Nederland, land van lekkertes

Foto: Johan Oosthuizen

Elke land het sy baie besondere lekkertes. Sommiges kan jy sien, ander kan op allerlei wyses ervaar word maar die lekkerste is die goed wat jy kan proe. Vir al die lekkertes kan ʼn mens maar jou tasse pak en gaan kyk wat die groene watervlakkeland kan bied.

Dis ʼn land wat oneindig baie bied. Dis ʼn mooi land, dis ʼn veilige land en dis ʼn super (eg Nederlandse woord, maar nie soos in Engels uitgespreek nie) wonderland, want ʼn mens wonder hoe ʼn volk op so ʼn klein stukkie aarde oor eeue heen so baie kon vermag, in stand hou en steeds nuwe hoogtes bereik.

Terug by die lekkertes. Dis lekker om veilig te voel. Ja, natuurlik is daar ook misdaad maar, in die geheel gesien, nie noemenswaardig nie. Darem nie daaglikse kaping, moord en doodslag en ten minste nie kort-kort op jou voorstoep nie. Jou voertuig kan maar langs die pad gaan staan en jy sal hulp kry maar nie beroof word nie. Miljoene motors staan snags onaangeraak buite woonplekke geparkeer. Saans ry kinders per fiets na en van sport- of ander jeugaktiwiteite en hulle fietse word nie gesteel nie! Kuierplekke en wandelroetes in parke en woude is pure genot want dis mooi en veilig.

Nog ʼn lekkerte is om goed te gaan koop en dit wat jy soek, te kry! Gehalte is van die beste en nêrens hoef jy jou pad deur ʼn slordige deurmekaarspul te baan nie. Hulle ken die geheim om ware só te verpak dat dit jou kooplus behoorlik aanwakker. Alles is goed en netjies georganiseerd en winkelassistente behandel jou vriendelik en hoflik – ʼn mens kan maar sê, professioneel! Dis mense wat produkte ken, intelligent daaroor kan praat en weet waar jy daarna kan gaan kyk.

Wat is nou lekkerder as om na die mooiste goed te kyk?! In die immergroen parke en op weilande spog derduisende spierwit swaanpare met hulle spogkrose wat nou nog vir oulaas in hulle bruin veredos nuuskierig rondkuier. Oral tussenin staan groot reusereiers en bekla hulle lot dat die swaankuikens helaas te groot is vir ʼn maklik, bekombare ontbyt en moet maar met ongelukkige paddas tevrede wees. ʼn Groot verskeidenheid watervoëls versier die waters en beeste en skape wei rustig op immergroen weilande. Droogte? Dat kennen wij niet.

En stap jy dan die bosse (vir ons woude) in, word jy bewus van ʼn salige vrede wat op jou toesak. Vallende herfsblare vorm ʼn malse veelkleurige blaretapyt en ʼn mens wonder wanneer jy die eerste feetjies gaan sien dans, of dalk op ʼn sonstraal afgly. Sonstrale wat deur die blaredak bars maak miljoene spinnerakke skitterblink met kleure van die reënboog en soms ʼn stukkie goud daarby.

Paddastoele en kleine paddastoeltjies steek oral kop uit en skielik besef jy dat die prentjies wat jy in storieboeke en op destydse Kersfeeskaarte gesien het regtig, egtig is en jy wonder wanneer ʼn paar skugter of dalk parmantige kabouters gaan uitloer en op, of tussen hulle gaan ronddans. Ja, en hier galop ʼn goggatjie, daarsô dans ʼn mier!

Foto: Johan Oosthuizen

Dis by lekker verby om ʼn besoek aan ʼn reusetuinsentrum te bring. ʼn Mens kan amper sê wat ander nog moet leer het die Nederlanders al van vergeet. As dit by blomme kom, toor hulle met kleur en vorm en elke jaar is daar nuwe kruisings om alles net nog mooier te maak – baie keer amper net te mooi om te kan glo. En as ʼn mens jou asem wil laat wegslaan, gaan kuier jy in Aalsmeer op die blomme- en tuinplantemark. Ongeveer 70 hektaar onder dak waar 3 000 kopers elke dag tussen ses- en twaalfuur vir byna die res van die wêreld op blomme en plante bie.

Dis maar net die oortjies van die seekoei (nijlpaard). Die lekkerste lekker is seker die smullekkerte wat jy kan proe en ruik. Ja, die voedselwinkels se rakke kreun en in die koelhouers is die lekkernye keurig uitgepak. Dis lipaflek gebakjes, vars brode van alle soorte en worse te kies en te keur. Die eintlike lekker kry ʼn mens tot boordens toe vol op die markte. Nie net om te proe nie, maar ook net om te sit en kyk. Omtrent elke dorp en stad het op een dag van ʼn week ʼn mark waarop hoofsaaklik eetware en soms klerasie te koop aangebied word. As dit by dorpe kom, deins Barneveld, hoenderhoofdorp, vir g’n ander dorp terug nie, maar wat stede betref loop ek nie ʼn mark op Amersfoort mis nie. So tussen die twee reuse-eeue-oue torings – Lang Jan aan die eenkant en die St. Joriskerktoring aan die anderkant. Die reuse, beierende klokke sorg vir pure ou-wêreldse luistergenot.

So met die intrapslag hang die geur van vars brood in die lug rond en so regs van jou soebat al die gebakjes en taarten om gekoop te word. Jy stap teësinnig verby die gewone en gevulde spekulaas, die blaardeeg amandelstawe, multi vlaaien (spesiale terte) die kerststollen en sjokolaat bedekte pepernoten te kies en te keur, tot by die stroopwafelstalletjie waar die gewilde lekkerny vars gebak word. Jy kyk so na jou ou Naastetjie vir ʼn goedkeurende kopknik en dan koop jy. Nee, jy koop nie kleintjies nie, maar broodbordjiegroottes en soek dan ʼn tafel vir twee by een van die talle gesellige koffiekuierplekkies.

Foto: Johan Oosthuizen

Daar kies ʼn mens ʼn tafeltjie in ʼn sonkolletjie waar jy lekker koffie kan drink. Ons keuse was Alberts Eten & Drinken, een van die talle gesellige kuierplekkies. Daar het vriendelike, liewe Rianne kom vra waarvoor ons lus was. Soos gewoonlik was ons keuse groot koppies koffie verkeerdlekker sterk melkkoffie. Terwyl ons ons koffie geniet het, kon ons die vrolike, gemoedelike markbesoekers dophou. Die stylvolles, spoggerige tantes en die joviale ooms met hoedjies en hangsnorre. Ja, dis kuierplek!

Reg langs ons was nog ʼn brood- en gebakaanbieding. Dit was duidelik dat die manne nie van vandag af hulle lekkernye aanbied nie. Hulle is verkopers van formaat. As een met ʼn klant besig is, adverteer die ander een en soms sommer terwyl albei klante bedien word, word die verskeidenheid en gehalte van al die lekkernye se roem besing. Dit klink so tussen ʼn langasem vendusie-afslaer en ʼn besielde straatprediker wat ʼn mens skuldig laat voel as jy nie koop nie.

So ʼn ent weg was ander luide stemme en dit het geklink soos noodkrete en ʼn gesoebat. Jy kry koers in die rigting, so al op die klank af en dit bring jou by die vrugte- en groente-afdeling. Die manne besing met geswelde nekare die lof van die wêreld se keurigste vrugte en groente. Zoete druyven uit Italië en Turkye. Zoete Navel Sinaasappel (lemoene), zoete ananas (pynappels) en zoete meloenen (spanspekke) uit Spanje. Swart turf op die aartappels en wortels is bewys van varsheid. Kraakvars groentes van alle soorte, amper nog nat van die dou en jy begin dink aan vanaand se anduyfie (spinasierige donkergroen blaar) rookwors en spek stamppot. Watertandlekkerte waaraan ʼn mens jou maklik ooreet.

So kom elke land se vrugte en groente aan die beurt. Die wysie verander nie, maar die lirieke wel en as die verkopers sien dit raak laat, en dan hoor ʼn mens die amper singende nu 4 voor een eentje (Euro) oor en oor en jy swig. Vier pakkies frambose en vier pakkies aarbeie. Jy koop genoeg slagroom (geklopte room) sodat jy tuis jou onbeskaamd kediks kan eet. Hoe sê ons altyd? As dit pap reën moet jy skep!

So ʼn entjie verder weerklink nog stemme op dieselfde trant en toonhoogte. Hierdie keer stemme van die Kaasboer en die Slager. Jy kan maar sê ʼn wavrag kase van alle soorte en vorms. Ek los my ou lipaflekkende Kaasetertjie by die kaas want ek verdra nie die geur en smaak van kaas nie en ek gaan staan, kyk en luister na die slagter se stories oor die beste vleis denkbaar. En jy dink aan banting

So ʼn entjie verder, oor kanaalbruggies, deur stegies en tussen oud-Hollandse geboue deur is die blommemark aan die voet van toring Lang Jan. Onder reusebome is die blommetafels in ʼn vierkant, seker so 15 x15 meter, gepak. Onder nog bome is ʼn lushof van potplante. Anders as op die ander mark is daar ʼn stille rustigheid – amper ʼn gewyde atmosfeer. ʼn Mens kan kies tussen klaar opgemaakte ruikers of jy kies bosse blomme en bessies en dan word die ruikers vir jou opgemaak. Ja, en stoere mans en elegante dames is ewe behendig!

Ons luister vir oulaas na die klokkespel en dan is op ons fietse op pad huis toe. Jy kyk na al die mooi en dan besef jy dis ʼn Psalm 23-land en so in die ry, dink jy aan die woorde van die Psalm wat jy aan moedersknie geleer het. En jy sê oor en oor dankie. Dankie vir die mooi en dankie vir mense wat vrolik lag deur die lewe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Beatrix ·

Hoe verlang ek daarna om te kan terugkeer na my geboorteland

antonia ter haar ·

Mooi positief geschreven artikel over nederland. De sociale regelgeving is ook goed geregeld. Toch zijn hier ook te weinig woningen, overvolle wegen in de randstad overvolle treinen etc. , but we take it easy , wij gaan in de koude winter naar het mooie warme zuidafrika. . Groetjes.

Andre ·

Wonderlike artikel. Was daar. Vriendelike mense, pragtige land, skoon, veilig, veilig veilig – loop, fiets enige plek en die mense HET verkeersreels wat hulle gehoorsaam. Slim ingenieurs, meesters – waterbeheer, dyke en kanale. Net die visas is duur – R1500 per visa vir ‘n jaar. Kyk rond in SA wat het die mense en hulle afstamelinge hier gebring, gedoen en gevestig. Lekker kosse.

Marinda ·

Sal bitter baie graag Nederland saam met my man wil deur reis en besoek, maar ja, niks fout met droom oor ñ sroom vakansie of reis nie. Baie dankie Johan, vir die artikel.

Eish ·

So n pragtige beskrywingsartikel in die soetste taal.
Treffende beskrywing van Nederland as Psalm 23 land! Ek onthou die kaaskoppies wat saam met my op laerskool was in die sestigerjare was akademiese reuse.
Groete vanuit n Psalm 37 land.

Johan Oosthuizen ·

Eish, baie dankie vir jou (en al die ander) se vriendelike kommentaar. Ek wens ons kon almal saam sit en stroopwafels eet.
Psalm 37. Ek vra myself af: Hoe het ou koning Dawid geweet om so ‘n stuk waarheid te kon skryf. Die Psalm laat my by die kwaad verby kyk en dwing my knieë toe en ek dink aan die ou Psalm 146: Prys die Heer met blye galme, o my siel daar’s ryke stof en dan later Moet op prinse nie vertrou nie, by wie niemand heil kan vind. Verwysing na die ou vertaling verraai seker my ouderdom, maar die nuwe vertaling is net so kosbaar. Ons moet die Psalm sing en bly glo.

Gerco ·

Baie mooi onder woorde gebring. Ek is gebore in die dorp Barneveld en het skoolgegaan in Amersfoort. Sonder om afbreuk te doen aan die artikel moet mens onthou dat al die ‘perfektheid’ en ‘georganiseerdheid’ soms ook beklemmend kan raak as jy dit op ‘n daaglikse basis ervaar en mee grootword. Na 13 jaar in Suid-Afrika verlang ‘n mens soms naar ‘n gulde middeweg…..hehe

Basson ·

Tov jou van, al besoek gebring aan die dorpie in N Holland met selfde naam?

Inderdaad ‘n super land!

elize naude ·

my ouers is in nederland gebore & het dan die 2, wêreldoorlog na suid afrika emmigreer. vir my is nederland as orreliste orgel-land… ek was bevoorreg om ‘n orgel konserte in die amsterdam se oudekerk by te woon, asook om in die st bavo kathedraal op die müllerorgel in haarlem & in die laurenskerk te alkmaar op die schnitger orgel te mog speel. ek woon hier in europa, n droom van kindbeen af…

Therese van Schalkwyk ·

Heerlike artikel oor ‘n pragtige land. Stroopwafels über alles!

Net jammer daar is nie eers ‘n sweempie besorgdheid vir slagoffers of hul naasbestaandes in die bevryde, nuwe SA wat Nederlanders so geesdriftig gepropageer het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.