Ons vertoef waar die boere koer: ‘Boer Soek ’n Vrou’-deelnemers se tuisdorpe

Die kenwysie van die gewilde kykNET-reeks Boer Soek ’n Vrou is die wondergom wat menige gesin voor die kassie bymekaar bring. Ons hou mos van mielielande, grondpaaie, plaashuise met klein plaashekkies en die reuk van ’n petrolkan langs ’n trekker.

Donderdagaande maak ons frikkadelle, rys en aspersies, en ons kyk hoe boere romantiese truuks uit hulle breërandhoedens pluk, terwyl deelnemers letterlik die bul by die horings pak of agter skape aan draf om te wys dat daar modder, mis en hooibale in hulle Louis Vuitton-sakke kan pas.

Liefde blom soos vygies in die agterplaas en skemerkelkies met die sonsondergang is in Kupido se manuskrip. Dié boere moet deur die loop van die reeks deur middel van ’n uitskakelproses ’n pasmaat kies om nog beter te leer ken en, wie weet, dalk hoor ons trouklokke in die nabye toekoms.

Oor die volgende paar maande gaan ons die boere beter leer ken en LekkeSlaap is nét so opgewonde soos die res van die land om dié avontuur te volg, die liefdesverhale te sien ontvou en natuurlik ook die boere se tuisdorpe te sien. Ons het bietjie gaan rondsnuffel om dié boeredorpies wat vanjaar heelwat op die kassie te siene gaan wees se interessanthede te ontdek. Hekse spook in bergpasse, tannies verouder soos goeie rooiwyn en ’n skoudans by ’n landbouskou is maar net ván die bestanddele in ons plaasdorpies se resepteboeke.

  1. Boer Albert en die spook met die Victoriaanse rok (Merino- en wildboerdery) – Noupoort, Noord-Kaap

Links: Wolwefontein Lodge (LekkeSlaap); regs: Boer Albert (verskaf)

Noupoort, eers as Naauwpoort bekend, is ’n ou spoorwegdorpie wat ontstaan het toe die spoorlyn vanaf Port Elizabeth na die noorde dié gebied in 1884 bereik het. Dit het later ’n belangrike spoorwegsentrum geword met ongeveer ’n honderd treine wat daagliks deur die stasie beweeg het. Noupoort het ook ’n ryk Anglo-Boereoorloggeskiedenis en die Britse blokhuis wat daar gebou is om spoorweginstallasies te beskerm, is moontlik een van die indrukwekkendste Britse blokhuise in die Suidelike Halfrond. Die spooklegende mag dalk die dames wat vir Boer Albert geskryf het, afskrik. Volgens dié legende is ’n vrou in Victoriaanse klere gesien waar sy in die dorp rondgeloop het en na die grond gewys het. Later is daar sakke goue munte gekry waar sy aanvanklik gewys het.

Klik hiér as Noupoort of Boer Albert jou aandag trek

  1. Boer Brandon gaan border toe (Skaap- en beesboerdery) – Stutterheim, Oos-Kaap

Links: Boer Brandon (verskaf); regs: Yellowwood Creek (LekkeSlaap)

Stutterheim lê aan die voet van die Amatola-bergreeks en is veral bekend vir die wattel- en denneplantasies. Naas die Tsitsikammawoude spog Stutterheim met die tweede grootste inheemse woud in Suid-Afrika. Dié woudagtige gebied dateer uit 1837 toe Jacob Ludwig Döhne, ’n leksikograaf en sendeling van die Berlynse Sendelinggenootskap, ’n stasie genaamd Bethel gestig het. Die Brits-Duitse Legioen het ná die agste grensoorlog in die bos naby Bethel gevestig en die nuwe dorp is na die bevelvoerder, generaal-majoor baron Richard von Stutterheim, vernoem.

Klik hiér om vir Boer Brandon in Stutterheim te gaan kuier

  1. Boer Damian se kaasbord en ’n tenk vol petrol (Skaap- en beesboerdery) – Bapsfontein, Gauteng

Links: Doringdraad Plaas (LekkeSlaap); regs: Boer Damian (verskaf)

Bapsfontein word beskryf as ’n klein dorpie met ’n groot hart ─ die groot gif in die klein botteltjie. Nes Bapsfontein, het Boer Damian ook ’n groot hart en is deel van die dorp se vriendelike gemeenskap. Bapsfontein spog nie net met ’n groot verskeidenheid voëlspesies en brulpaddas nie, maar het ook ’n bekroonde kaasmakery, Bellmore Boutique Cheesier, wat hierdie jaar by die Agri-Expo Qualité-toekennings die prys vir die suiwelproduk van die jaar gewen het. Dié dorpie se lewe lê egter nie net in kaas nie, maar in die Tweefontein-winkelsentrum wat spog met ’n slaghuis, koffiewinkel, hardewarewinkel en ’n haarkapper. Twee vulstasies beloof om jou met gemak by jou bestemming te kry en as jy dit nie gaan maak nie, kan jy vir jou geliefdes ’n brief by die plaaslike poskantoor gaan pos.

Klik hiér om saam met Boer Damian ’n kasie te proe

  1. Boer Franco, die dominee en ’n skoudans (Gemengde saai- en veeboerdery) – Moorreesburg, Wes-Kaap

Links: Boer Franco (verskaf); regs: Soutkloof Guesthouse (LekkeSlaap)

Morreesburg is in 1879 op die plaas Hooikraal in die hartjie van die Swartland-distrik gestig en na die destydse predikant J.C. Ie Febre Morrees vernoem. Dié dorp is veral bekend vir graan- en veeboerdery en die Moorreesburg Skougronde bied jaarliks die Swartlandskou aan. Dié skou het aanvanklik as ’n sogenaamde dinkskrum ontstaan waar boere in die omgewing idees oor saaimetodes uitgeruil het. Boere het egter die vermoë om ’n klein samekoms in ’n boerejolyt te omskep en die jonger generasie boere het dit reggekry om die skou as een van die grootste landbou- en landboumasjinerie skoue in die Suid– en Wes-Kaap te groei. Die jaarlikse skoudans is ’n hoogtepunt op die dorp en vorm saam met vele ander gebeurtenisse deel van die skou. Ek is seker Boer Franco sal tydens volgende jaar se skou sy nooi na die dans vra.

Klik hiér om by Moorreesburg se skou litte los te maak

  1. Boer Gerrit vier tannie Hansie se groot dag onder ’n lemoenboom (Sitrusboerdery) – Citrusdal, Wes-Kaap

Links: Boer Gerrit (verskaf); regs: Kunje Guest Farm (LekkeSlaap)

Citrusdal, gevolglik die naam, is bekend vir sitrus- en rooibostee-boerdery. Dié pittige dorpie is in 1916 as ’n NG-gemeente gestig om die boonste deel van die Olifantsriviervallei te bedien. Die reuk van sitrus is opmerklik in die lente en vroeë somermaande en miljoene kiste sitrusvrugte word in seisoen by die Sitruskoöperasie verpak. Inwoners van dié dorpie ─ of dit nou mens of boom is ─ is nie bang vir oud word nie en Citrusdal is die tuiste van die oudste lemoenboom in Suid-Afrika, wat in 1939 reeds 160 jaar oud geword het. Tannie Hansie Hanekom is nog ’n inwoner en het vroeër vanjaar haar 105de verjaarsdag gevier. Tannie Hansie is in 1914 op Ysterplaat gebore en Citrusdal is twee jaar later gestig, wat haar inderwaarheid ouer as die dorp maak.

Klik hiér om van tannie Hansie se verjaardagkoek te eet

  1. Boer Graham se biblioteek (Melkboerdery) – Cradock, Oos-Kaap

Links: Boer Graham (verskaf); regs: Die Tuishuise & Victoria Manor (LekkeSlaap)

Cradock is na die afloop van die vierde grensoorlog deur sir John Cradock in 1812 op die plaas Buffelskloof aan die oewers van die Groot-Visrivier gestig. Menige Setlaar-afstammeling soos die Cawoods, Michaus, Butlers, Colletts, Trollips, Van Heerdens en die Jordaans het hier kom nes skrop en sommige van die plase in die omgewing is deur hulle bewoon. Cradock is ’n gesiene partytjie-dorp en spog met minstens vier groot jaarlikse byeenkomste, naamlik die Karoo-kosfees in Maart, die Cradock Landbouskou in Oktober, die gewilde Visrivier Kanomarathon in September en die Schreiner Karoo Skrywersfees in Junie ter ere van Olive Schreiner. Dames wat vir Boer Graham kom kuier, kan enigiets verwag ─ van sport en boerdery tot meer gekultiveerde letterkundige kringe.

Klik hiér vir ’n Cradock-jolyt

  1. Boer Hentie en Boer Willem se woelige voete skoffel in Clanwilliam, Wes-Kaap

Links bo en links onder: Boer Hentie (bo) en Boer Willem (onder) (verskaf); regs: Bovlei Guest Farm (LekkeSlaap)

Clanwilliam het eers as Jan Disselsvlei bekend gestaan, wat oorspronklik na ’n plantkundige Jan Dissel vernoem is. Later het die goewerneur sir John Cradock die naam na Clanwilliam verander ter ere van sy skoonpa. Strassberger Shoes is in 1980 in Clanwilliam gebou en is vandag nog ’n baie gewilde stopplek vir moeë voete. Die geskiedenis van die skoene en die skoenmaker het egter elders begin toe die Duitse sendelinge, waaronder die skoenmaker Gottlieb Leipoldt, die nedersetting Wuppertal gestig het. Leipoldt het agtergekom dat voete nie die harde grond kon aandurf sonder die hulp van ’n paar handgemaakte vellies nie en vandaar die opkoms van die skoenfabriek in Wuppertal. Heini Strassberger het die leisels oorgeneem en die fabriek na Clanwilliam geskuif.

Die stewels stap na Clanwilliam. Klik hiér om hulle aan te pas

  1. Boer Rohan weerklink in die klanke van die groot geraas (Tafeldruiwe) – Augrabies, Noord-Kaap

Links: Boer Rohan (verskaf); regs: Dundi Lodge (LekkeSlaap)

Augrabies is ’n klein dorpie in die Noord-Kaap aan die suidelike oewer van die Oranjerivier. Dié dorpie is “Aukurebis” deur die Khoi-Khoi genoem en beteken plek van groot geraas. Die geraas waarna die Khoi-Khoi verwys het, is die klanke van die Augrabieswaterval in die nasionale park net buite die dorp en daar word beweer dat die oorverdowende klanke van die waterval tot en met veertig kilometer ver strek. Die Khoi-Khoi-stam is van die eerste inwoners in dié streek en het oor die jare heen aangepas om by die strawwe omgewing aan te pas. Dit is effe moeilik om die poel agter die waterval te bereik en daar is ’n paar legendes wat in die poel rond dryf. Daar word beweer dat ’n fortuin spoel-diamante in die poel oor die jare versamel het en daar is mense wat glo dat Suid-Afrika se eie Loch Ness-monster in die poel agter die waterval bly.

Klik hiér om die verlore diamante by die Augrabieswaterval te vind.

  1. Boer Theunis en die heks van die Hexrivier (Tafeldruiwe) – De Doorns, Wes-Kaap

Links: Arbeid Adelt Guesthouse (LekkeSlaap); regs: Boer Theunis (verskaf)

De Doorns is die sakegebied en kommersiële sentrum vir die Hexriviervallei en was een van ses plase in die omgewing wat deur veeboere beset was. Die naam is afkomstig van die vele doringbome wat in die omgewing gegroei het en dis dié plaas waar die dorp De Doorns uitgelê is. Die heks van Hexrivier is ’n legende wat die rondtes in die streek doen en daar word vertel dat Eliza Meiring van die eerste inwoners in die vallei was. ’n Aantreklike dame wat hoë eise aan die kêrels gestel het om haar hart te wen ─ die taak om ’n sekere disa, wat teen die onbegaanbare kranse van die Matroosberg groei, te kry. Een van die mans vir wie sy werklik omgegee het, het die uitdaging aanvaar en in die proses gegly en homself te pletter geval. Eliza se skuldgevoelens het haar oorweldig en het heeltemal mal geword. Sy is in ’n solder toegesluit weens haar kranksinnigheid en in ’n poging om te ontsnap het sy haar balans op ’n trap verloor en tot haar dood geval. Daar word beweer dat Eliza vandag nog in die berge spook.

Klik hiér om ’n disa vir Eliza te pluk.

’n Opwindende paar maande lê voor en LekkeSlaap is net so opgewonde om die boere se avonture te volg. Die boere boer beslis in interessante streke met talle stories en staaltjies wat die reeks vir die kyker hopelik sal inkleur. Boer Soek ’n Vrou het op 17 Oktober om 20:00 op kykNET begin.

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Altus Booysen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.