Namakwaland lewer veldblomskouspel

Namakwaland-veldblomskouspel-01

Vanjaar se Namakwaland veldbomskouspel langs die kus. Foto: Parkeraad.

Ludwig Visser

Mense wat vanjaar weer van heinde en ver Namakwaland toe gery het om na die jaarlikse veldblomskouspel te gaan kyk, was glad nie teleurgestel nie, mits hulle tyd gehad het om so ’n dag of twee, drie daar te vertoef.

Die rede vir die nodige ekstra vertoeftyd was omdat die weer sulke vreemde kinkels uitgehaal het. Ná die aanvanklike goeie reën wat die veld pragtig laat blom het, was feitlik die hele Namakwaland ’n hele ruk lank elk dag feitlik toe onder ’n digte mislaag. En as dit so toegetrek is, is daar geen sprake van blomme kyk nie, want dan is die blomme almal toe.

Dus, iemand wat so ’n bietjie langer hier kon vertoef om die mis as ’t ware te uitoorlê, het mooi blomme gesien.

Danksy die goeie reën was die blomtyd vanjaar heelwat langer as gewoonlik. As die somer egter nou toeslaan, sal die blomme gou begin swaarkry, want die hele gebied se reënvalsyfer was eintlik heelwat laer as gewoonlik.

Namakwalanders is afhanklik van die Clanwilliam-dam vir hul drinkwater en is veral baie bekommerd omdat die dam nog nie vanjaar oorgeloop het nie. En dit móét gebeur om te verseker dat daar genoeg gebruikswater sal wees vir die lang, warm  somer wat voorlê, veral vir dae wanneer die kwik 44 °C haal.

Daar word nou gewerk daaraan om die damwal aansienlik te verhoog sodat dit baie meer water sal kan hou, maar dit sal nog ʼn hele ruk wees voordat hierdie voordeel ten volle benut sal kan word.

Die Bulshoekdam, ook in die OIifantsrivier, moet ook ’n goeie watervoorraad hê, want iets wat die binnelanders dalk nie besef nie, is dat Namakwaland ’n groot wynproduserende gebied is. Trouens, die grootste wynkelder in die Suidelike Halfrond is in dié streek geleë, en om hierdie goeie naam gestand te doen, is besproeiingswater uit veral hierdie dam noodsaaklik namate die wingerde begin uithaal om hul wyndruiwe-oes te lewer.

  • Dié blomfoto’s is geneem deur amptenare van die Parkeraad in die omgewing van Kamieskroon en Skilpad. Hulle stuur gereeld foto’s saam met ’n verslag oor hoe dit in hul omgewing met die blomme gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

David Meades ·

Baie dankie vir ‘n goeie storie geskryf deur ‘n ou hand. Doet zo voort!

Jean le Roux ·

Mensig maar dit is lekker om ‘n bekende naam raak te lees wat praat oor ‘n wêreld na aan ons hart. Hoop ons sien jou gereeld op Maroela, Ludwig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.