ʼn Ontmoeting met Michael Jackson

michael-jackson-china-01

Die medikasie bevat baie kruie. In Sjina kan ‘n mens skedule ses medisyne soos slaappille en antibiotika oor die apteektoonbank koop. Foto: Verskaf.

Michael Jackson is siek.

ʼn Vreemde longinfeksie wat hom verskriklik laat hoes, sệ hy. Dit is Donderdag, laatmiddag en dié twee van ons sit in die hospitaal se wagkamer. Tsjengdoe se vreemde kieme het my longe ook aangestas en na bykans twee weke se gehoes-en-proes, het my werkgewer aanbeveel ek moet eerder die dokter besoek, want ek kan nie my “kieme” op die arme studente loslaat nie.

Michael Jackson hoes. So ʼn geroggel wat uit sy borskas skeur. Ek hoes saam. Ons kyk na mekaar en giggel soos twee stout kinders wat dit waag om die “heilige” atmosfeer van ʼn hospitaal te versteur…

Michael Jackson het blonde hare (gekleur), ʼn baie ligte vel en groen-bruin oë. Die produk van ʼn Sweedse ma en ʼn Chinese pa, verduidelik hy. Michael Jackson is sy Engelse naam. Sy Chinese naam is heeltemal te moeilik om uit te spreek. Hy is mal oor Michael Jackson en hy kan die “maanloop” beter as die regte Michael Jackson doen, spog hy.

michael-jackson-china-03

‘n Apteker agter die toonbank. Foto: Verskaf.

Hy praat ʼn Donald Duck-Engels. By sy Amerikaanse-onderwyser geleer. Sy ouers wou gehad het hy moes aan ʼn Amerikaanse universiteit studeer, maar toe slaag hy nie die Engelse eksamen nie en nou is hy ʼn tweedejaarstudent aan die Tsjengdoe Universiteit van Wetenskap en Tegnologie. Hy haat China. Hy haat die kommuniste. Hy haat die min geld wat selfs ingenieurs in sy land verdien.

Ek het Michael Jackson drie uur vroeër in die gange van die hospitaal raakgeloop. Ek het soos ʼn kat op ʼn warm sinkplaat rondgeskarrel, want niemand in die hospitaal praat Engels nie. In Tsjengdoe is daar bykans geen private dokters nie – hulle is vir die elite beskore. Die meeste dokters werk by die staathospitale en met bykans 10 miljoen mense, is daar bykans 4 000 hospitale in die stad. Ek het by die Militêre Hospitaal uitgekom. Die naam het niks met die weer- of lugmag te doen nie. Dit is maar net ʼn baie swak vertaling. Die hospitaal is ʼn vlak 1-staatshospitaal (wat in Suid-Afrikaanse terme beteken dit is soortgelyk aan ons Netcare-hospitale). Eers moes ek ʼn mediese kaart kry, want aangesien ek belasting betaal (ja, ons onderwysers betaal belasting) word ek ook deur die staat gesubsidieer. Michael Jackson het my gehelp om die kaart te kry.

michael-jackson-china-02

Tsjengdoe het ‘n magdom apteke. Dit lyk meer soos ‘n negosiewinkel as ‘n apteek. Foto: Verskaf.

Daarna beweeg ons na die tweede vloer. Ek is nommer 18 op die waglys en Michael Jackson nommer 19. Oorkant ons sit ʼn ou oom en rook (Chinese rook tot in die hospitale). Sy vel soos gelooide leer. Sy mond ʼn klein, uitgedroogde pruim, waaruit die rook borrel. “Ons het ook swak hospitale. Dit is die vlak 4-hospitale. Die diens is sleg en almal kla,” probeer Michael Jackson die gesondheidstelsel verduidelik. “By die vlak 1-hospitale moet jy betaal, maar nie baie nie. By die swakker hospitale hoef jy nie te betaal nie. Dit is vir die arm mense. Hoe armer jy is, hoe swakker is die gesondheidsorg,” sê hy. “Die meeste dokters glo ook nie aan Westerse medikasie nie. Jou medisyne gaan baie kruie bevat. Hier is universiteite wat dokters in tradisionele genesing oplei.” Klink vir my baie soos ons tradisionele sangomas, dink ek in my enigheid.

Die suster roep ʼn nommer uit. Dit is jy, sệ Michael Jackson. Hy stap saam met my die spreekkamer binne, om te vertaal, want die vet dokter, wat nogal soos ʼn brulpadda in ʼn plaasdam lyk, praat nie ʼn woord Engels nie. Die spreekkamer is klein en die dokter se lessenaar oorvol. Oorkant sy lessenaar sit die suster. Sy regterhand, verduidelik Michael Jackson. Elke dokter het sy eie verpleegsuster. Michael Jackson verduidelik my simptome. Die dokter luister na my hartklop en bloos tamatiesous toe hy per ongeluk aan my bors raak. “Jou borste is te groot,” lag Michael Jackson in my oor. “Die Chinese vroue is maar klein bolangs. Die arme dokter het hom dood geskrik.” Op na die derde vloer vir bloedtoetse. Daar is sowat tien hokkies. Ek moet voor ʼn venster gaan sit. ʼn Suster prik my vinger en oorhandig ʼn kaartjie. “Jy moet 20 minute wag en daarna moet jy na daardie masjien toe stap en jou kaart skandeer,” verduidelik Michael Jackson.

Na twintig minute kry ek my uitslae – weer af na die spreekkamer. Die dokter, sy neus groot onder die ronderaam-bril, lees my uitslae en skud sy kop. “Is ek besig om dood te gaan,” wonder ek benoud. “Nee, lag Michael Jackson, jy het ʼn longinfeksie.” Jy moet twee dae rus, skryf die dokter in ʼn slordige handskrif.

Weer af na die grondvloer. Ek en Michael Jackson om ons medisyne te kry. Ek kry drie pakkies medikasie. Die eerste pille lyk soos Springbokmis. Die tweede sakkie bevat bruistablette, wat soos vrot vis proe en die derde pakkie bevat groen pilletjies. My medikasie en die dokterskonsultasie het my sowat 20 joehan (R40) gekos.

“Nou ja,” sệ Michael Jackson, “ek moet gaan.”

Net voordat hy by die hospitaaldeure uitstap, trek hy los met Thriller van Michael Jackson. Net daar voor al die siek mense. En hy “maanloop” by die deur uit.

Dit was Michael Jackson… en ek sal hom seker nooit weer sien nie.

Meer oor die skrywer: Yolanda Barnard

Yolanda Barnard woon en werk in Tsjengdoe, China, en skryf weekliks vir Maroela Media oor haar wedervaringe in dié land.

Deel van: Reis, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Louis Prinsloo ·

Mooi vertel, Maanloop/Leeuloop almal het ‘n spog loop

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.