Namibië, hartland: “Hier word ‘n mens weer méns”

Die Namibiese landskap.

“Toe ek in 1985 Namibië (toe nog Suidwes-Afrika en sonder grensposte) binnery, het ek nie kon droom dat hierdie land van kontraste so `n gewilde toeristebestemming sou word nie. Met ons eie onafhanklikheid in 1990 was daar baie onsekerheid (en vrese) oor die toekoms, en het baie mense die land verlaat, maar (gelukkig) het baie ook besluit om Namibiërs te word – grappenderwys het ons verwys na Namibi-hane en Namibi-henne!”

Só gesels Stefan Saayman, stasiebestuurder van Kanaal 7, ‘n gemeenskapsradiostasie in Nambië met 33 senders wat luisteraars reg oor dié land met Afrikaanse luistergenot bedien, en wat vanjaar hul 25ste verjaardag vier. Deesdae praat Stefan, ‘n oud-Suid-Afrikaner, van “ons” wanneer hy van Namibiërs praat, want dié land het die afgelope 33 jaar sy vaderland geword.

Dis te verstane, sal enigiemand saamstem wat al deur Namibië of ‘n gedeelte daarvan getoer het. In 2010 het Lonely Planet Namibië geïdentifiseer as die vyfde beste toerismebestemming in die wêreld. Met ‘n bevolking van minder as 5% van Suid-Afrika s’n en ‘n landskap wat sowat 68% van SA s’n uitmaak, is dié land se uitgestrekte landskap, wat strek van horison tot horison, een van sy sterkste verkoopspunte. Meng daarby in `n sonsondergang wat jou sprakeloos laat en gasvryheid wat jou laat verlang na die kuiers op `n Sondagmiddag by jou geliefkoosde Ouma, en jy sit met `n vakansiebestemming wat deur min ander geëwenaar kan word.

“Hier is iets vir elke smaak,” vertel Stefan. “Kom doen ‘n viertrekroete deur die onherbergsame landskap, vang galjoen of tiervis, jag `n stukkie biltong, kamp onder meer sterre as wat jy al ooit gesien het, neem baie slimstokkies vol foto’s, ervaar die majesteuse duine, bevind jouself in die teenwoordigheid van 2 000 jaar oue plante wat baksteenhoogte groei, span uit in die skaduwee van `n granietgewelf wat duiseligwekkend die hoogtes in troon, kry hoendervleis wanneer `n leeu sy koningskap luidkeels langs jou tent verkondig, geniet eerstewêreldse luuksheid in een van baie verblyfplekke, verkyk jou aan die kontraste wat nimmereindigend uitspeel net om jou te vermaak. Trek af langs die grootpad en geniet `n toebroodjie en koppie koffie onder `n kameeldoringboom, verlekker jou in die verskeidenheid kulture wat in harmonie saamleef en werk en speel, in geskiedenis wat met jou praat uit argitektuur. Praat Afrikaans tot jy moeg is. Laat die mense se gasvryheid jou toevou; raak sonder woorde om jou ervaring te beskryf.

“Van die Oranjerivier tot die Kunene en van die koue Atlantiese oseaan tot tussen die rooiduine van die Kalahari of die tropiese Caprivi wag Namibië vir jou om jou na liggaam, siel en gees te laaf en verkwik. Hier kom vind jy jouself, hier bou jy gesinsbande, hier word jy méns.”

Die natuurskoon is nie die enigste kosbaarhede wat jy ontdek wanneer jy Namibië besoek nie. Kanaal 7, waarvan Stefan die stasiebestuurder is, is ‘n eg Namibiese stasie. Nog voor daar enige wetgewing bestaan het om privaat radiostasies te reguleer, het Kanaal 7 baanbrekerwerk gedoen en die eerste privaat radiostasie in Afrika geword.  Vandag spog Kanaal 7 met 33 FM-senders oor die lengte en breedte van Namibië, asook voltydse uitsending op klankkanaal 825 op DSTV en `n internetstroom.

Kanaal 7 se visie is om die boodskap van hoop, gevestig in Jesus Christus, voltyds te verkondig deur die gebruik van die moderne media. Hul hoofateljee is in Windhoek, maar hulle saai ook voltyds uit vanuit `n Swakopmund-ateljee en `n ateljee in Oshakati.

Dié gemeenskapsradiostasie sluit 25 senderkomitees in hulle amptelike struktuur in, wat beteken dat elke uithoek van die land se luisteraars verteenwoordig is in die besluite wat geneem word. Benewens Afrikaans saai Kanaal 7 ook uit in Oshiwambo (die taal van die meerderheidsbevolkingsgroep in Namibië), en tot ‘n mindere mate in Engels en Duits. Luisteraars dwarsoor die wêreld geniet en waardeer Kanaal 7 se verskeidenheid programme: gereelde Bybeloordenkings, buiteleweprogramme, huweliksverrykingsreekse, riglyne om wêreldgebeure binne God se plan te evalueer en verstaan, betroubare internasionale en nasionale nuus, die jongste ekonomiese nuus, landbouprogramme gerig op die land se boerderygemeenskap, gospelmusiek en insetsels vir persoonlike groei.

Doen jouself `n guns en luister na Kanaal 7 om iets van dié land se grootsheid en gasvryheid te ervaar, al sit jy ook in SA, dalk iewers in die stadsverkeer. Maak ook ‘n draai op hul webblad by www.k7.com.na. Op die stasies se aanlyn veilingsblad (www.sobyso.com.na) loop jy dalk selfs ‘n winskopie raak vir jou volgende (of eerste) vakansie in Namibië: gaan snuffel vir jagpakette, verblyfpakette, ’n gemsbok of ‘n springbok.

“As jy gewonder het waar jou volgende vakansie moet wees, kom maak gerus ‘n draai in Namibië,” sê Stefan. “Stel jou voertuig se radio in op Kanaal 7, draai jou ruit af, lig jou voet van die brandstofpedaal en trek die fles koffie nader. Kom word weer mens hier by ons.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Magriet ·

Dit is voorwaar ‘n wonderlik land met wonderlike mense, maar daai appeltert is werklikwaar glad nie lekker nie

Ronelle ·

Ja, ek stem. Ons het soontoe gejaag, met die hoop dat ons nog daarvan kon kry. Maar o heng. was dit nou sleg. Nie eers die Duitse toeriste was “impressed” nie.
Jigggg

marco polo ·

Ek het al baie gereis, was al in meer as 30 lande, maar Namibia bly my absolute gunsteling. Die plek waarnatoe ek gaan as ek wil kop skoonmaak en lewensbesluite neem.

se iets ·

Die beste este ooit (soos my dogtertjie dit se), sal ons nooit ons land verruil vir enige iets nie.

Marietjie ·

Deur net na die foto’s te kyk verlang ek klaar terug huis toe.

Snowball ·

Wens ek kan hier gaan aftree, weg van die geweld en onsekerheid van Suid Afrika….

MCS ·

Vir die mense wat ken van Namibia, kan ‘n ou sonder ‘n toergroep deur die land reis? Afgeleë plekke waar sand dyne is asook op grond paaie? Hoe goed moet ‘n mens voorberei as ‘n gesin van vier ‘n self ry vakansie wil aanpak?

Deidere ·

As gebore Suidwester! kan ek jou met liefde aanbeveel op Namibie se paaie, hetsy grondpad of n teerpad waarvanaf jy die see kan sien. Juis omdat die land n baie bekende en gewilde toeriste attraksie is, word die paaie baie goed instand gehou. Wanneer jy deur die grensposte beweeg, en sover ek weet, is dit die enigste land waar jy prorata betaal om ons paaie te benut. Wanneer jy ver Noorde toe opbeweeg of verder wil afdwaal vanaf hoofweë, sal ek n bakkie aanbeveel. Soms maar sinkplaat en slote en/of sagte sand wat mens nie aan jou sedan wil doen tensy dit n redelike pad-vrye vry-hoogte het. Die land bied wonderse tonele, vars lug, uitgestrekte vryheid, oneindige mooi vir die oog en n hartverroerende bevolking. Platoniese mens-wees met hope gasvryheid, omgee en heerlike kuiers! Bederf jouself en herlaai jou siel! Hier vind mens die verlore EK en dit maak n ommekeer in jou hart.

Ansie ·

Ek het groot geword in Namibia en sou seker nou nog daar gebly het as die myn in Tsumeb nie die smeltery toegemaak het en ons verplig was om ander werk in SA te kom soek nie. My oorlede man en 2 seuns is albei daar gebore. ek was 3 maande oud toe my ouers in 1955 soontoe verhuis het. As ek daar gebore was kon ek nou daar gaan aftree het. Het op “Met ‘n huppel in die Stap” gesien hoe lekker bly die mense daar.

humor ·

In die meeste areas kan jy selfs vroegaand van die hoofpad aftrek, n tentjie opslaan n vuurtjie maak en n heerlike skaapribbetjie en regte boerwors braai en aan n heerlike Suitwesbier sip met gewetter van voels hier vlak aan jou voete. Ja dit is my land edit word nie geruil vir n
geen ander een nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.