Ontsnap na stiller strande dié somer

Scarborough (Foto: LekkeSlaap – Beach Break, Scarborough)

Sandkastele, branders, sonroom, laggende kindertjies en kuier om die braaivleisvuur … Dis alles deel van ’n luilekker somervakansie en vir baie van ons net een maal ’n jaar beskore. Die nadeel van dié seisoen is dat bykans die ganse land kus toe stroom, so hoe gemaak as jy die seisoentyd se voordele sonder ’n gestamp en ’n gestoot wil ervaar? Om ’n stil strand oor die feestyd op te spoor is nie maklik nie, maar hier is ’n klompie voorstelle en sommer nog blyplekke daarby wat moontlik steeds beskikbaar is!

Weskus

As jy langs die Weskus gaan vakansie hou en wil wegkom van die skares, vermy maar verkieslik die gebied al die pad vanaf Milnerton tot by Velddrif en ry ’n entjie verder noord na Elandsbaai. Dié dorpie is hoofsaaklik ‘n kreef-aanleg en nog relatief onontdek as vakansiebestemming. Sy branders is na bewering vergelykbaar met dié by Jeffreysbaai en dis waarom dit onder branderplankryers die bynaam E-bay verwerf het. Nie net het Elandsbaai ’n pragtige, stil strand nie, maar dis ook langs Verlorenvlei met sy swerms flaminke en pelikane geleë, so onthou jou verkyker!

Elandsbaai (Foto: LekkeSlaap ─ The Berries)
Elandsbaai Wegbreek | Swell | Swartheuwel Accommodation & Venue

Kaapstad

Om die massas in Kaapstad vry te spring moet jy verkieslik die Atlantiese kusgebied vanaf Clifton na Llandudno vermy, asook Valsbaai tot sover as Vishoek.

Moet jou egter nie laat mislei deur die lang ry by Kaappunt se ingang nie – dié spul toeriste mik almal vir die Kaap de Goede Hoop, so jy sal die strande vir jouself hê! Van dié strande het gevaarlike strome en die water is boonop ysig, maar bied ideale omstandighede vir sonbaai of met ’n boek onder ’n sambreel agteroor sit. Boonop sal jy beloon word met wild wat daar naby rondloop — wees veral op die uitkyk vir die mees gereelde besoeker genaamd Kees wat sommer maklik jou sak gryp en laat spaander. Moet dus liefs nie kos saamneem nie!

Die Kaapse Skiereiland (Foto: LekkeSlaap ─ Schuster’s Rest)

Buffelstrand aan die Valsbaai-kant is nét die plek vir ’n gesinsuitstappie — daar is braaigeriewe, getypoele en groot, groen grasperke vir dié wat nie lus is om ná die tyd sand af te skud nie. Olifantsbos se uitgestrekte grasperke is ook ’n heerlike piekniekplek en sy strand bied toegang tot ’n paar lekker staproetes. Maclear-strand is ’n gawe enetjie vir die kleuters tydens laagwater, want daar is tientalle rotspoeletjies om in rond te plas.

Diaz-strand is die naaste aan Kaappunt en hoewel dit te gevaarlik is vir swem, is dit die mooiste van die lot. Dis ook die mees afgesonderde strand, aangesien jy ’n bietjie moet swoeg en sweet om dit te bereik. Die stappie na die strand duur so 20 minute af en 40 minute terug. Die houttrappies neem jou na ’n beskutte inham met indrukwekkende kranse wat bo jou uittroon. Moenie vergeet om ’n paar vakansie-kiekies te neem nie, al is jy ook hoe uitasem!

Diaz-strand naby Kaappunt (Foto: LekkeSlaap ─ Simon’s Town Lodge)

Afgesien van die ellelange ry mense, laat almal se vakansiebegrotings ook nie toe vir Kaappunt te ingangsfooi nie. Maak eerder ’n draai by Simonstad se Water’s Edge Beach of Windmill Beach. Albei is lekker beskut en min mense weet van Windmill omdat dit agter die gholfbaan skuil. Aan die Atlantiese kant is daar ook Scarborough se lekker groot sandstrand wat darem ver genoeg vanaf Llandudno is om die grootste skares af te skrik!

Water’s Edge Beach (Foto: LekkeSlaap ─ Froggy Pond B&B)

Scarborough (Foto: LekkeSlaap ─ Mountain Rise)

Lighthouse Apartments | Roman Rock Apartments | Peninsula Sea View Apartment

Die Kaapse Suidkus

Dié kusgebied is woelig al die pad van Gordonsbaai af tot by Gansbaai, en gons al harder hoe nader jy aan Hermanus kom. ’n Entjie verder is daar ook plekke soos Witsand, Struisbaai en Stilbaai wat nét so bedrywig raak tydens spitsseisoen.

As jy stilte soek, moet jy dalk eerder koers kies na Waenhuiskrans (Arniston). Dié vreedsame oase skuil net duskant die suidpunt van Afrika. Die tradisionele vissershuisies en vissermanne wat soggens in outydse houtbote seewaarts keer, skep die indruk dat hierdie dorpie stilstaan in tyd. Jy kan by Waenhuiskrans se strand voor die Arniston Hotel gaan swem, of in Roman-strand op pad na Waenhuiskrans se bekende laagwatergrot se branders gaan baljaar. Die strande is pragtig bewaar, vorm deel van ’n marienereservaat, en nie almal sien kans om so ver van die hoofpaaie af te dwaal om Waenhuiskrans te bereik nie.

Waenhuiskrans (Foto: LekkeSlaap ─ Arniston Spa Hotel)

BlueSky Arniston | Arniston Spa Hotel | Arniston Guest House

Tuinroete

Die Tuinroete is ’n ware paradys, maar sy skoonheid raak maklik vergete as jy vir jou ’n weg deur die feestyd-swetterjoel moet baan. Selfs nog voor Mosselbaai raak dinge al bedrywig en dié aktiwiteit strek al die pad tot by Stormsrivier. Maar net ‘n entjie vanaf Stormsrivier is ’n stranddorpie wat nog nie deur té veel vakansiegangers ontdek is nie, so spring maar gou voordat dit in die komende jare besiger begin raak!

Eersterivierstrand spog met sierlike strande, ’n pragtige rotsagtige kuslyn en inhammetjies, en ’n heerlike swemplek genaamd die Blou Gat langs indrukwekkende sandsteenformasies. Wanneer jy vir die dag hier kom uitspan, gaan verken ook sommer die omgewing se skilderagtige voetslaanpaaie deur die fynbos wat lei na punte waar jy by die kranse kan afkyk na die see en huisies daar onder.

Eersterivierstrand (Foto: LekkeSlaap ─ Net Hier)

Angler’s Paradise | Fynbos Ridge | Fynbos Golf Club

Wildekus

Die Oos-Kaap se Wildekus is heel moontlik Suid-Afrika se mees ongerepte en onontdekte kuslyn, so die feit dat hier nog heelwat geheime skuil, is dalk nie ’n geheim nie. As jy ’n strand slegs met ’n ruwe pad kan bereik wat jou neem na ’n wêreld waar inwoners nog ’n tradisionele lewenspas volg, wéét jy dat niemand jou daar sal kom steur nie.

Mdumbi-strand word met pragtige melkhoutbome belyn en jy sal eers eindelose groen heuwels moet oorsteek voordat jy dié juweel bereik. Lus vir ’n behoorlike avontuur? Pak die drie uur lange staproete vanaf Koffiebaai na Mdumbi aan! Ná hierdie staptog kan jy jou voete in Mdumbi se sagte sand streel en lafenis vir jou moeë spiere in die helderblou water vind.

Mdumbi (Foto: LekkeSlaap ─ Swell Eco Lodge)

Freedom O’ Clock Backpackers Retreat | Ocean View Hotel | Nenga River Lodge

Olifantkus

“KwaZulu-Natal” en “Desembervakansie” in dieselfde sin roep onmiddellik die beeld van besige strande op, veral die kusgedeelte suid van Durban en die immergewilde Margate. Om teen die stroom te beur moet jy liewer noord mik. En as jy ver genoeg ry, bereik jy die enigste subtropiese gebied in ons land waar swemweer regdeur die jaar gewaarborg is.

Mabibi-strand is totaal onontwikkeld, heerlik beskut, omring deur kuswoud, en in die hartjie van die Kosibaai-kuswoudreservaat en iSimangaliso Vleilandpark geleë. Dit kan slegs bereik word met ’n 4×4-voertuig, en die naaste geriewe is etlike ure se ry daarvandaan. Dié gebied is bekend vir skubaduik, snorkel, en natuurlik ook die seeskilpadjies wat uitbroei om die gevaarlike tog see toe aan te pak – dis juis nou die seisoen daarvoor!

Mabibi (Foto: LekkeSlaap ─ Thonga Beach Lodge)

Mseni Lodge | Camp Jonathan | A Day in Africa Lodge

Maak hierdie Desembervakansie ’n behoorlike wegbreek waar jy nie net van jou werk ontsnap nie, maar van mede-vakansiegangers ook! Anders is dit mos nie regtig ’n wegbreek nie, of hoe?

Let wel: Ten tyde van die saamstel van dié artikel was die genoemde blyplekke steeds beskikbaar.

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Jana Barnard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.