Onderwys in China: Dit is wat jy moet weet

ʼn Vrou loop onder bauhinia-blomme deur in Liuzhou in Suid-China se Guangxi Zhuang-streek. (Foto: Li Hanchi, Xinhua)

Dit is vandag sekerlik nie ’n oordrywing om te sê dat letterlik duisende Suid-Afrikaners in die buiteland skoolhou nie … van Rusland, die Midde-Ooste tot in Asië. Net in China alleen is daar honderde onderwysers in die een internetgroep waarvan ek die administrateur is, genaamd South Africans Living In China. Maar dis nie sonder gevare en probleme nie, soos een van die lede van die groep onlangs uitgevind het. Madri Strydom is vir sestien dae in ’n tronk in Beijing aangehou voordat sy na Suid-Afrika gedeporteer is.

Madri was ook nie die eerste Suid-Afrikaner was gedeporteer is nie. Ook nie die eerste wat niks verkeerds gedoen het en tog deur die Chinese die deur gewys is nie. Sy sal sekerlik ook nie die laaste wees nie.

Om in China te werk, moet ’n mens ’n sogenaamde Z-visum, oftewel werksvisum, hê. Madri het dit gehad en het lekker gewerk tot die polisie opgedaag en haar en ’n Amerikaanse kollega in hegtenis geneem het. Hul “sonde” was blykbaar dat hul werkgewer nie ’n lisensie gehad het vir die tak waar hulle gewerk het nie. Sy was onder die indruk dat alles wel is … haar visum was in Chinees, en die dag toe die polisie opdaag, was haar werkgewers skoonveld. Sy is saam met gewone misdadigers aangehou en kon aanvanklik nie met haar man en sesjarige seuntjie kommunikeer nie. Die Suid-Afrikaanse ambassade is om hulp gevra, maar was tjoepstil.

Nóg ’n Suid-Afrikaanse vrou uit die Kaap het ná twee weke, waarin sy nog nie deur die agent by ’n skool geplaas is nie, die eerste vliegtuig terug na Suid-Afrika gehaal. Nóg een se kontrak is ná twee weke gekanselleer omdat sy ’n gebrekkige linkerarm het, ’n gestremdheid wat “nie die skool se openbare beeld sou pas nie”.

“Lente-hane” gemaak van kleurvolle katoen op ’n straat van Tancheng in Oos-China se Shandong-provinsie, kondig die koms van Lichun, of die begin van lente en die eerste gebeurtenis op die Chinese maankalender, aan. Dié kleurvolle “lente-hane” word in suidelike Shandong-dorpies verkoop, wat glo geluk vir kinders in die nuwe jaar inhou. (Foto: Zhang Chunlei, Xinhua)

Maar wat is die posisie werklik?

Toe ek in 2004 vir die eerste keer in China aangekom het om onderwys te gee, het my Nieu-Seelandse agentskap aanvanklik daarop aangedring dat ek met ’n toeristevisum moes werk. Toe ek hulle daarop wys dat dit teen die wet is, het die Chinese baas gesê, “Daar is iets wat jy moet leer: dat China geen wet het nie”. Dit mag toe so gewees het, maar vandag is China baie streng oor wie daar mag werk.

Die groot probleem is dat sogenaamde agentskappe – waarvan sommige in Suid-Afrika sit – onderwysers vir dikwels ongelisensieerde skole en onderwysinstellings werf. Engelse onderwys in China is groot geld, veral vir kleiner kinders. Ouers is bereid om fortuine te betaal om hul kleuters so vroeg moontlik aan Engels bloot te stel. Onderwysers self kry maar min daarvan, en skole self maak fortuine daaruit. Snaaks genoeg is salarisse aan universiteite veel minder as by die skole, want ouers wil nie betaal vir hul ouer kinders se Engelse onderrig nie.

Ekself het een keer ’n vakansiekursus by ’n universiteit in Zhengzhou aangebied toe die plaaslike polisie vra ek moet my paspoort en visum kom wys. Die haakplek was dat ek in Beijing geregistreer was. Die Chinese hoof van die kursus het hulle egter omgepraat om my met rus te laat. Sy het egter gesê my visum laat nie toe dat ek daar klasgee nie. Op my vraag of dit iets nuuts is, het sy gesê die reël is lankal op die wetboek, maar nooit streng toegepas nie.

Elkarien, my vrou, is op ’n slag drie dae lank met tussenposes ondervra toe sy sonder haar paspoort vir ons seun in ’n ander stad en provinsie gaan kuier het. Haar aansoek om ’n nuwe visum was egter ingedien en sy het die dokumentasie gehad om dit te staaf. My seun se skool het haar egter gered en sy is darem nie toegesluit nie.

Ons seun is, terwyl ek hier skryf, in die hoogste nood waar hy in die ooste van die land skoolhou. Die rede? Hy is die enigste onderwyser by die skool wat ’n wettige Z-visum het, en indien die polisie toeslaan en die skool toemaak, mag al die (ander) onderwysers deporteer word en sit hy met die gebakte pere. Drakoniese maatreëls geld noudat ’n internasionale konferensie daar gehou word.

My raad aan Suid-Afrikaners wat daar wil gaan werk, is om jou paspoort of minstens ’n afskrif daarvan, altyd saam met jou te dra. Net ’n Z-visum, saam met ’n graad en twee jaar toepaslike ervaring, gee jou die reg om in China te werk. Ek het selfs al gehoor dat iemand sonder ’n graad in China opdaag en deur sy werkgewers van ’n perfekte vals graadsertifikaat van Unisa voorsien word. Daar is ook agentskappe wat Suid-Afrikaners met slegs matriek huur om met ’n toeristevisum te gaan werk. Wanneer die aspirantonderwyser in die moeilikheid beland, verdwyn die werkgewers spoorloos. Een van die lede van South Africans Living in China wat dit haar werk maak om Suid-Afrikaners te beskerm en die vrot appels uit te wys, is selfs met die dood gedreig … uit Suid-Afrika.

Talle mense beoefen tai chi tydens China se nasionale fiksheidsdag. (Foto: Xu Zhongting, AP)

Wat baie belangrik is, is om eers enige agentskap se bona fides te na te gaan. Die mode het ongelukkig posgevat dat Suid-Afrikaners wat daar gewerk het, as agente/werwers na Suid-Afrika terugkeer. Hulle verdien duisende rande aan kommissie, maar is nie in China om te help as die werksoekers probleme optel nie.

In die groep South Africans Living in China is daar vandag meer as 1 400 lede van alle rasse. As administrateur, word ek elke dag oorval met versoeke van mense wat wil aansluit. Ek probeer my bes om die lidmaatskap tot Suid-Afrikaners te beperk en hulle te beskerm. Ek was immers tien jaar daar. Indien iemand ’n werkaanbod kry, sal dit verstandig wees om op die internet navorsing te doen en verwysings te kry van mense wat met die werkgewer te doen gehad het, maar ook lede van die groep om hul mening te vra. Ons kan ook help met die ingewikkelde stappe om ’n visum te kry, ensovoorts.

Onthou, daar is ook ’n kultuurskok. Vreemde mense, vreemde kos, vreemde gewoontes. Maar onthou jy is nie meer in Suid-Afrika nie en probeer oop wees vir nuwe ervarings.

En wat van Madri Strydom? Sy sê as dit nie was dat sy vir vyf jaar verban is nie, sou sy môre wou teruggaan. Die Chinese, sê sy, is warm en vriendelike mense wat maar te gretig is om die laowai, soos vreemdelinge in China bekendstaan, te help.

China bly ’n unieke belewenis!

Tienie Fourie

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Reis, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

humor ·

Dit is waar hierdie vriendelikheid en behulpsaamheid het ek ook meermale op die lughawe daar erfaar. As dinge skeefloop dan gaan hul regtig uit hul plek uit om te help.

Andries ·

Ek het net die grootste plesier gehad om in China te werk. Gebruik jou gesonde verstand wanneer jy na die buiteland reis. Doen jou navorsing. Vind uit wat op jou visum en uitnodigingsbriewe staan. Jy kan nie in China wil gaan bly en dan na die tyd se dat jy nie geweet het wat staan op jou aanstellingsdokumente nie. As jy nie wil moeite doen met jou reisdokumente nie, bly eerder by die huis. Dit geld vir enige land.

Koos Uys ·

Kan iemand my dalk sê wat die ouderdomsperk vir n werksvisum in China is?

June van Zyl ·

Hy kannie saam met jou skool-toe gaan nie, en hy kan ook nie alleen by jou woonplek bly nie. En hy kannie hier in China skoolgaan nie, en hy kan met niemand praat behalwe met jou nie. Dus, nie n opsie nie. Sg internasionale skole bied niks in Engels aan nie, behalwe Engels, en dan soms deur middel van Chinees. Ons is al vir amper 17 jaar by Engelse skole in China betrokke. Geen probleme met visums, dokumente, akkommodasie, skelmstreke, of enige ongerymdhede nie. Maar jou huiswerk moet jy doen!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.