O, koek!

china-kleuters-03

Claire en haar tweelingboetie. Foto: Verskaf.

Klein Claire is ʼn rooiwang, ronde Sjinese kleuter. Die frille en valle waarin haar Armani-mamma haar geklee het, laat haar soos ʼn oordadig versierde Kersboom lyk.

Dit is agtuur op ʼn Saterdagoggend en Claire – dit is haar Engelse naam – moet haar Engelse vaardighede by die I Talk-kompetisie ten toon stel. Sy is net een van die 80 kleuters wat aan die kompetisie deelneem.

“Behoede my siel,” sug Brian toe ons ons voor die beoordelaarstafel tuismaak. Ek en Brian, die Amerikaner wat verlief geraak het op ʼn Sjinese vrou en nou met ʼn kaboedel aangetroude familie sit, is vriendelik verplig om ons Saterdag op te offer en te beoordeel.

“My siel ook,” sug ek terwyl ek na die opgeterte mammas en kleuters loer. Claire se mamma, ʼn opgedolliede Waterkloof-tannie (daar is nie ʼn beter beskrywing vir die bling-Sjinees met haar vals wimpers, getuite lipstiekmond en Armani-jas nie), het haarself kom voorstel. Haar naam is Bella. “I loooove Twilight,” tuit sy. “Wil julle koffie hê? Ek weet julle Westerlinge is mos vreeslik lief vir julle koffie.”

In dieselfde asem: “Julle moet my ou Clairetjie sien – sy is net vier – en praat al Engels soos Donald Trump.”

Ons proes terwyl Mamma-bling op haar spykerhakkies wegdraf om koffie te bestel. “Sy probeer ons omkoop,” fluister ek vir Brian wat soos ʼn blaasoppie lyk.

Kompetisies is vreeslik belangrik in Sjina – veral die Engelse kompetisies – en kleuters word van jongs af vir ekstra Engelse klasse gestuur. Mammas en pappas spog te graag rondom ʼn tafel met hulle kinders se spoggerige Engels. En as die kleuters Amerikaanse Engels kan praat, styg die ouers se aansien nog verder in die gemeenskap.

Vandag is daar gróót pryse op die spel. Die wenner kan ʼn jaar lange Engelse kursus wen (en teen R200 000 vir ses maande) is dit ʼn prys waarvoor almal hulle bling sal opoffer. Die tweede prys is speelgoed – vervaardig in die Noord-Pool (lees made in China) en die derde prys ʼn kontantbedraggie.

Daar is van die kleuter verwag om ʼn fantasiestorie uit te dink en dit op die verhoog te dramatiseer.

Die mammas en pappas betaal Engelse onderwysers om die stories uit te dink en die woorde by die kleuters in te dril. Hulle het eintlik nie ʼn idee waaroor hulle storie gaan nie, maar Engelse woorde soos rusty, affordable, maleficent kom krom en skeef by die kleuterbekkies uit.

Teen vieruur die middag is dit uiteindelik Claire se beurt. Mamma-bling se kapsel het teen dié tyd uitgesak en Claire lyk soos verlede jaar se Kersboom.

Mamma-bling staan reg voor die verhoog. Claire begin haar storie vertel; ʼn groot draak het verlief geraak op ʼn prinses. Hy was toe eintlik ʼn prins. Haar Engels klink meer soos Donald Duck se gekwaak as Donald Trump se gekwetter. Ons kan nie kop of stert van Claire se storie uitmaak nie.

Mamma-bling kwaak agter Claire aan en verloor amper haar humeur toe Claire haar woorde vergeet. Mamma raas en blaas. Claire stotter, maar tel weer iewers tussen die draak en die prins haar storie op …

Ná haar vyf minute van Hades om is, vra mamma of sy en haar tweelingboetie ʼn duet kan sing. Boetie Christopher gaan staan langs sy sussie op die verhoog en met vals stemmetjies sing hulle ʼn Frozen-treffer, “Do you want to build a snowman”.

china-kleuters-02

Foto: Verskaf.

Die gehoor klap bedaard hande, maar mamma spring op en af.

Jessica is volgende aan die beurt. Sy sing dieselfde liedjie as die Kersboom- tweeling, maar haar stem klink soos ʼn swaan. Suiwer en helder klanke stroom by haar mondjie uit.

Mamma-bling blaas …

Teen vyfuur word die wenner aangekondig. Dit is Jessica. Sy ontvang haar prys asof sy pas as Mej. Wêreld gekroon is. Claire het lankal van die kompetisie vergeet. Haar wange is vol sjokoladekoek. Sy het haar skoene iewers verloor, maar Mamma-bling het nie vergeet nie.

Eers raas sy met die beoordelaars. Sy vergeet om Engels te praat en raps ons in Sjinees. Ons trek net skouers op. Toe storm sy op Jessica se mamma af en voordat ons sneeuman kon sê, kry Jessica se mamma ʼn stuk koek in die gesig.

Jessica se mamma, wat nie so gebling is soos Mamma-bling nie, lek die sjokolade van haar lippe af en plaks! Mamma-bling se uitgesakte kapsel word versiersuiker.

Ek weet nie wat die uiteinde van die koekgeveg was nie, want ons vreemdelinge is baie vinnig by die saal uitgeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Amanda ·

Maroela. Is julle nie op dun morele (weet nie van die wet nie) ys om 2 kleuters so te verneder met foto, regte name en al nie?

Landi Slatter ·

Dagsê Amanda

Dankie vir jou terugvoer. Die redaksie volstaan by die besluit om die artikel so te plaas met die foto’s juis omdat dit hul ‘Engelse name’ is, sonder vanne en omdat die voorval in China plaasgevind het.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Katryn ·

Waar was die kleuters verneder? Ontspan tog die wange!! Yolanda het die storie presies beskryf soos dit in baie skole in SA ook gaan. Ons Suid Afrikaners is net te konserwatief om mekaar met koek te takel. Dankie Yolanda vir jou bling bling humor storie!!

Amanda ·

Katryn. So dis 100 met jou as die ma haar so gedra maar die kinders se fotos in die berig gebruik word. Wag tot dit gebeur met iemand wat jy ken of met jou kinders weens ander se gedrag.
Ek is redelik seker die Chinese regering sal die verslaggewer landuit stuur as die berig onder hulle oë kom.
Jou ‘ontspan jou wange’ is ongevraagd.
Hierdie sou n oulike storie gewees het sonder die fotos.

Willem ·

Luister nuus op die radio kyk nuus op tv maak die koerante oop en jy lees net hoe siek die land suid afrika is ……dat n ander land se gebeure n mens moet laat glimlag is eintlik hartseer MAAR dankie maroela julle vertel alles vat die kritiek soos water op n eend se rug oja amanda elkeen is geregtig tot mening maar almal se sienne verskil… het jy al gaan kyk na die videos op YOU TUBE

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.