Op reis deur Egipte: Christene tussen Moslems

Foto: Thomas Dreyer

St Petruskerk Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Egipte en Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Wanneer ʼn mens Egipte besoek, kom jy gou agter dat hierdie land ʼn ou Christelike geskiedenis het. Die Christelike kerk in Egipte is die Koptiese Kerk omdat die eerste lidmate Kopties gepraat het. Tot vandag toe is dit die kerktaal.

Volgens Koptiese tradisie het Markus, skrywer van die Markus-Evangelie, die eerste Christelike kerk in 42 nC in Aleksandrië gestig. Onder die eerste bekeerlinge was Theophilus, ʼn Jood van Aleksandrië, aan wie Lukas sy Evangelie geskryf het. Uit hierdie kerk het die Koptiese Kerk gegroei wat vandag 18 miljoen lidmate wêreldwyd het waarvan tussen 10 en 14 miljoen in Egipte is.

Die eerste gelowiges in Egipte is deur die Romeinse keiser Diokletius (300 nC) streng vervolg sodat die kerk ondergronds moes bestaan. Selfs na die Edik van Milaan, wat die vervolging van Christene moes beëindig, het vervolging in Egipte voortgeduur.

Die vervolgde Christene in 300 nC het kloosters in die woestyn opgerig om hulleself deur afsondering aan God te wy. Dit was die begin van die kloosterbeweging. Teen die einde van die 5de eeu was daar honderde kloosters waarvan party vandag nog bestaan.

In 639 nC het die Moslems Egipte binnegeval. Alhoewel die Egiptenare aanvanklik Christene gebly het, het bekerings na Islam tot gevolg gehad dat die meeste inwoners teen die einde van die 12de eeu Moslems was. Die Christene is teen ʼn hoër koers belas en dit het veroorsaak dat baie Moslems geword het.

Eers in die 19de eeu het die Egiptiese Christene se posisie verbeter. In 1853 het die Koptiese pous Koptiese skole en ʼn drukkery begin. Die “jizya” belasting is in 1855 afgeskaf.

Ons besoek een aand Koptiese Kaïro en loop dr. Amri raak by die “Hangende Kerk”. Dr. Amri is ʼn kardioloog en vurige Koptiese Christen. Hy is baie trots op sy Egiptiese én Koptiese agtergrond. “Ons is afstammelinge van die Farao’s”, verduidelik hy. “Ons is kinders van Gam, nie Arabiere nie. Ons is die eerste Christelike kerk wat nog steeds die ware Evangelie van Jesus verkondig.” En is daar bekeerlinge uit die Islam? Dr. Amri trek sy skouers op. “Dit is baie moeilik…”

Die Koptiese Kerk het ʼn geskiedenis van onderdrukking en vervolging. Vandag nog is hulle teikens van ekstremistiese Moslem-aanvalle.

'n Bloedvlek teen'n symuur om te herinner aan die 11 Desember 2016 (Foto: Thomas Dreyer)

‘n Bloedvlek teen’n symuur om te herinner aan die 11 Desember 2016 (Foto: Thomas Dreyer)

Nuwejaarsdag 2010: Islamitiese militante val ʼn Koptiese kerk in Alexandrië aan en 21 sterf.
30 Januarie 2011: Moslems val Koptiese Christene in die suide van Egipte aan en 11 mense sterf.
15 Februarie 2015: Militante Libiërs stel ʼn video vry waarin hulle wys hoe hulle 21 Koptiese Christene onthoof.

Februarie 2017: Koptiese Christene in Sinai word deur Isis Moslem-militante in El-Arish aangeval. Ongeveer 300 Christene vlug nadat sewe vermoor is. Hierdie Christene word deur die Koptiese Kerk as heilige martelare vereer. “Hulle het biddend met geboë hoofde gesterf,” vertel dr. Amri.
11 Desember 2016: Tydens die Sondagoggend-mis stap ‘n selfmoordbomaanvaller die St Petruskerk in Kaïro binne. ʼn Kerkamptenaar probeer hom voorkeer, maar hy ontplof sy bom tussen die vroue en kinders. Altesaam 28 Christene sterf. Die groot houtdeure van die kerk word deur die geweld uit die kosyne geruk.
Paul, ʼn jongman van 24, sou dié Sondag by die kerk wees, maar het verslaap. Hy vertel hoe hulle drie dae na die ontploffing net in die kerk gesit het, stom van skok.

Buite die kerk is daar bloed teen ʼn symuur, agter glas, om aan die gebeurtenis te herinner. By die ingang na die kerkterrein hang ʼn muurbehangsel met foto’s van diegene wat gesterf het. Almal het goue krone op hulle koppe.

Wanneer ʼn mens vandag Koptiese kerke met hulle pragtige argitektuur besoek, en jy sien hoe gewapende polisie die kerke beskerm, besef jy dat hierdie oudste Christelike kerk nog steeds ‘n getuienis lewer in ‘n 21ste eeuse dominante Moslem-land.

Met erkenning aan Wikipedia

Volg al Thomas en Retha Dreyer se reise op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pietman ·

Dankie hoop oom Leopoldt neem kennis van hoe Christene in ‘n moslem land onderdruk word. Dit is Europa se voorland.

Jakes ·

Kyk bietjie terwyl julle daar is of daar enige tekens is van die duisende Israeliete wat as slawe daar gewerk het. Egipte se geskiedenis gaan terug tot ongeveer 3000 voor Christus en besonderhede van die faraos is in baie gevalle tot in fyn detail bekend. Daar moet tog iets van die Israeliete gesê word, soos van Moses en so aan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.