Namakwaland se kleurpalet

Foto: Marianne Styan

Foto: Marianne Styan

Onthou die pragtige fotogalery onderaan die berig! Daar is net een plek waar pers, pienk, geel, wit, groen, blou en oranje kan meng en jou nog steeds in verwondering laat staan oor die skoonheid. Dié plek is die natuur.

Meer spesifiek dink ek aan Namakwaland. ‘n Skilderdoek wild gespat deur dié kleure, een keer ‘n jaar. ‘n Uitnodiging vir mense van oral oor die land en wêreld om dié multikleurige palet te kom besoek.

My eerste ontmoeting met die gebied was op ʼn skamele vier jaar. Ek het die voorreg gehad om saam met my ma en grootouers al die pad van Pretoria af te ry. Opgebondel in ‘n ou Datsun het heel moontlik bygedra tot selfs groter vreugde en waardering (as wat dit reeds was) om uit te klim en die blomme te besigtig. Ons roete het geloop deur Springbok af langs die N7. Ons het gery deur Nieuwoudtville, Calvinia, Vanrhynsdorp en Lambertsbaai, tot al die pad verby die Cederbergvallei.

Die mees onlangse keer wat ek die vallei besoek het was gelukkig baie minder ineengedruk en die blomme selfs mooier as wat ek onthou. Dit was duidelik nie die gevoel om uit ‘n beknopte Datsun te kom wat dit die “wow”-faktor gegee het nie.

Ons het besluit om vir ‘n dagbesoek te gaan, aangesien ons nie tyd gehad het om vir ‘n hele naweek te gaan nie. (Ek sal dit sterk aanbeveel om ‘n naweek daarvan te maak indien moontlik. Jy moenie gejaagd voel nie.)

Ons het rondgebel en uitgevind die mooiste blomme naaste aan Kaapstad kan gesien word in die Biedouwvallei, op die grondpad net buite Clanwilliam.

Daar klim ons toe weer op die N7, hierdie keer van die Suide en in ‘n groter kar as die Datsun. Deur Malmesbury vanwaar die geel Canola-velde al in vol-blom staan so ver as die oog kan sien. Maar ons het nie gekom om hulle te sien nie. Ons is op soek na hulle meer kleurvolle susters.

Ons ry deur Moorreesburg, Piketberg en Citrusdal tot ons die klein bordjie sien wat aandui ons moet links afdraai na Clanwilliam.

Hierdie dorpie alleen was vir ons ‘n spesiale en wonderlike juweel om te ontdek. In die skadu van die Cederberg, word hierdie dorpie getransformeer in ‘n miernes van aktiwiteite tydens dié pragtige tyd van die jaar.

Die grootste aantrekkingskrag is verseker die Veldblomskou in die historiese Blommekerk van die dorp. Vanjaar vind die skou van 28 Augustus tot 5 September 2014 plaas.

Dit is die moeite werd om jou tyd te vat om deur die natuurlik ontwerpte landskap-replikas te wandel wat met liefdevolle hande gerangskik is.

Reg langs die kerk is die jaarlikse vlooimark met wonderlike handgemaakte produkte en versnaperinge.

Dit is moeilik om jouself weg te skeur van die vriendelike en sosiale dorpie, maar ons is tog hier om die blomme in hulle natuurlike omgewing te sien.

Ons draai ons kar se neus op die grondpad wat lei na Pakhuis-pas, Biedouwvallei en Wupperthal. So ver het ons hier en daar spatsels blomme langs die pad gesien soos ons ry, maar nou is ons so stomgeslaan deur die oorweldigende kleurvolle oorvloed dat ons elke paar meter wil stop.

Gelukkig het ons aanhou ry want dit raak al beter soos ons verder ry. Daar is egter nie ‘n perfekte plek waar jy moet stop nie. Jy is die kunstenaar of fotograaf in jou eie ateljee en die natuur is jou verhoog.

Ons stop op ‘n plek wat ons dink die mooiste is en neem toe maar die tipiese cliché foto’s waar jy op jou maag tussen die oorvloed van kleurvolle blomme lê… langs die honderde ander mense wat presies dieselfde ding doen.

Na ons ons kamera se geheuekapisitetit tot die maksimum gestrek het moes ons ons pad terugvind huis toe met ‘n swaar hart. Ons het nie dít verwag wat ons vandag hier gekry het nie.

Almal praat altyd van die gasvryheid, warmhartigheid en prag van die Weskus, maar jy moet dit self kom ervaar om die “pay-it-forward”-effek werklik te verstaan.

Wat nog meer opwindend is, is die ontdekking wat hierdie gebied alles het om te bied van selfbedienende en B&B-akkommodasie, stap-, bergfiets- en 4×4-roetes, vlooimarkte, skoue, wyn-en sitrusproduserende plase en ‘n hele paar restaurante en koffiewinkels.

Vind jou pad basies na enige van die dorpies aan die Weskus van begin Augustus tot einde September. Jy sal nie teleurgesteld wees nie.

Hierdie jaar gaan ek verseker weer, want ek hoor die voorspelling is “sonskyn met ‘n groot hoeveelheid kleurvolle blomme”.

Ritsgids:
* Kies en keur tussen die verskeidenheid geleenthede om blomme te sien:
Langebaan Postberg Natuurreservaat maak oop op 1 Augustus 2014 (Tel: 022 772 2144)
Hopefield Fynbosskou: 28 tot 31 Augustus 2014 (Tel: 022 723 1720)
Clanwilliam Blommeskou: 28 Augustus – 5 September 2014 (Tel: 027 482 2024)
Langebaan Feathers, Flowers & Fossil-naweek: Augustus 2014 (Tel: 022 783 0385)
Darling Duckitt Nurseries Orgideëskou: 19 tot 21 September 2014 (Tel: 022 492 2606)
Darling Veldblomskou: 16 tot 18 September 2014 (Tel: 022 492 3361)
Lutzville Landbou & Blommeskou (Tel: 027 217 1314)
Piketberg Landbou & Blommeskou (Tel: 083 560 5631)
Hello Darling-fees (Tel: 022 492 2831)

* Kry vir jou ʼn kaart vir die blomroetes by toerismekantore in verskillende dorpies. Vra ook om meer uit te vind van gidstoere wat beskikbaar is tydens die blomseisoen.

* Algemene kontakbesonderhede: Weskus Toerisme:
Tel.: +27 22 433 8505, E-pos: [email protected], Webwerf: www.capewestcoast.org

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elizabeth ·

@Bob: ai, ek ook! Die natuur is mooier as enige winkelsentrum al is daar die mooiste winkels, pragtigste spuitfonteine en plante, NIKS kom by die natuur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.