ʼn Stad met ʼn landelike hart

Redberry Farm Foto: Carina Stander

Klim jy uit die vliegtuig by George, lê die Indiese Oseaan suid en die onherbergsame Outeniekwaberge noord. Verbeel jy jou, of is dit bekende plaasreuke wat hier by die lughawe na jou aanwaai? “Is George régtig ‘n stad?” wil een van die kinders weet. ‘n Hartverwarmende vraag, want ten spyte van stedelike uitbreidings, het George genadiglik nie sy boerdery-wortels begrawe nie. Met die wye Klein Karoo aan die een kant en die kuswoude van die Tuinroete aan die ander, is George ‘n unieke bestemming. Maar hoe gemaak as jy, soos ons gesin, net 48 uur het om onder die vel van dié plek in te klim voor jy weer ‘n ander koers moet inslaan? Hier is ‘n paar gunsteling-gesinservarings in George – en glad nie teen ‘n plaas se prys nie!

Outeniekwa Spoorwegmuseum Foto: Carina Stander

Outeniekwa Spoorwegmuseum beeld die geskiedenis van Transnetvervoer uit van die “ystervroue van die spoorweg”, soos toeka se stoomtreine genoem is, tot ‘n koetsagtige houtlokomotief, ‘n outydse brandweerwa en ‘n luukse trein wat president Paul Kruger se naam dra. Hier is ‘n verstommende versameling veteraanmotors, meeste in toptoestand en in privaat besit. (Terwyl ons daar was, het ‘n bejaarde oompie juis sy ewe bejaarde Morris Minor vir ‘n spin deur die stad kom vat!) Die wonderlikste verrassing van die museum is egter die modeltreinstelsel, die grootste in die Suidelike Halfrond! Ons het ons verkyk aan ‘n slimme grysaard wat dan dié, dan dáárdie treintjie laat fluit deur tonnels, bo-oor brûe en berge van die Alpe tot die Tsitsikamma, kompleet met mense en diere en pragtige geboue langs die treinroete. Besoek die Spoorwegmuseum by Missionweg 2, Maandag tot Vrydag 08:00 – 16:30. Saterdag 08:00 – 14:00. R20 pp, R10 vir kinders, gratis vir voorskolers. Moenie die modeltreintjies misloop nie, dit loop net Woensdae en Saterdae van 10:00 -12:00. Skakel 044 8018 289/274 of stuur ʼn e-pos aan [email protected]

Arendsrus Foto: Carina Stander

Aan die voetheuwels van die Outeniekwaberge is ArendsRus Country Lodge met sy ses selfsorg-houthuise, ideaal vir gesinne of vir ‘n romantiese wegbreek. Sonder dat ‘n siel jou sien, kan jy in jou pajamas koffie drink op jou eie balkon met ‘n uitsig oor die vallei en die lappieskombers van boerderye in die verte – dis nou behalwe vir blouapies wat nuuskierig vanuit die takke vir jou loer! Byna alles in die huisies is van hout – die mure, vloere, deure en antieke klerekaste. Dis uitstekend toegerus met ‘n kombuis, sitkamer, badkamers en goeie linne. Die hoë spitsplafonne laat dit ruim en lig voel. ArendsRus nooi mens om die tuin te geniet en ons maak graag so. Die seuns hardloop deur die roostuin en onder die teergroen akkerbome. Hier is bromelias, boomvarings, fontyntjies, ‘n swembad, koivisse, twee dierbare katte en volop vrede. Bybelverse is in klip gebeitel in die tuin. Vanaf die tuinbankies is uitsigte oor die berge en damme vol waterlelies in die verte. Met ontbyt is die porsies vrygewig – sterk moerkoffie, kaaswors, omelette, vars vrugte – en Afrikaanse radio speel op die agtergrond. Ná ontbyt stap ons ‘n paar kilometer in die misreën. ‘n Trop spogperde galop oor ons pad en bergfietsryers woerts verby. Die gebied stoei om uitheemse indringerplante te beheer, maar waar hulle daarin slaag, floreer die fynbos met proteas en heide – “taai plakblommetjies”, noem my tienjarige seunskind dit. Ons sewejarige rakker verkyk hom aan die spinnewebbe vol doudruppels: “Kyk, die spinnekoppe se mooiste, mooiste kuns!” roep hy.

Die Joubert-familie het die deure van ArendsRus op 1 Maart 2013 oopgemaak en vandag, skaars vyf jaar later, is hulle reeds drie keer aangewys as die landswye wenner vir gehalte driester-selfsorgverblyf teen ‘n billike prys. Die leuse op die webwerf is met goeie rede “Lekker rus is by ArendsRus”. ArendsRus is slegs 15 minute se ry vanaf George-lughawe. As jy lus is vir ‘n tikkie ouwêreldse plaassjarme, gesels met die gawe Alet of Lu-Mari by 044 050 0256 of stuur ʼn e-pos aan [email protected]. Besoek die webwerf: www.arendsrus.co.za

Redberry Farm Foto: Carina Stander

Net tien minute se ry vanaf ArendsRus is Redberry Farm. Die baas van dié plaas, Mark Miller, boer nes sy pa en oupa voor hom. Mark se passie is om “te hoor hoe die plante praat”. Deur na die bloeisels te kyk, wéét hy wat die plante nodig het. Blykbaar is Mark ‘n goeie plantluisteraar, want jaarliks word hier meer as 400 ton aarbeie geoes – en jy is welkom om saam te pluk. Ons soek die rooistes en mooistes uit en vul die gaatjies in ons bakkies met klein, ryp vruggies. Ditsem, goeie waarde vir R20! Nadat ons ons oes vir die dag verorber het (het jy geweet agt aarbeie het meer vitamine C as ‘n lemoen?) is ons gereed om die grootste heiningdoolhof in die Suidelike Halfrond aan te durf! Dié doolhof bestaan uit 30 000 syzygium paniculatum wat gesnoei is om 10 km se dwaalpaadjies te vorm. Die uitdaging is nie om die uitgang te vind nie, maar die sewe versteekte stasies. Vergeet van kortpaaie! Ek was baie verlig dat dit ‘n bewolkte dag was, want hier kan jy uitbraai, daarom is ‘n bottel drinkwater, sonskerm en ‘n hoed ‘n moet. Ons gesin het in spanne opgedeel (ons oudste saam met my en ons jongste saam met Gerrit) en ná 40 minute se geskarrel, was ons kant en klaar! “This maze is amazing,” het Gerrit gegrap. Die doolhof is R40 pp. Maandag tot Saterdag, 09:00 – 16:00. Skakel: 044 870 7123. Besoek die webwerf: http://www.redberryfarm.co.za/

As mens net aarbeie vir middagete gehad het, begin die hongerte teen skemer knaag. 101 Meade bied ‘n voorste eet-ervaring! Hulle kosfilosofie is “seasonal, simple, social”. Die kunstige atmosfeer is te danke aan die skilderye en beeldhouwerke wat te koop is en gereeld gewissel word. Ben en Jeremy, die “happy” sjefs, was albei plaasseuns met ‘n passie vir die natuur en het in restaurante reg oor Europa gewerk. Nadat Ben sy plase in Natal verkoop het, het hy na George verhuis vir die skoonheid van die landskap en die oorvloed van vars plaaslike produkte in die omgewing met die Tuinroete op die voorstoep en die Klein Karoo op die agterstoep.

Restaurant Foto: Carina Stander

Hierdie twee kostowenaars weet hoe om kreatief met kos om te gaan! Waar in die lewe het jy al klipgemaalde borrie- en paprikabrood geproe, bedien met gegeurde plaasbotter? Behalwe vir ‘n vinnige melkskommel hier en daar, kom ons seuns byna nooit in eetplekke nie, want ons spaar eerder vir ‘n een-keer-per-kwartaal se werklik voortreflike kosbelewenis. En glo my, hulle smúl aan die diepgebraaide camembert met swartkersies en die gerookte salm. Die paella-voorgereg met mossels, garnale en calamari is só ‘n ruim porsie, dit kan net sowel ‘n volledige ete wees. Ons gesin peusel altyd saam-saam en deel alles wat ons bestel in vier, sodat ons ‘n wyer verskeidenheid kan ervaar – van die rypgemaakte beesfilet met eksotiese sampioene en kraakvars aspersies tot die koedoefillet gerooster in eendvet met blomkool, reënboogwortels en rooi-uie-marmelade. Alles afgerond met sjokolade fondant, warm uit die oond, roomys en heuningkoek. Ná die peertert lê ons jongste knapie op die rusbank in die restaurant met sy kop op my skoot en vat ‘n kragslapie terwyl ons ander voortkuier. Die gemoedelikheid van die sjefs spoel beslis oor na die restaurantbestuurder met die skitter-oë, die kelners, kelnerinne en selfs die gaste – almal voel rustig en gefokus op die kosavontuur. 101 Meade se deure is daagliks oop vir ontbyt, middagete en aandete. Skakel 044 874 0343 of stuur ʼn e-pos aan [email protected]. Besoek die webwerf: www.101meade.co.za

Die volgende oggend maak ons ‘n draai by die Botaniese Tuin in Caledonstraat 49. Die tuin is oop van 07:00 – 19:00. Toegang is R10, kinders onder 12 is gratis. ‘n Dam vol waterlelies en vinkneste. ‘n Voëlkykhut. Bankies met mosaïekteëls. Inheemse bome en blomme. En die berge. Altyd, altyd die Outeniekwaberge van George.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik van George ·

Dis mos my dorp daai! Al werk ek in die buiteland, trek my hart se punt soontoe….

Sam ·

Ja, ons is geseënd om hierdie stukkie van Eden ons tuiste te noem … ek lê lekker laat op ‘n Saterdag oggend in my bed, kamerdeure oop en drink in die prag van die Outeniquas, voëlgesang en groen natuurskoon.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.