Ontdek Windhoek

Interessante ou geboue is oral te sien tussen die moderne argitektuur Foto: Marianne Styan

Interessante ou geboue is oral te sien tussen die moderne argitektuur Foto: Marianne Styan

Namibië is ʼn land so wyd soos die Heer se genade.

Jy moet verkieslik meer as ʼn week hier spandeer. As gevolg van die grootte van die land is die plekkies min en ver uitmekaar. Dus kan mens dikwels lang ente met die motor ry sonder om ʼn ander siel te sien. Maak dus seker jy kies goeie geselskap om saam te gaan, anders kan dit ʼn baie lang en stil vakansie raak…

Van motors gepraat. ʼn Gewone sedan sal kan werk maar ʼn gemaklike 4×4 is makliker om die grondpaaie mee aan te durf . Daar is basies net twee teerpaaie in die land. Een wat van noord na suid en een wat oos na wes loop. Die res is grondpaaie. Die grondpaaie is egter in ʼn heel goeie toestand.

Ek het net ʼn paar dae gehad om te kuier in die land en daarom het ek ʼn toer van sentraal Namibië beplan. Die land is werklik wyd en daarom vat die ryery ook baie tyd. Ek wou nie die res afjaag net om te sê ek het die T-hemp gekry nie.

Ek het in Windhoek – die hoofstad – ʼn paar dae vertoef en die stad en van die beste plekkies daar rondom verken. Windhoek het ʼn andersheid aan hom wat moeilik is om te beskryf.

Dis nie jou tipiese kontemporêre stad met duisende hoë geboue wat voel dit wil jou dooddruk nie. Eintlik is die geboue só versprei dat dit meer voel soos ʼn groot dorp. Dis gebou tussen heuwels en dus kan jy nie die werklike grootte van die stad skat deur net daardeur te ry of rond te kyk nie.

Die middestad is baie voetgangervriendelik en jy kan maklik met jou kamera daar invaar en na die belangrikste besienswaardighede gaan kyk – te voet. Die toerismekiosk (op die hoek van Independence en Fidle Castrostraat) verskaf verniet ʼn stadskaart en jy kan hier sommer ook raad vra oor wat om te besoek.

Die bekende Windhoek-kudu Foto: Marianne Styan

Die bekende Windhoek-kudu Foto: Marianne Styan

Van die kiosk af kan jy dan ʼn sirkelroete volg verby die Windhoek-kudu, Christchurch, Tintin Platse, Alte Feste en die Nasionale Museum van Geskiedenis. Al hierdie skatte bring jou opnuut onder die besef watter ryk geskiedenis die land en sy mense het.

Ek glo egter dat mense nie na dié land toe kom om in museums rond te hang nie. Dis ʼn gevoelsland en net deur in die strate rond te drentel en die vriendelikheid van die mense te beleef, sal jou laat terugverlang as jy nie meer in Windhoek is nie.

Van my gunstelingplekkies was die Post Strasse met sy Afrika-straatstalletjies waar jy winskopies kan kry of interessante en mooi juwele of aandenkings.

Die hele stad is besaai met mooi outydse argitektuur wat tussen die indrukwekkende hedendaagse argitektuur versteek is.

Daar is ʼn hele paar gastehuise en selfhelpplekkies in die stad. Dis egter nie altyd so maklik om dit op die internet op te spoor nie. Ek sal dus voorstel die beste manier is om deur ʼn toeragent te bespreek of om die toerismekantoor self te skakel en jou behoeftes aan hulle te verduidelik.

Iets waarvan jy verseker nie ʼn tekort sal hê in die stad nie, is kos. Hier is restaurante galore met ongelooflike lekker kos. Oor die algemeen is dit duurder as Suid-Afrikaanse restaurante, dalk omdat hulle meeste van hulle produkte moet invoer. Daar is wel Mugg &Bean’s en Ocean Basket’s beskikbaar met meer bekostigbare kos, maar ek sal voorstel dat jy nie te suinig is om kos te koop nie.
Jy gaan iets mis.

Plekke wat jou in ekstase sal hê met atmosfeer en lekker kos, net om ʼn paar te noem, is Joe’s Beerhouse, Luigi and the Fish, Govertman en Am Weinhouse.

Joe’s Beerhouse met sy maltrapinterieur is ʼn Duitse bierhuis met ʼn Afrika-draai. Die Gemsbok-steak en die crêpe-nagereg was my gunstelinge. Geniet ʼn bosveldvuur in die boma terwyl jy wag vir jou kos.

Dalk is die skaarsheid van die Gemsbok-steak in Suid-Afrika die rede hoekom dieselfde gereg met sy kumkwat-kaneelsous weereens my gunsteling was by Am Weinhouse. Die mooi uitsig oor Windhoek en die vreemde smaak-kombinasies van die topgehalte kok, is werklik ʼn wenresep.

Laaste maar nie die minste nie, is die laaste moet-sien die N/a’an ku sê-diere-rehabilitasiesentrum ʼn paar kilometer buite Windhoek. Die mense se liefde vir dier en natuur is aansteeklik en maak dat jy self ook wil begin diere verpleeg op jou voorstoep.

Daar is nog hope plekke wat ek wil uitsonder, maar ek sal dit vir jou los om jou eie gunstelingoases in hierdie uitgestrekte woestyn te kom soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Drieks ·

In namibia kan jy die dorpe en windhoek stad invaar en stap. Pas met jou goed op vir diefstal. Maar ek het nou al 4 keer Namibiers in Johannesburg stad in gevat en dit is regtig verskriklik om so bang te wees, wens ook Suid Afrikaners wil die netheid van al die namibiers raaksien en hier toe pas.

Kallie ·

Ons was so 2 jaar terug na Swakopmund en Ais Ais mense was dit nou lekker, het Kolmanskop besoek en al die interesante plekke daar naby die paaie is ongelooflik en die wereld is vry van plastiek sakke. Ons beplan om na Hentiesbaai te gaan vroeg in 2015 wil so 2 weke vat om tot daar te kom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.