ʼn Nag in die museumhuis

Foto: Carina Stander

Blouape hol oor die grondpad. Die wilde kamferfoelie blom in oranjerooi trosse. Swaeltjies swiep-swiep deur die riete. Bosluisvoëls rus op die rûe van beeste. Pa Sarel, die afgetrede Bosveldboer, beduie na ʼn springdip, die geil gras en blinkvet Brahmankudde: “Hier kan ʼn man mos na hartelus boer!” sê hy en fluit saggies deur sy tande.

Ons reis deur die vleilandgebied van die Tuinroete. Saam in die kar is my bejaarde ouers wat by ons kuier, my man en ons twee laerskoolseuns. By Wolwerivier draai ons af en volg die plaaspad tot by Swartvlei Equestrian Estate. Naomi Janse van Vuuren is aan die stuur van dié besonderse gasteplaas. Sy is ʼn plaaskind uit die geweste van Noordwes en só warm en verwelkomend, dat ons sommer dadelik tuis voel.

Langs ʼn stokou peerboom staan ʼn pragstuk van ʼn kliphuis, ʼn statige madame genaamd die Manor House. Dié herehuis waar ons die naweek gaan vertoef, spog met ʼn datum bo die voordeur: 1883! Reg rondom is ʼn breë stoep met kuierbankies. Sommer met die intrapslag raak ons smoorverlief op al die antieke mooigoed wat duidelik met sorg uitgesoek is om die atmosfeer van ʼn museumhuis te skep. So is daar in die eetkamer ʼn traporrel, trekklavier en Statebybel, asook twaalf riempiestoele rondom die geelhouttafel. Die kombuis het ʼn botterkarring, koringstamper en ander oudwêreldse toerusting, maar ook die nuutste yskas, koffiemasjien en oond. In ʼn ander vertrek is ʼn oopklap-lessenaar met hortjies vir briewe, ʼn telefoon uit ʼn vorige era en ʼn stel outydse gholfstokke. Die plafon is hoog en teen die mure pronk geraamde swart-en-wit foto’s uit toeka se dae: donkiekarre by dosyne, ossewaens op die strand, giggelende tantes met kopdoeke. Op die boonste verdieping is drie ruim slaapkamers, elk met ʼn pootjiesbad met koper krane. Toe die hangkas in die badkamer se deur onverwags oopk-r-a-a-k, vlieg my agtjarige klong tot in my arms en hakkel: “D.. die kas.. het rêrig …vanself..!” Iewers het hy gehoor spoke woon in ou huise. Ek hik van die lag.

Foto: Carina Stander

Oupa en Ouma drink tee met beskuit op die stoep, die seuns bolmakiesie in die swembad en Naomi gaan wys vir my die landgoed. Bo ʼn hoë krans het sy ʼn tafeltjie en twee stoele staangemaak; doer onder kronkel die Wolwerivier; bome tuimel teen die berghange. Die uitsig is behoorlik bekoorlik. Rotsklimmers kan altesaam twaalf 20 m -25 m-roetes teen dié kranse aandurf.

Daarna stap ons na die stalle en die kamp waar die eienaars se dertien afgetrede resiesperde wei. Die perde is almal op “pensioen”. Die eienaars is groot diereliefhebbers en het die plaas ingerig as ʼn soort eerbetoon aan die perde, ʼn dankie-sê, ʼn manier om vir die lieflike langbeen-diere ʼn rustige oudag te verseker.

Dis beurtkrag en ons braai! Gelukkig is dit lekker braaiweer hier by die groot klipsirkel in die tuin. Die skemer is goud. Engelkleurig. ʼn Visarend sirkel in die lug. Paddatjies tjirpsing in die vlei. Ons grootmense probeer in vol sinne te gesels terwyl die seuns besig is met hulle lawwe mannewales. Of eerder: mallewales!

Foto: Carina Stander

Seweuur die volgende oggend neem Naomi ons almal uit op die wonderwaters. Ons vaar met die rivierboot van Wolwerivier na Swartvlei. Die eende laat skater deur die riete. Kormorante vlieg voor ons uit. Daar sit die visarend op sy stokkerige nes! Die Outeniekwaberge is wasig in die verte. Die water is soos gepoleerde metaal – swart, glad en spieëlblink. Ons loer na die boot se sensor en sien hoe die visse onderdeur swem. Die water is 24°C en op plekke 18 m diep. Toe dit 1,1 m diep is, duik Gerrit en die seuns in. Weer en weer spring hulle, terwyl ons ander Naomi se skons eet en die fles moerkoffie skink wat sy saamgebring het.

Terug op vaste grond, ná ʼn hartlike ontbyt van jogurt, worsies, spek en eiers langs die swembad, vat ons ʼn ruskans voordat ons die volgende avontuur aanpak.

Die Outeniqua Power Van vertrek vanaf die Spoorwegmuseum in George. Die oorspronklike roete het deur legendariese bergpasse en tonnels gekronkel, maar die spore is verlede jaar erg beskadig – nou loop die treintjie net tot by Glentana-stasie. Toergids Lorraine Kolarich is uitstekend tweetalig. Sy wys vir ons die boerderye, plaasskooltjie, tronk en begraafplaas uit. “Daardie huisie het lank terug aan ʼn Stander behoort,” beduie sy na ʼn krotjie langs die spoor. Die twee uur lange retoerrit voel heelwat langer. Hoe ry die boere sit-sit-so verby bosbaaivygies, kandelaarblomme, heide, aalwyne, kannas en die daggaplante in iemand se agtertuin! Tarentale vlieg voor die treintjie en ʼn blouaap laat spaander oor die spoor. Vanaf die brug kyk ons na die kolkgate in die rivier – dit, en die Outeniekwaberge op die agtergrond, is wat mens bybly.

Foto: Carina Stander

Laatmiddag terug op die plaas, vat Naomi ons berg-op om na die Nguni-beeste te gaan kyk. Sy en Pa praat dik stukke oor aangeplante weiding. Die uitsig van hier bo is wyd, tot by die Indiese Oseaan!

Die aand eet ons worsbroodjies en druiwe op die stoep. Dis ons laaste ete voordat my ouers môreoggend weer noord vlieg. Ons elfjarige seunskind klim tussen sy ouma en oupa in die kooi en lees ʼn storieboek, terwyl my ma Truiki die laaste bladsye van my roman wat later vanjaar verskyn, lees. Want enige tyd – maar veral as jou Oupa en Ouma tagtig-plus jaar oud is en al voorheen met terminale toestande gediagnoseer is – tel jy die ure soos kosbare vuurkole in ʼn kruik. Hoe spesiaal om herinneringe te versamel op ʼn plaas langs ʼn vlei, in ʼn museumagtige kliphuis wat presies so oud soos Ouma, haar dogter en haar kleinseun sáám is!

REISRAAD

Vind rus vir jou siel. Tussen George en Knysna en slegs 15 km vanaf Sedgefield, is Swartvlei Equestrian Estate – ʼn gasteplaas waar jy kan wegkruip vir die geharwar van die wêreld. Die landgoed is 1 200 hektaar en daar is oorgenoeg om jou mee besig te hou: ʼn dosyn rotsklimroetes, visvangdamme, roei op die meer, voëlkyk, ʼn pizza-oond, swembad, tennisbaan en snoekertafel. Of geniet die mooie omgewing en trop perde sommer vanaf jou stoep! Die vyf selfsorg kothuisies en historiese herehuis sorg vir onvergeetlike verblyf. Webwerf: https://www.swartvleiee.co.za/ Skakel Naomi Janse van Vuuren: 078 676 0461. E-pos: [email protected]

Die Outeniqua Power Van vertrek vanaf die Spoorwegmuseum in George. Skakel 082 490 5627 of 044 801 8239. E-pos: [email protected]

Wild Oats boeremark word op Saterdagoggende bedryf. Daar vind jy allerlei soorte, van rasegte boeremense wat koeksisters en vryloopvleis verkwansel tot Europese kaasmakers. Verlustig jou aan die kleure en geure, kraakvars groente en feestelikheid. Webwerf: www.wildoatsmarket.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

3 Kommentare

Adriaan ·

Het die artikel gelees, dis vars en die taalgebruik uitstekend!, dit lees soos n storie boek.
Voel of ek al daar was, dit is hoe mens skryf.
Jip!
Carina jy verdien my respek.
Adriaan

Carina Stander ·

Aangename kennis, Adriaan. Dankie dat jy die storie gelees en geniet het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.