ʼn Pelgrim in Assisi

 Assisi_Uitsig_Annelize-Brits.jpg

Uitsig oor Assisi (foto: Annelize Brits)

In Oktober 2015, tydens een van daardie laagtepunt-oomblikke van ʼn ma met drie seuns, voltydse werk en die gevoel dat een bal ná die ander aarde toe tuimel, lees ek per toeval op Facebook van “In die voetspore van Francis – ʼn Pelgrimstog na Assisi, Italië”. Op die ingewing van die oomblik besluit ek dit is wat ek moet doen. Tot my wederhelf se verbasing, is my plekkie binne ʼn paar uur saam met 15 ander (toe vir my vreemdelinge) verseker. En so wag ek ʼn jaar lank vir my pelgrimstog om aan te breek.

St. Franciskus van Assisi. Ek het nog nooit regtig aandag geskenk aan die man, nog minder geweet presies waar Assisi op die kaart is nie. Soos wat ek toe nou later sou uitvind, in ʼn neutedop, St. Franciskus inspireer nog ná 800 jaar gelowiges van oor die wêreld met sy radikale gehoorsaamheid aan God. Sy doel was om Jesus se hande en voete hier op aarde te wees.

Assisi_Rome_Uitsig_Annelize-Brits.jpg

Uitsig oor Rome (foto: Annelize Brits)

Eerste stop, Rome. Die ou stad. Die mooi stad. Oral uitgrawings. Ons bly in ʼn klooster, Casa Santa Lucia Filippini (bespreek deur Monastery Stays). Nie net is alles silwerskoon en netjies nie, maar ook in die hartjie van die bekendste besienswaardighede. Vir ʼn dag en ʼn half is ons net toeriste. Almal slaan verskillende rigtings in en daar word gestap, van die Pantheon, Trevifontein, Colosseum, die Forum tot by St. Peter’s Basilica geleë in die Vatikaanstaat. Hoewel alles oud en soms verrinneweer lyk, is dit mooi. Die verlede word opgepas, onderhou en gekoester met passie. Wat my opgeval het, is dat die Italiaanse vroue besonder mooi en goed versorg is. Dit lyk asof die meeste van hulle uit die Italiaanse Vogue gestap het, maak nie saak hoe informeel hulle geklee is nie. Met hulle hoë hakke en rooi lippe, ry hulle Rome plat met fietse, bromponies en klein motortjies.

Elke ete van Rome, Assisi tot in Florence, was uitsonderlik. Hulle kos is net op ʼn ander vlak. Vars, smaaklik en met soveel passie voorgesit. Selfs die etes wat ons self voorberei het, was heerlik.

Ná ʼn dag en ʼn half in Rome, vertrek ons die Maandagoggend douvoordag met die trein Assisi toe.  Die opgewondenheid en afwagting is tasbaar. Toevallig (hoewel ek nie aan toeval glo nie) reis daar ʼn Franciskaan, Broer Alfred, saam met ons. Hy is op pad Assisi toe om vir vriende te gaan kuier. Hy onderneem om ons op ʼn begeleide toer te neem deur die Basilica de St. Francis. Dit was toe ook so en wat ʼn absolute belewenis.

Assisi_Le-Colombe_Annelize-Brits-Copy.jpg

Le Colombe, ons tuiste in Assisi (foto: Annelize Brits)

Vir die volgende vyf dae is Le Colombe ons tuiste. Op ʼn koppie, wat uitkyk oor Perugia, word ons omring deur die mooiste olyfbome en asemrowende natuurskoon. Dit is prentjiemooi! Dit is hier waar my pelgrimstog begin het.

Assisi is mooi. Poskaartmooi. Dit is vir my nou nog ondenkbaar om te dink dat daar mense in so ʼn dorpie kan bly (en daar is ʼn hele paar sulke dorpies in Italië). Die nou klipstraatjies, vensterbanke getooi met die kleurvolste blomme, kruietuintjies voor die voordeure, en so kan ek aangaan.

Die hoogtepunt vir my persoonlik was San Damiano. ʼn Stofpad het ons gelei na die plek waar St. Franciskus sy roeping ontvang het. Soos ons nader gekom het, het almal net begin stil raak. God se teenwoordigheid was tasbaar. Ons het ook daardie aand ʼn diens daar bygewoon. Die eenvoud van die kerk was opvallend. Alles in Italiaans, maar wat so ongelooflik was, is dat ons, in die gees, tog alles kon verstaan. Die trane het vlak gelê toe almal begin sing en dit is die bekende “Here I am to worship” in Italiaans wat ons sing. Dit was een van die plekke waar ek net wou bly. Net nog ʼn rukkie.

Die ander hoogtepunt was Eremo delle Carceri. Dit was hier waar St. Franciskus in die vroeë 1200’s hom kom afsonder het in die grotte in die omgewing om te bid. Die natuurskoon is asemrowend mooi … Daar het ons in stilte rondbeweeg, elkeen met sy eie gedagtes. Die stilte was tasbaar en ek kon vir ʼn paar uur net wees. In ʼn stadium is die stilte verbreek deur ʼn groep Duitse skoolkinders wat iewers in die bos die mooiste geestelike liedere gesing het.

Hoogtepunte in Assisi en omgewing, om maar net ʼn paar te noem, is Piazza del Comune, Francesco Piccolino, San Rufino, Santa Chiara, Basilica of Saint Mary en Santuario di Rivotorto. Ons het ook Quaint Greccio besoek waar St. Franciskus die eerste Kersopvoering uitgebeeld het sodat die armes ook die boodskap van Jesus se geboorte kon verstaan.

 Assisi_Florence_plein_Annelize-Brits.jpg

Piazza Santa Croce, Florence (foto: Annelize Brits)

Teen die Vrydag was ons vir die dag Florence toe, Pinocchio se geboortedorp. Vir my was Florence net een te veel. Die strate was gevul met honderde toeriste, motors, bromponies en winkels. Ek wou stilte om my hê. Ek en Janet, die beste reismaat ooit, het besluit om ʼn stil straatjie te gaan vind waar ons vir ʼn baie lang ruk net kon sit en gesels oor die lewe, die liefde, huis toe verlang na ons geliefdes … Ek sal moet teruggaan Florence toe as toeris. Dit was daardie dag te moeilik om van pelgrim oor te skakel na toeris.

Ons het gelag, geëet, Italiaanse wyn gedrink, maar, die belangrikste, ons het ook stil geraak, elkeen op sy eie, sy eie pas, sy eie manier. Daar is nog baie wat ek moet verteer. Wat ek wel weet, ek het weer geleer hoe belangrik dit is om stil te raak, stil te raak binne myself, om weer my Abba Vader se stem te hoor…

“Lord, make me an instrument of thy peace.
Where there is hatred let me sow love,
Where there is injury … pardon;
Where there is doubt … faith;
Where there is despair … hope;
Where there is darkness … light;
And where there is sadness … joy.
O Divine Master, grant that I may not so much seek
to be consoled as to console,
to be understood as to understand,
to be loved, as to love.
For it is in giving that we receive,
It is in pardoning that we are pardoned,
and it is in dying that we are born to eternal life.”
― St Francis of Assisi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Susan Pieterse ·

ń Pelgrim na Assisi – wat ń besondere “hartsartikel” Baie dankie vir die deel en verwoord van hierdie besondere ervaring.

Rene ·

Voel dit nie net of mens in tyd verdwaal as jy in daardie stege rondswerf nie?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.