Namakwaland se blomme nie ingeperk deur drade of grense nie

Blomseisoen in Namakwaland (Foto: Mike Spies)

Namakwaland en sy mense berei hulle voor vir die skouspelagtige blommesee wat eersdaags die streek gaan verfraai. Dié groen belofte wink entoesiastiese blommekykers wat reeds met kleurhonger oë na vanjaar se groener velde kyk. Dit is die stilte voor die kleurryke storm.

“Die jaarlikse blommeseisoen is ’n absoluut dinamiese en natuurlike proses,” vertel Mike Spies, blomkenner en gesoute toergids van Namakwa Toere.

“Dit is geensins ʼn boerdery-aktiwiteit nie en word nie bepaal deur besproeiingstelsels en bemesting nie. Daar is ook geen manier dat blomme ingeperk word deur drade of munisipale grense nie. Ook is dit nie net die ‘ware Namakwaland’ wat spog met asemrowende blomtonele nie. Ons by Namakwa Toere hou daarvan om dit eerder ‘Blommeland’ te noem.”

Hy vertel die streek se blommetyd is reeds van begin of middel Julie en soms strek dit tot Oktober. “C. Louis Leipoldt skryf juis van Oktobermaand in die Olifantsrivier- en Sederberge as die mooiste, mooiste maand met viooltjies en die soet geure van blommeprag, maar om veilig en seker te wees, bemark ons ons toere vir begin Augustus tot middel September. Dis nie omdat daar nie blomme gaan wees aan die einde van September nie, maar net vir veiligheid,” sê Spies.

“Ons moet ook in ag neem dat die blommeland nie ʼn plat stuk aarde is nie en verskillende weerpatrone speel ʼn rol. Mens moet ook besef dat die hoërliggende dele soos die Kamiesberg en ook dele van die Olifantsrivier-, Seder- en Piketberge koeler is tot later in die lente en gewoonlik eers van middel September ʼn blomskouspel begin toon. Dit is een kwessie wat min mense, selfs toeriste, nie in ag neem nie. Blomme het hitte en sonskyn nodig.”

Wind is ʼn groot faktor waarna gekyk moet word wanneer die leeftyd van blomtonele in ag geneem word. Warm bergwinde is nie ideaal vir blommekykers nie, maar wel noodsaaklik vir die uitdroging en vrystelling van verskillende blomspesies.

“Namakwaland en blommeland is ʼn spesialisgebied – dis nie ʼn stadstoer waar jy net na ʼn plek ry en na geboue kyk nie. Nee, jy moet die blomme gaan soek. Jy moet bereid wees om honderde kilometers af te lê en te besef dit gaan nie net oor die vlaktes met Namakwalandse daisies nie. Daar is soveel meer. Dit is waar die sêding ‘dis die klein dingetjies wat tel’ boekdele spreek.

“Die natuur is onvoorspelbaar en ook die blomme, maar wat die waarheid is, is dat die blomme móét groei, blom en sade produseer vir die oorlewing van die spesie. Dit is die blomme se een en enigste taak! Blomme sal daar wees,” voeg Spies by.

Besoek Namakwa Toere se webwerf vir meer inligting by www.namakwatoere.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

wonderwerk ·

En is dit nie die grootste wonderwerk nie? Al gaan niemand nie, sal die blomme nog net so mooi wees. Hulle blom maak nie saak wat nie. Kan ons nie ook so wees nie? Al kyk niemand nie, kan ons nie net blom nie

Liezl ·

Ja, verseker. Ons moet blom, Hy het ons geskape, ons stel Hom elke dag teleur omdat ons nie blom nie. Dankie, “wonderwerk” vir die paar woordjies. Kom mense, kom ons blom weer. Kom ons sien ons Hemelse Vader se Handewerk hier om ons, tussen ons. Het ook die naweek opnuut sy absolute kunswerk gesien in die natuur. Blomme was pragtig, van alle kleure en niemand het hulle geplant nie, net Hy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.