Onderwys in China: Pas op vir sogenaamde agente

tienie-fourie

Tienie Fourie. Foto: Verskaf.

Met die eerste groep jong Suid-Afrikaners wat veilig terug is in die land nadat hulle sonder hul paspoorte in China gestrand was, is dit nou tyd om die hele affêre in oënskou te neem. Wie se skuld was dit dat hul paspoorte afgeneem is, en wie moet die dank kry dat hulle nou terug is?

Daar was aanvanklik 51 jeugdiges in China wie se paspoorte weggeneem is omdat hulle sonder ’n geldige werkspermit gewerk het en teen die agent moes getuig. Let wel, hulle is nie gekwalifiseerde onderwysers wat met die nodige kwalifikasies China toe gegaan het nie. Sommige van hulle was laasjaar nog op skool en het ’n blitskursus in Teaching English as a Foreign Language op die internet voltooi. Hulle het ook geen ervaring gehad nie. Sommer drie foute op een slag: ’n aansoeker het ’n graad nodig om in China te werk, die owerheid daar erken nie meer aanlynkursusse nie en jy moet ’n geldige sertifikaat en/of twee jaar toepaslike ervaring hê. Hulle het nog lig daarvan afgekom as ’n mens die lot van die Suid-Afrikaanse onderwyser in ag neem wat vir twee weke aangehou is nadat sy met haar wettige werkvisum by ’n ander tak van ’n skool gewerk het as waarvoor dit toegestaan is. Inkonsekwent? Ja, dis wat gebeur in ’n groot land soos China waar interpretasie van wette aan die plaaslike kaders oorgelaat word.

’n Mens kan nie die jong mense verkwalik dat hulle die kans vir hierdie avontuur aangegryp het nie. In Suid-Afrika is daar nie werk nie en die salarisse in China is redelik goed met inagneming van die swak rand. By ’n kleuterskool in ’n stad soos Shanghai kan ’n mens tot R40 000 per maand verdien en dan boonop gratis huisvesting kry. Dit is omdat ryk ouers bereid is om hul hande diep in die sak te steek om kinders van vroeg af aan Engels gewoond te maak met die oog op ’n goeie beroep. Staatskole betaal minder en universiteite nog minder.

Die probleem is dat hulle in die strik van ’n sogenaamde agent getrap het, en hoewel een van hulle nou in aanhouding is, is daar talle ander wat nog met grootskaalse verneukery besig is. Moet ook nie dink dat Chinese agente alleen werk nie. Vir elke onwettige agent is daar ’n Suid-Afrikaner wat hier sy vuilwerk doen en “onderwysers” werf. Vir elke kandidaat wat gewerf word, kry die agent ’n kommissie… soms word dit maandeliks van hul salarisse afgetrek sonder dat werksoekers dit eens weet. Gewoonlik is dit Suid-Afrikaners wat in China gewerk het, daar vriende gemaak het en nou die kans sien om vinnig geld te maak.

Maar hoe dan nou gemaak om die eerlike werwers van die kansvatters te onderskei? Die goue reël is om nooit, maar nooit met ’n toeristevisum daar te gaan werk nie. Egte agente sal voornemende onderwysers vra om bewys van hul kwalifikasies te lewer, en nadat dit by die departement van internasionale samewerking en ontwikkeling in Pretoria geverifieer is, afskrifte China toe te e-pos. Die nodige mediese ondersoek moet ook hier gedoen word, maar moet nie verbaas wees indien dit in China herhaal word nie. Mense wat HIV-positief is of enige aansteeklike siekte het, sal nie toegelaat word om in China te werk nie. Die werkgewer sal, indien hy tevrede is, ’n onderwyser met ’n toeristevisum China toe laat kom, maar dit sal in die eerste week na ’n werksvisum (Z-visum) oorgeskakel word.

Wat die klompie Suid-Afrikaners se probleem vererger het, is dat sommige van hulle in kroeggevegte met Chinese betrokke geraak het. Mense, dis nie ’n sogenaamde gap-jaar nie en China is nie Suid-Afrika nie. ’n Mens kan nie daar maak soos in Margate of Jeffreysbaai in jou matriekvakansie nie.

Nou moet ons krediet gee waar krediet toekom: dit is eerstens die toetrede van die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge en samewerking wat met die Chinese gepraat het. Tweedens het China ingewillig om die studente se vliegkaartjies hierheen te betaal. Die Chinese was onder geen verpligting om dit te doen nie. Onderwysers wat ’n jaarkontrak uitgedien het, se vervoer word egter dikwels deur hul werkgewers betaal.

Wat van die toekoms? Volgens berigte het die Chinese regering en die regering van die Filippyne ooreengekom om binnekort 10 000 Filippynse onderwysers in China aan te stel. Dan sal daar dalk minder poste vir Suid-Afrikaners wees. Suid-Afrika word steeds as ’n Engelssprekende land beskou sodat ons darem daar ’n voordeel het, maar dit is slegs sedert ’n paar jaar gelede die geval.

Watter ander moontlikhede is daar? Viëtnam, Kambodja, Indonesië en Thailand vereis op die oomblik nie grade nie, maar dit kan ook vinnig verander. En onthou, die Amerikaanse uitspraak kry om die een of ander rede altyd voorkeur, ook in China. Dit mag die invloed van rolprente en televisie wees.

Wat van die Midde-Ooste? Moontlik ja, maar die steriele Moslem-omgewing pas nie almal nie. In Dubai kan jy tronk toe gaan as jy jou nooi in die openbaar soen en alkoholgebruik is ’n tameletjie. Maar die geld is goed.

Daar is nog ’n ander moontlikheid: Rusland. My ervaring van Russe is dat hulle soos “ons” mense is: plat op die aarde en reguit in wat hulle sê. En, o ja, hulle is nog amptelik kommunisties, maar net soos China deesdae soms meer kapitalisties as Amerika.

Die laaste woord behoort aan een van die studente wat pas terug is uit China. Sy sal enige tyd teruggaan, dit was die beste tyd van haar lewe. Ja, China is die moeite werd!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap, Reis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marco polo ·

China is n land van wonderlike avonture en geleenthede. As jy die mense, hul reels, tradisies en kultuur respekteer, gaan jy met ope arms verwelkom word. China is my tuiste

Eish ·

Dit is nou n goeie, geballanseerde artikel wat die situasie pynlik akkuraat ontleed, die blik wurms behendig oopmaak, krediet gee waar nodig en kritiek lewer op die regte plek.

Gerhard ·

Daar is ‘n YouTube kanaal met die naam Serpentza. Die ou bly al jare in Sjina en het baie inligting omtrent lewe in Sjina vir die wat belang stel.

Jerry ·

Die student se inset is treffend ” die beste tyd van my lewe”. Die wereld het voorwaar Suid Afrika se plek oorgeneem as die oester van die Afrikaner jeug! Stuur julle kinders vir avonture oorsee en julle sal sien dat as dit van hulle afhang sal hulle nie terugkom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.