Ontspan by dié openbare swemplekke

Die somer het nou behoorlik begin vlam vat en wie wil nou nié na ’n lang, warm werksdag of op ’n soel Saterdag of Sondag ’n bietjie afkoel in die water nie? As jy nie een van die gelukkiges is wat ’n swembad propvol water in die agterplaas het nie, moet jy op ander waterbronne staatmaak vir ’n bietjie lafenis in die snikhete somer. LekkeSlaap het vir jou nege openbare swemplekke reg oor die land opgespoor waar jy kan aangaan met die jolyt.

Tradouw-pas, Swellendam – Wes-Kaap

Dié pragtige pas strek vir 16 km deur die Langeberge tussen Barrydale en Swellendam en spog met die mooiste uitsigte en rotspoele. Pak ’n piekniekmandjie, vind ’n veilige plek om jou kar te parkeer en klouter oor die rotse tot jy die water bereik. Dis beslis die moeite werd!
Naaste dorpe: Barrydale en Swellendam
Kontak: Jy en jou kroos kan maar net opdaag in julle karretjie.
https://www.instagram.com/p/BBUdM7ctf55/

Gonubie-getypoel, Gonubie – Oos-Kaap

Daar is niks soos ’n salige middag op die strand nie! Gonubie se strand het ’n pragtige getypoel waar jy sommer die hele dag kan baljaar, selfs al raak die seewater ’n bietjie rof. Pak net ’n piekniekmandjie en sonsambreel en daar gaat jy.
Naaste dorp: Gonubie
Kontak: Die getypoel is op die strand, so jy kan maar net opdaag.
https://www.instagram.com/p/BTY0tauhNHW/

Salt Rock-strand, Salt Rock – KwaZulu-Natal

As jy nie kans sien vir die yskoue water aan die Kaapse kus nie, is die see langs KwaZulu-Natal vir jou beskore. Salt Rock is die ideale vakansiebestemming vir die hele gesin en daar is selfs ’n getypoel wat lekker veilig is vir kinders. Die Noordkus roep jou! Waarvoor wag jy?
Naaste dorp: Salt Rock
Kontak: Dit is ’n openbare strand, so jy hoef niemand te kontak nie.
https://www.instagram.com/p/_E1EUSL4Zw/

Mac Mac-poele, Panoramaroete – Mpumalanga

Dié beeldskone poele lê aan die voet van die bekende Mac Mac-watervalle en dit is die perfekte plekkie vir ’n middagete-uitstappie. As jou vingers soos jou ouma s’n begin lyk, kan jy ’n vleisie op die kole gooi by een van die netjiese braaiplekke om die poele. Daar is ook ’n maklike Sekretarisvoel-staproete (3 km) vir avontuurlustiges, waar jy talle ander voëlspesies kan gewaar.
Naaste dorp: Sabie
Kontak: 013 764 2580
https://www.instagram.com/p/Bd10ol0DcJo/

Mokolodam, Lephalale – Limpopo

In die hartjie van die Waterberge, sowat 50 km suid van Lephalale, lê die grootste dam in Limpopo. Dit is veral gewild onder watersportentoesiaste en het heerlike piekniekplekke waar jy ’n blaaskans kan vat as jy moeg raak vir die water.
Naaste dorp: Lephalale
Kontak: 014 763 5447
https://www.instagram.com/p/BduMqgaFCSl/

Tonquani, Magaliesberge – Gauteng

Beeldskone kranse, watervalle, pragtige poele en oeroue bome omring hierdie majestueuse kloof. As jy moeg raak vir die Stad van Goud en jy soek ’n salige afsaalplek, is Tonquani nét vir jou. Die eintlike swemarea is wel ’n entjie se stap van die veilige parkeerarea af, maar enige iemand behoort dit te kan aanpak. As jy eers by die poele aankom, was al die sweet die moeite werd!
Naaste dorp: Hekpoort
Kontak: 011 067 0326 of 014 534 0114
https://www.instagram.com/p/BTLZvJMFRxQ/

Vaaldam, Vrystaat

Dié dam is Suid-Afrika se tweede grootste (i.t.v. oppervlak) en spog met ’n kuslyn wat vir ongeveer 800 km strek ─ so daar’s oorgenoeg plek vir pret in of op die water. Gauteng deel nou wel die dam, maar ons het besluit om hom onder die fraaie Vrystaat te lys omdat daar meer van hom in hierdie pragtige provinsie lê.
Naaste dorp: Deneysville
Kontak: 016 372 1189
https://www.instagram.com/p/BeyQNachUtw/

Boegoebergdam, Groblershoop – Noord-Kaap

Bring jou visstok saam, want die karp byt hier by Boegoeberg. As jy nie lus is vir lyn natmaak nie, kan jy mos maar altyd net in die water baljaar. Die dam word deur die ongelooflike Oranjerivier gevoer, so is altyd lekker vol en ideaal vir watersport.
Naaste dorp: Groblershoop
Kontak: [email protected] of 083 500 7180
https://www.instagram.com/p/ykj7TPDRCN/

Hartbeespoortdam, Hartbeespoort – Noordwes

Ons praat nou van die bekendste dam in Suid-Afrika. Daar is iets vir ieder en elk en jy kan jouself definitief vir ’n dag of twee hier besig hou ─ ’n kabelkarretjie, hope watersporte, winkeltjies en ’n hele rits ander dinge wag op jou! Tog is die dam nét so goeie bestemming as jy net vir die dag op ’n binneband in die water wil ronddryf.
Naaste dorp: Hartbeespoort
Kontak: 083 480 9629
https://www.instagram.com/p/BeOVZt8g4gy/

Hoekom verruil jy nie die res van die somer jou swembad vir ’n swemgat nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.