Op reis deur Egipte: Aswan – ʼn Verlate toeristestad

Falloukas op die Nyl (Foto: Thomas Dreyer)

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Egipte en Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Ons bly vir ʼn week in Aswan. Terwyl ons hier is, is hier heelwat Egiptiese toeriste. Die meeste is uit Kaïro wat ‘n bietjie hitte kom opsoek in die laatwinter. Europese toeriste is so skaars soos hoendertande.

“Kom asseblief in,” nooi een van die handelaars op die mark ons, “ons het ses jaar gelede toeriste hier gehad. Vóór die Rewolusie van 2011. Ons kry swaar.” Die mark is besig, maar nie met toeriste nie.

Op die rivier lê groot plesierbote vier verdiepings hoog in die water. In die week wat ons hier is, het ons twee gesien wat met Egiptiese toeriste die rivier afgevaar het. In die dae voor die rewolusie het hulle toeriste op twee tot drie nagvaarte die Nyl afgeneem. Nou lê hulle drie-drie langs mekaar vasgeanker.

In Egipte is ‘n tweeprysstelsel. Een prys vir Egiptenare en een vir toeriste. Jy betaal maklik 10 maal meer as ʼn Egiptenaar. Wanneer jy die pryse begin ken, kan jy begin onderhandel of, soos ons later gedoen het, na ʼn “eerlike” handelaar toe gaan wat jou die regte prys vra.

Die lewe is goedkoop as jy Egiptiese pryse betaal. R1.20 vir ʼn felafela (ʼn pitabroodjie gevul met gebraaide groente, tamatieslaai en ʼn kruiesous), wat ʼn voldoende maaltyd is. Of kusheri (ʼn rys-en-noedelgereg) vir R2.80. ʼn Blikkie koeldrank kos R3.50 en ʼn liter kos R4.20. Felafela en kusheri was ons hoofgeregte.

Brood is baie goedkoop en ʼn stapelvoedsel. Op die mark word sakke meel opgebak en mense staan tou by die bakkerye vir pitabrood, die plaaslike brood. Dit is nogal ʼn belewenis op die mark met al die gewoel en die geur van vars gebakte brood in die lug.

Toeristemark (Foto: Thomas Dreyer)

Op die mark kan jy enigiets koop. Vleis by die slagter, hoenders wat net daar geslag word, visse wat op ys lê. Dan enige soort klere, skoene, kouse, serpe, hoede, kruideniersware. Vrugte- en groentestalletjies is volop met die mooiste vars vrugte en groente. En natuurlik, die kruiewinkels met hulle groot verskeidenheid kruie, veelkleurig in mandjies opgehoop.

By Aswan het ons die Philea-tempel besoek op die Algikia-eiland. Die tempel is in 380-362 v.C. deur Nektanebo I gebou ter ere van die afgod Isis. Met die bou van die Aswandam is die tempel na die eiland geskuif – 40 000 granietblokke wat 20 000 ton geweeg het. Ons ry met ʼn motorboot oor na die eiland, teen toeristeprys! Daarin het jy geen keuse nie.

By Aswan is die mousoleum van Aga Kahn III op die wesoewer van die Nyl. Die Aga Kahn is die geestelike leier van die Nizari Ismaili Moslems. Aga Kahn III was wêreldbekend en het verskeie internasionale toekennings ontvang.

Hy was ook ʼn teler van volbloed resiesperde wat verskeie wedrentitels ingepalm het. Hy is die Aga Kahn van wie Peter Salstedt in sy treffer “Where do you go to my lovely” sing. Sy vierde vrou was die skoonheidskoningin Yvonne Blanche Labrousse (Mej. Frankryk 1930), met wie hy getrou het toe sy 38 jaar oud was en hy 67. Hy is in die mousoleum begrawe en sy het elke dag ʼn rooi roos op sy graf gesit.

Nog ʼn belangrike persoon in die geskiedenis van Aswan is Lord Kitchener wat die konsul-generaal van Egipte in koningin Victoria se tyd was. Die Egiptiese regering het aan hom ʼn eiland in die Nyl geskenk waarop hy ʼn botaniese tuin aangelê het met vreemde plantspesies wat hy van sover as Indië ingevoer het. Die tuin bestaan vandag nog en is baie gewild onder toeriste.

Die mooi van Aswan is die Nylrivier met die falloukas en motorbote wat heeldag heen en weer vaar. ʼn Mens kan jou maklik indink hoe dit 50 jaar gelede hier moes gewees het. Baie min het verander. Midde-oosterse markte, donkies en perdekarre. Handelaars wat hulle bes probeer om tog net ʼn transaksie vir die dag te doen. Als spotgoedkoop.

Mans en vroue dra nog die tradisioneel lang rokke. Kinders, skape en hoenders hardloop rond en falloukas vaar op die Nyl. Die verskil vandag is egter dat elkeen met ʼn selfoon loop en die jong mense in moderne noupassende denims geklee is.

En, natuurlik, die polisie en weermag wat oral te sien is, gewapend en, op plekke, met masjiengewere agter staalskuilings.

Volg al Thomas en Retha Dreyer se reise op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Skarrel ·

Baie dankie, dit was insiggewend. Ek het gedink die liedjie van peter Saltedt skimp ‘n bietjie in Sophia Loren se rigting … so het ek eens op die radio gehoor. Nie te min, steeds baie interessant. Reis veilig en voorspoedig verder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.