Ontdek die stories agter dié interessante Suid-Afrikaanse plekname

Foto verskaf deur LekkeSlaap

Tweebuffelsmeteenskoot­morsdood­geskiet­fontein en Bovenendvan­keel­afsnys­leegte mag dalk die twee langste plekname in Suid-Afrika wees, maar daar is beslis talle ander algemener en interessante plekke met oorspronklike name in ons mooie land! LekkeSlaap het ’n bietjie gaan kyk waar dié name vandaan kom.

Tietiesbaai, Weskus

Tietiesbaai is net anderkant Paternoster in die Kaap Columbine Natuurreservaat aan die Weskus geleë. As kinders kon ons nooit ons lag hou wanneer ons hoor ons kamp die naweek hier langs die see nie. Die naam kom blykbaar van ’n paar groot rotse wat bo die strand uittroon en vandaar het die matrose seker net beskryf wat hulle sien. Maak net seker jy slaan nie onwetend jou tent langs die mishoring op nie ─ jy sal sweer die aarde kom tot ’n einde wanneer daai ding vroegoggend langs jou begin skree!

Bespreek ’n naweek vir twee by Sea Shack of vir ’n groep by As It Is In Heaven en neem gerus jou plekkie langs die kus in.

Hotazel, Noord-Kaap

Dit verg nie veel verbeelding om uit te pluis waar hierdie myndorpie se naam vandaan kom nie. ’n Groep landmeters het in 1915 daar gaan inloer en besluit die plek is so hittig soos die hel. Alhoewel Hotazel in die somer snikheet warm kan raak, is dit ook heel ironies een van die koudste plekke in die winter.

Alhoewel ons nie verblyf in Hotazel self het nie, kan jy by Chapman Safaris Game Lodge of Red Sands Country Lodge in die omtrek gaan kuier.

Putsonderwater, Noord-Kaap

Al wat vandag van hierdie verlate nedersetting oorbly is die staaltjie agter die naam. Blykbaar het ’n man met die naam David Ockhuis en sy seuns ’n put op die plaas gegrawe en ’n lekker waterstroom het daarvandaan gevloei. Maar hy wou nie juis die Kalahari se rus en vrede met die skare deel nie. Elke keer as iemand dan oor die put of water gevra het, antwoord hulle: “Ja meneer, ek het ’n put, maar dit is ’n put sonder water”. Dis jammer dat dit toe later verwesenlik het toe herhaalde droogte die dorp se vooruitgang in die wiele gery het.

Thuru Lodge in die Groen Kalahari is net so ’n entjie verder geleë en bied hope om te doen nadat jy dié spookdorpie besoek het.

Die Hel, Swartbergpas, Wes-Kaap

Dis die pas waarmee mens die Gamkaskloof bereik. Voordat moderne voertuie en tegnologie egter beskikbaar was, het die veeinspekteur, Piet Botha, sy ekspedisie om te in en te uit as een helse gesukkel beskryf.

Prins Albert en Oudtshoorn lê weerskante van die Swartbergpas, en ons stel voor jy bespreek ’n rusplekkie vir wanneer jy self Die Hel klaar aangedurf het.

Seweweekspoort, Wes-Kaap

Hierdie poort was eers bekend as Zerwick se poort ter ere aan een van Amelienstein se stigters. Ons hou egter meer van die gerugte dat dit ’n berede kommando sewe weke geneem het om rowers van Barrydale tot anderkant die Swartberge te verban, en vir ’n boer om by die huis uit te kom nadat hy die pad byster geraak het, of vir ’n bende brandewynsmokkelaars om deur die kloof van Beaufort-Wes af terug te keer.

Ons het talle pragtige plekke met asemrowende uitsigte langs die poort wat sal maak dat jy vir sewe weke sal wil bly!

Riemvasmaak, Noord-Kaap

Vandag ry jy gou apteek toe en kry ’n salfie of raadpleeg jou dokter vir jou rumatiek, maar lank lank gelede moes jy dalk ’n mineraalbad in die Moloporivier opspoor as kuur vir jou kwale. ’n Ou Damara-man het die einste gedoen. Hy wou aan die diep kloof se onderkant by die water uitkom en al hoe hy dit kon regkry was om ’n klomp riempies aan mekaar vas te maak en homself af te hys.

Kom les jou dors vir ’n wegbreek langs die Oranjerivier in die Groen Kalahari, en kyk of jy ’n nuwe nut vir ’n riem kan vind.

Laaiplek, Weskus

Ek laaik vir Laaiplek! Dié lekker plek is net anderkant Velddrif, en as jy nie mooi kyk nie mis jy dit sommer. Die naam kom heel vanselfsprekend van die feit dat dit ’n plek vir vissersbote was om hulle vangs af te laai en voorraad vir nog ’n ekspedisie op te laai.

’n Wegbreek aan die Weskus is presies wat jy nodig het om jou sorge af te laai!

Koffiebaai, Oos-Kaap

Koffiebaai se kranse en groen heuwels lê by die Nengariviermond. Die skeepswrakke wat die stukkie rotsagtige kus bespikkel, het bygedra tot die naam toe ’n skip met ’n vrag koffiebone in 1863 daar gestrand het. Toe die vrag geplunder is, is van die bone agtergelaat en baie seisoene daarna het hordes koffieplante begin groei.

Skink ’n koffietjie en verbeel jou jy kyk uit oor die koffiebone wat langs die Wildekus gegroei het voor die wind en weer gewys het wie’s baas.

Knersvlakte, Noord-Kaap

Daar is twee moontlike, heel logiese, verklarings vir hierdie benaming. Toe die eerste inwoners daar opgedaag het, het dit maar knersend gegaan om die ongenaakbare woestynagtige landskap in ’n leefbare area te omskep. Of die naam is te danke aan die kwartsieklippies wat ’n onmisbare knersgeluid onder jou voete of dalk ’n ossewawiel gemaak het.

Gaan kuier in Lutzville of Vredendal en hoor of jou kar ook sulke knersgeluide maak.

Daar is voorwaar geen einde aan die eienaardige en eiesoortige plekname in ons besonderse land nie. Het jy al van ’n snaakse dorp, streek of pas gehoor? Laat weet ons gerus hier onder in die kommentaarblokkie!

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Willemien Engelbrecht.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

nico k ·

Baie van die stories agter die name is meestal legendes. Die een oor putsonderwater word nie aanvaar deur die meeste taalkundiges nie. Hulle aanvaar dit was ‘n put (wat die ou mense ‘n puts genoem het), wat onder water was. Dink aan plekname soos Lutzputs en Jakkalsputs.

Jan ·

Jy is heeltemal reg nico k. Putsonderwater is afgelei puts onder water gegewe die ligging die puts.

goggaman ·

Soekmekaar is direk op die steenbokskeerkring gelee dus het jy op dag/nag ewening in die middel van die dag nie n skaduwee gehad nie. Helaas het die naam gesneuwel en het dit (vir my altans) een of ander betekenislose nuwe naam gekry

Gollie ·

Helpmekaar is ‘n plaas daar iewers tussen Fraserburg en Loxton ini Karoo.Op die plaas staan sowat ongeveer 10-12 forspompe op ‘n stuk grond daar is geen dam insig nie.My pa sê toe vir my sien jy die dam daar anderkant sowat ‘n kilo of wat verder hierdie pompe HELPMEKAAR om daardie dam vol te stoot.Dis waarvandaan die plaas sy naam gekry het.HELPMEKAAR

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.