Ontdek ons mooi land

Argieffoto (Pixabay)

Argieffoto (Pixabay)

Hierdie vakansie was ʼn Suid-Afrikaanse vakansie. Ons het vir ʼn rukkie weggehardloop van die massas wat op Kaapstad (ons tuisstad) toegesak het.

Só het ons die pad gevat na die verlate strate van Pretoria en Johannesburg, waar dit party dae soos die wegraping gelyk het. ʼn Welkome ervaring ná die Babelse verwarring van die Kaap.

Nadat ons batterye herlaai is by familie en vriende wat self besluit het om tydens die Kersseisoen met Jan Tuisbly se karretjie te ry, het ons nog meer stilte gaan soek in die bosveld vir ʼn paar dae, en daarna Natal se “warm” water.

Binne twee weke het ons deur vyf provinsies van ons land gereis. Wat my opnuut getref het met ons reise deur ons land is dat daar so baie diversiteit is. Elke provinsie het sy eie bekoring en sjarme.

Alhoewel daar nog baie ander plekke is om te besoek en dinge om te doen, het ek gaan kyk na die bekendstes vir elke provinsie.

Muizenberg (Foto: GregMontani, Pixabay)

Muizenberg (Foto: GregMontani, Pixabay)

Wes-Kaap

Roete 62 is een van my gunsteling paaie om te ry as ek ‘n naweek nodig het om te herlaai. Nie net sluit dit heerlike wynplase (70 om presies te wees) in nie, dit vat jou ook deur pragtige natuurskoon en van die mooiste dorpies wat Worcester, Robertson, Barrydale, Calitzdorp en Tulbach insluit.

Die Wes-Kaap is bekend vir sy mooi natuurskoon en daar is nie ‘n tekort aan plekke waar mens jouself daarin kan verlustig nie. Tafelberg, Kirstenbosch Botaniese Tuin, Robbeneiland, Muizenberg en Kaappunt is net ʼn paar van dié natuurjuwele.

Koffiebaai in die Oos-Kaap (Foto: Vincentvanoosten, Pixabay)

Koffiebaai in die Oos-Kaap (Foto: Vincentvanoosten, Pixabay)

Oos-Kaap

Wanneer mens die N2 ooswaarts uit die Kaap neem kan mens sien hoekom hulle dit die Tuinroete noem. Hier ry jy letterlik deur “tuin” op “tuin”.

Die see ontmoet die bos in die Tuinroete Nasionale Park. Dit sluit in Tsitsikamma, Wildernis en Knysna met sy mere. Hier is nie ‘n tekort aan avontuur nie met keuses tussen Tsitsikammavalle-avontuurpark, Addo Olifantpark en die Bloukrans-reksprong.

Vir die rustiger siele onder ons is daar die Uilehuis in Nieu Bethesda of ‘n kuier in die pragtige ou dorp van Graaff-Reinet.

Oribi-ravyn (Foto: oribigorge.co.za)

Oribi-ravyn (Foto: oribigorge.co.za)

KwaZulu-Natal

Die ongelooflike mooi Meander is hier genestel tussen die groen-groen velde van Natal, waar mens die indrukwekkende monument van Nelson Mandela in Howick kan gaan besoek of sommer een van die talle interessante plase: perde-, kaas-, vark- of bierplase te kies en te keur.

Andersins kan mens die natuurskoon van Oribi-ravyn gaan opsoek of die seelewe van nader gaan verken by een van die wêreld se beste marineparke, uShaka Marine World. Met die verskeidenheid aktiwiteite (akwariums, waterpark en strande) kan mens maklik ‘n dag of twee hier deurbring.

Kruger-wildtuin Foto: julielines, Pixabay

Kruger-wildtuin Foto: julielines, Pixabay

Mpumalanga

Hier is een van my gunstelinge geleë: die Kruger-wildtuin. Sien die Groot Vyf en meer in hulle natuurlike omgewing en geniet die stilte wat net die Bosveld kan bied.

Volg die bekende Panoramaroete wat jou neem verby natuurskoon wat insluit onder andere die Blyderivierkloof, God’s Window, die Drie Rondawels, Lisbon-, Berlin- en Mac-Mac-valle. Gaan loer ook in by die besonderse outentieke dorpie, Pelgrimsrus.

Die oudste dolomietgrotte in die wêreld, die Sudwala-grotte, lê versteek in dié provinsie. Andersins kan jy altyd weglê aan die bekende pannekoeke van Harrie’s Pannekoekhuis in die pragtige Dullstroom na ʼn dag se vlieghengel of ʼn ete by die bekende Milly’s Restaurant, op die N4.

Die Venda-kultuur (Foto: southafrica.net)

Die Venda-kultuur (Foto: southafrica.net)

Limpopo

Mens kry van die mooiste bosveld in hierdie provinsie. Daar is ‘n verskeidenheid parke om van te kies en te keur in die Waterberg Meander as jy op soek is na die bosveldstilte. Afrika se bekendste boom, die kremetartboom (Baobab), se grootste weergawe is ook hier te vinde.

Leer ken die legendes van die Venda-kultuur deur besoek af te lê aan die Funduzi-meer of Thate Vondo-bos. As die Vendakuns jou fassineer, volg gerus die kunsroetes in die noorde deur Elim, Giyani en Thohoyandou op soek na kuns- en beeldhouwerk.

Voortrekkermonument (Foto: falco, Pixabay)

Voortrekkermonument (Foto: falco, Pixabay)

Gauteng

Ou bekende kulturele ervarings is nog steeds die moeite werd om te besoek wanneer mens iets soek om te doen in dié provinsie. Die Voortrekkermonument, Apartheidsmuseum, Uniegebou, Suid-Afrikaanse Geskiedenis of SALM-museum.

Indien jy hou van ʼn bietjie meer opwinding is daar altyd die Orlando-torings in Soweto met ‘n reksprong van 33 verdiepings hoog, of besoek die Wieg van die Mensdom wat onlangs vir groot opwinding gesorg het na nóg ʼn besonderse opgrawing. Hier kan jy ook die Sterkfonteingrotte besoek.

Argieffoto (Foto: places.co.za)

Argieffoto (Foto: places.co.za)

Noordwes

Hierdie provinsie bied seker die grootste hoeveelheid teenstrydige aktiwiteite.

Aan die een kant kan mens die bosveldstilte gaan opsoek in die pragtige Pilanesberg of Madikwe-wildreservate of kies die helder liggies van die teenstellende Sun City aan die anderkant van die spektrum.

Hartbeespoortdam met sy interessante padstalletjies, eetplekke en wateraktiwiteite. Deesdae spog dit ook met sy eie kabelkar (ongelukkig het die boonste platform die afgelope week afgebrand as gevolg van weerlig).

Argieffoto (Foto: JGvanderMerwe, Pixabay)

Argieffoto (Foto: JGvanderMerwe, Pixabay)

Vrystaat

Met sy besonderse oop vlaktes en natuurskoon kan mens nie help om elke keer aan ‘n Johan Smith-skildery te dink as jy die provinsie binnery nie.

Die Gariepdam en Naval Hill se natuurreservate gee mens die geleentheid om nader aan die kombinasie van vlaktes en koppies te kom.

Of vat die pad wat deur oulike dorpies, wat jou smeek om te stop, al is dit net vir ʼn koffie. Besoek onder andere bekende dorpies soos Clarens, Parys, Fouriesburg, Harrismith, Verkykerskop en Smithfield.

Kimberley (Foto: Redkite, Pixabay)

Kimberley (Foto: Redkite, Pixabay)

Noord-Kaap

Laaste, maar verseker nie die minste nie. Alhoewel dié provinsie bekend is vir sy uiterste temperature staan hy nie ʼn tree terug met plekke om te besoek nie.

Die wêreldbekende diamantdorp Kimberley met sy Groot Gat, is hier te vinde. Te danke aan die blink klippies wat jare gelede hier opgegrawe is, was dit ook die eerste dorp met elektrisiteit in Suid-Afrika.

Vir natuurprag is hierdie provinsie ook een om te besoek. Of jy wil sterre kyk in Sutherland, watervalle bewonder by Augrabies Nasionale Park of die blommeprag wil geniet in Namakwaland, bied hierdie provinsie vir jou alles.

Vertel ons gerus van die gunstelinge wat jy die vakansie in Suid-Afrika ontdek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.