë dae op die Hoëveld, ’n subtropiese paradys aan die Olifant- en Dolfynkus en gietende reën in die Moederstad*. Bome skud hulle blare af, die bergspitse kry spierwit sneeukombersies, wild is makliker sigbaar en die reuk van vars grond hang orals in die lug.

Dis boonop buiteseisoen en spesiale aanbiedings is volop. Daar is ook ’n skoolvakansie in die hartjie van die winter wat ideaal is vir ’n gesinswegbreek. So, wonder jy nog wat jy dié winter kan doen om die koue te verdryf? Hier is 15 doendinge eie aan ’n winter in Suid-Afrika wat hope pret en plesier vir jonk en oud beloof!

1. Wildkyk

My Bushhouse (Bayt AlGaba) (Foto: LekkeSlaap)

Winter en wildkyk is sinoniem in Suid-Afrika. Die Bosveld se welige plantegroei raak yl en vaal wat dit makliker maak om daardie ontwykende groot kat in lewende lywe te gewaar. Daar is ook minder muskiete wat jou nagrus versteur en al om jou kop zoem wanneer jy langs die kampvuur sit en luister hoe ’n leeu in die verte brul. Omdat dit buiteseisoen is, het baie wildreservate en -lodges spesiale aanbiedings sodat jou winterwegbreek jou darem nie te veel geld uit die sak jaag nie.

Shamwari Game Reserve (Foto: LekkeSlaap)

As jy dus ’n middel-van-die-jaar-blaaskans benodig of nog altyd wou sien waar die Groot Vyf koning kraai, is ’n wildkykwegbreek in Mpumalanga se Krugerwildtuin, die Hluhluwe-iMfolozi Park in KwaZulu-Natal of die Oos-Kaapse Shamwari Game Reserve nét vir jou beskore. Jy kan ook ’n paar rand spaar deur net buite die wildtuin te bly en die Kruger bedags te besoek. Kliek gerus hier vir sakpasverblyf buite die Krugerwildtuin, hier vir spesiale aanbiedings landswyd en hier vir ’n aantal wildkykwenke wat jou handig te pas sal kom.

2. Sneeukyk

Ouma Jossie se Huis (Foto: LekkeSlaap)

Al lê sneeu nooit meters diep op jou drumpel nie, is dit darem nie die vreemdste verskynsel vir Suid-Afrikaners nie. En wanneer die eerste sneeuvlokkies op die berge begin neersak, is dit beslis iets om te beleef. Sneeukyk is ’n uitstappie wat jy, jou gesin en vriende baie sal geniet en sommer nog lank sal onthou. Bou ’n sneeuman, versier Olaf met ’n mus, serp en wortelneus en speel sorgeloos in die winterwit wonder.

Jakkalsdans Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Die Drakensberge is ’n immergewilde winterbestemming waar dit veral op Cathedral Peak en by Underberg sneeu. Clarens in die Vrystaat, Rhodes in die Oos-Kaap en die Noord-Kaap se Sutherland is ook sprokiesagtige sneeukykplekke. Kapenaars kies weer koers na die Matroosberge net buite Ceres en die Sederberge om kaperjolle in die sneeu te maak. As jy wil sien of daar dalk ook ’n bietjie sneeu in jou geweste skuil, kliek gerus hier. Onthou om warm aan te trek en moenie jou waterdigte stewels vergeet nie!

3. Walviskyk

Whale View Manor Guesthouse & Spa (Foto: LekkeSlaap)

Die noordkapper- en bultrugwalvisse besoek ons kus jaarliks tussen Julie en November om te paar, te kalf en in die branders te baljaar. Valsbaai, die Walviskus in die Overberg en KwaZulu-Natal se Suidkus is alombekende walviskykbestemmings waar jy sommer op die strand kan staan en kyk hoe die grootste soogdier op aarde in die oseaan rinkink en sproeipluime spuit.

Whalesong Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Boonop hou Hermanus elke September ’n Walvisfees wat jy beslis nie moet misloop as jy ook dié ou grotes wil bewonder nie. Daar is selfs ’n paar blyplekke waar jy die reuse van jou bed af kan gewaar. So, kliek gerus hier as jy op soek is na slaapplek naby die walvisse se speelplek!

4. Roetereis

Jakkalswater Gasteplaas (Foto: LekkeSlaap)

Wanneer jy in die somer die langpad vat, bring jou motor se lugversorging darem ’n bietjie lafenis maar jy moet steeds uitklim om bene te rek en dan fel die son genadeloos op jou neer. Daarom stel ons voor dat jy eerder gedurende die wintermaande moet roetereis wanneer ’n warm koffiefles en tydlose treffers op die radio enige koue laat wyk. Jy sal ook nie so vinnig moeg raak as jy die langpad in koeler weer aanpak nie en daar is werklik iets vertroostend aan reëndruppels teen jou motorruit. Die meeste nasionale paaie is ideaal vir roetereis en neem jou deur skilderagtige landskappe en verskeie plattelandse dorpe met tuisnywerhede en snuffelwinkels.

N2-roetereis (Foto: Pieter Wolhüter)

As jy beplan om vanjaar die Weskus se N7 te volg, kliek gerus hier om te kyk watter winkeltjies op jou wag. Daar is ook ’n hele rits interessante stopplekke as jy die N2 tussen Kaapstad en Port Elizabeth wil neem ─ kliek gerus hier as jy ’n lysie wil maak. Om dit alles te kroon gee ons jou ook lekker langpadwenke sodat die kilometers sommer in ’n japtrap verby kan vlieg!

5. Voetslaan en bergklim

Elephant’s Eye-roete (Foto: Ankia Wolf)

Jy dink dalk stap en bergklim is net vir die somermaande bedoel, maar ’n sonnige wintersdag is eintlik die ideale geleentheid om ’n bietjie oefening te kry en Tafelberg uit te klim sodat jy dit uiteindelik op jou emmerskoplysie kan afmerk! Jy behoort minder te sweet, nie so gou moeg te raak nie en jou ook nie in die bloedige son te verbrand nie. Suid-Afrika se landskap het ’n oorvloed stap- en bergklimroetes wat wissel in moeilikheidsgraad. Dié roetes sal beginners en gesoute stappers se vernuf beproef en jou met pragtige uitsigte beloon.

Shoreline of the San-roete (Foto: Adriëtte le Roux)

Die Otter-staptoer op die Tuinroete is een van die bekendste staptoere in ons land en is ’n móét as jy ’n kranige stapper is. Die Drakensberge bied ook verskeie staptoere en die Magoebaskloof-roete in Tzaneen se toere wissel van ’n uur tot vyf dae. ’n Warm wintersdag by die see is ’n bonus en as jy dit met ’n bietjie oefening wil kombineer, kan jy slenterstap aan die Weskus en teen die Oos-Kaap se kus. As jy meer inligting oor van ons land se gewildste en uitdagendste staptoere soek, kliek gerus hier.

6. Haaihokduik

Omdat die seewater in die winter warmer is, is witdoodshaaie op die aanval en jag hulle robbe, veral by Dyer- en Robeiland. Die koeler seisoen maak dit ook makliker om dié roofvis raak te sien omdat die stormweer die planktonryke oppervlak weggewaai het. Dís waarom die Wes-Kaap se koudste maande die ideale tyd is om van aangesig tot aangesig met die oseaan se gevaarlikste vis te kom.

Dié uitstappie sal beslis die bloed vinniger deur jou are laat pomp, veral wanneer jy sien hoe dié gevreesde vis ’n homp vleis verskeur! As jy waaghalsig is of nog altyd wou sien hoe ’n haai vir jou grynslag, is dié adrenalienbelaaide uitstappie net wat jy nodig het. Daar is verskeie Kaapse kusdorpies waar jy dié avontuur kan aandurf, maar die Overberg en veral Gansbaai is die perfekte plek.

7. Swem

Blue Waters Hotel (Foto: LekkeSlaap)

Swem is waarskynlik die laaste ding waaraan jy in die winter dink. Maar as jy baie graag in die bibbermaande die seesand tussen jou tone wil voel en in die branders wil rondplas, is Durban die ideale bestemming. Hiér is die water regdeur die jaar louwarm ─ perfek vir swem, branderplankry en snorkel.

Little Eden St Lucia (Foto: LekkeSlaap)

Dié stad se subtropiese klimaat maak dit ook een van die beste bestemmings tydens die skoolvakansie met ’n magdom doendinge vir die jongspan, soos die uShaka Marine World, Giba Gorge Bergfiets Park, Pavillion Winkelsentrum en die Umgeni River Voëlpark. Die Durban July-perdewedren word ook jaarliks op die eerste Saterdag in Julie aangebied en lok besoekers wêreldwyd.

Ander KwaZulu-Natalsedorpies waar jy ook in die Indiese Oseaan se waters kan rondploeter en menige uur op die strand kan deurbring, sluit Margate, Ramsgate, St Lucia, Zimbali en Ballito in. So, bederf jou en jou gesin vanjaar met ’n strandvakansie in die hartjie van die winter!

8. Blommekyk

Grootvallej Plaas Akkommodasie – Blommehuisie (Foto: LekkeSlaap)

Beplan jy om eers in die laatlente te gaan blomme kyk? Dan wag daar waarskynlik ’n teleurstelling op jou! Die beste blommekyktyd is in Augustus en September wanneer die bloeisels begin bot en die velde met die soetste geure en helderste kleure getooi word. Jy kan in ’n reservaat of in die oop veld gaan blommekyk en dié uitstappie is nie volmaak sonder ’n piekniekmandjie nie. Namakwaland is sinoniem met blommekyk, maar die Weskus bied ook ’n blommeprag soos min.

Skilpad Farm (Foto: LekkeSlaap)

As jy óók wil sien hoe Moeder Aarde glimlag, moet jy beslis vanjaar gaan blommekyk. Kliek gerus hier om na ons blommekykgids te loer en hier as jy wil weet waar jy nog vrolike veldblomme kan aanskou.

9. Kamp

Platbos Forest (Foto: LekkeSlaap)

Kamp is nie vir almal nie, maar as jy ’n kampmens is, sal ’n bietjie koue jou definitief nie afskrik nie. In die somer word daar teen die kus gekamp, maar in die wintermaande kamp jy in die bos. Suid-Afrika het legio winterkampplekke ─ jy moet net besluit waarheen jy wil gaan!

Blouberg Camp (Foto: LekkeSlaap)

 

Golden Gate Highlands Nasionale Park in die Vrystaat is baie gewild in die somer, maar dié geweste is net so mooi in die winter en spog dikwels met sneeu. Daar is gewoonlik ook minder mense wat in die winter hier kamp, so dis lekker privaat en rustig as jy die koue wil trotseer. Die Suidelike Drakensberge se Underberg en Himeville is die ideale kampplekke vanwaar jy ’n 4×4-toer na die Sanipas kan reël om die asemrowende sneeulandskap te bewonder. Jy kan natuurlik ook in die Krugerwildtuin gaan kamp as jy so na as moontlik aan die diereryk wil wees. Hoewel die Noord-Kaap snikheet in die somer is, sal die winterseisoen se stilte en rustigheid jou beslis bekoor en is die Richtersveld Nasionale Park die ideale boskampplek as jy net wil ontspan. Kliek gerus hier vir nog ’n paar kampopsies.

As jy nie so vertroud met kamp is nie of net weer jou kampgeheue wil verfris, kliek gerus hier vir tientalle kampwenke wat so reg in jou kraal sal pas!

10. Sardienloop

The Stone House (Foto: LekkeSlaap)

Die sardienloop is ’n jaarlikse natuurverskynsel wat jy tussen Mei en Julie aan die Oos-Kaap se Noordkus en KwaZulu-Natal se Suidkus kan gadeslaan. Tydens dié maande vloei ’n koue noordelike seestroom vanaf Agulhas na Mosambiek wat miljoene sardientjies in ’n enorme skool laat saamtrek en hulle pad na die noorde toe laat oop vreet. Dis ook hulle broeityd, maar terwyl die sardientjies so naby die kus plankton verorber, is hulle ’n teiken vir roofvisse en -voëls. Sodra dié skool dan deur die gevaar opgemerk word, ontaard dit in ’n waansinnige verslinding.

The Stone House (Foto: LekkeSlaap)

As jy so na as moontlik aan dié reuse-gebeurtenis wil wees, kan jy jou paddavoete aantrek en ’n opwindend snorkelsessie aanpak. Gesoute skubaduikers sal ook met fassinerende jagtogte beloon word soos stompneuswalvisse, dolfyne, robbe en haaie hulle trommeldik aan die hulpelose sardientjies vreet. Dié vissies word ook vanuit die lug deur gulsige Kaapse malgasse gejag wat soos vegvliegtuie op die water neerdaal.

Nie almal wil dit egter só naby waag nie en daarom kan jy ook dié raserny van ’n boot af of op die strand dophou.

11. Wynproe

MolenVliet Wine & Guest Estate (Foto: LekkeSlaap)

 

Suid-Afrika se wynboubedryf is wêreldklas en sluit die Kaapse Wynlande, Boland en die R62-wynroete in. Die skilderagtige Stellenboschberge en Breederiviervallei sal jou stellig ook in vervoering laat. Dis waarom ’n wynproesessie op ’n spogwynplaas ’n goeie verskoning is om jou huis op ’n wintersdag te verlaat. Wynproe kan ook met verskeie ander lekkernye gekombineer word, soos sjokolade, kaas en olywe ─ kliek gerus hier om meer oor dié unieke proe-ervarings te lees. Hier is ook vyf Robertson-wynplase waar jy heerlik aan topwyn kan teug.

 

Wagon Wheel Country Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Boonop is min dinge so gesellig soos ’n glas goeie rooiwyn voor ’n knetterende kaggelvuur. So, nooi jou vriende op ’n wintersaand oor om ’n glasie rooi, port of sjerrie te geniet en laat die koue kwyn!

12. Warmwaterbronne

Gooderson Natal Spa Hot Springs & Leisure Resort (Foto: LekkeSlaap)

Al kan jy dwarsdeur die jaar ’n draai by ’n warmwaterbron maak, is dit ekstra lekker om dit op ’n ysige wintersdag te doen. As jy ook al afgemat is ná die jaar se eerste helfte, sal die stoom wat uit die water opstyg ’n kalmerende uitwerking op jou gespanne gemoed hê. Daar is sommer ’n hele spul warmwaterbronne regoor Suid-Afrika waar jy kan ontspan en jou kragte herwin.

ATKV Goudini Spa (Foto: LekkeSlaap)

Die ATKV Goudini Spa in Rawsonville is ’n immergewilde warmwaterbron tussen die beeldskone Bolandse berge. Hiér kan jy in die warmswembad baai, terwyl die jongspan uitbundig op die waterwurm gly. Mpumalanga se Badplaas – A Forever Resort is ook ’n opwindende gesinsbestemming waar jy al jou sorge in die terapeutiese mineraalbaddens kan agterlaat. Verfbal, stampkarretjies en die adrenalienbelaaide Rinkhals-snelstroom sal die jongelinge ook ure besighou. Ander warmwaterbronne sluit A Forever Resort in Limpopo, Warmwaterberg Spa tussen Barrydale en Ladismith, en Gooderson Natal Spa Hot Springs & Leisure Resort in. So, kies ’n warmwaterbron, kliek op die skakels hierbo en laat jou pamperlangsessie begin!

13. Winterkos

Sedgefield Arms (Foto: LekkeSlaap)

Soms is ’n dik jas en wolmus nie genoeg om daardie laaste bietjie koue uit jou lyf te verdryf nie. Dis dan wanneer sop, ’n geurige bredie en gebakte poeding die enigste medisyne teen yskoue winterweer is. ’n Gesellige kombuiskuiertjie met ’n beker Milo in die hand terwyl die kospotte prut, is ook altyd ’n wenner. Daarom het ons ’n handjievol resepte gekies wat jou uit die winter se kloue sal red, so kliek gerus hier as jy ook hartskos teen die winterkoue wil maak.

14. Sterrekyk

Brinksfontein Guest House (Foto: LekkeSlaap)

As die reënwolke om Tafelberg kom hang of ’n donderstorm in die Goudstad woed, kan jy maar van sterrekyk vergeet. Maar al lê die ryp dik oor die veld en al is daar sneeu op die Roggeveldberge, sal oneindig baie sterre steeds in Sutherland knipoog. Dié Karoodorpie is ons land se sterrekykmekka en winter is die beste tyd om hier na die Melkweg te kom loer omdat die naglug dan op sy helderste is. Onthou egter om baie warm aan te trek ─ ’n wintersnag in die Karoo is nie vir sissies nie!

Blesfontein Guest Farm (Foto: LekkeSlaap)

Sterland Boerdery bied sterrekyklesings snags vanaf 20:00 waartydens jy meer oor die hemelruim te wete kan kom en ook self deur ’n teleskoop na die blink liggies kan loer. Jy word dalk selfs met ’n verskietende ster verras. Jy kan ook die Suider-Afrikaanse Groot Teleskoop (SALT), die grootste teleskoop in die Suidelike Halfrond, net buite Sutherland besoek. Hiér kyk jy egter nie deur ’n teleskoop nie, maar opgroot monitors waarop die sterre en planete weerspieël word.

As jy ook in Sutherland na die sterrehemel wil staar, kliek gerus hier vir meer inligting.

15. Leesvakansie

Angala Boutique Hotel and Guest House (Foto: LekkeSlaap)

As die winterkoue nader kruip en jy net snoesig onder ’n kombers wil lê, is dit hoogtyd om ’n klompie boeke op jou leeslys af te merk! As dit boonop paddas en platannas reën, is daar niks beter as ’n boeiende roman of ’n spannende speurverhaal om jou van die koue te laat vergeet nie. Niemand het egter gesê jy mag nét by die huis met jou neus in ’n boek sit nie. So, kliek gerus hier om ’n welverdiende wegbreekplek met ’n biblioteek te bespreek en maak dié wintervakansie ’n leesvakansie!

Nou het jy geen rede om dié winter te bibber en beef of met Jan Tuisbly se karretjie te ry nie. So, besluit waarheen jy wil gaan, wat jy daar wil doen en laat die wiele rol!

* Hoewel daar tans ’n baie groot droogte in die Wes-Kaap heers, het dit gelukkig die afgelope paar weke begin reën en hou ons duim vas dat daar dié winter sommer nog baie reën sal val.

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Karli Dürr.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.