Op reis deur Egipte: Die Engelsman en die Farao

Howard Carter (Foto: Wikipedia)

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Egipte en Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Ons staan voor die “Winter Palace” in Luxor. ʼn Glorieryke hotel uit ʼn vorige era waar Europeërs gebly het wat al langs die Nyl afgevaar het om hulle koue winters 500 km suid van Kaïro in die warmte van die woestyn deur te bring.

Op 29 November 1922 word hier ʼn geskiedkundige aankondiging gemaak. Na 18 jaar se swoeg en sweet, baie oponthoud en teleurstellings, ontdek Howard Carter die graf van Tutankhamun, wat 3 400 jaar gelede hier in Luxor regeer het.

Die kunstenaar Howard Carter is op 9 Mei 1874 in Kensington, Londen, gebore. As 17-jarige vertrek hy saam met Percy Newberry na die opgrawings van grafkelders by Beni Hasan. Hy moes waterverfkopieë van die versierings op die grafkelders maak.

Hy werk saam met verskeie argeoloë in Luxor en vanaf 1899, in diens van die Egiptiese Antieke Dienste, hou hy as superintendent toesig oor al die opgrawings by Luxor. Ná meningsverskille bedank hy in 1905 en is werkloos totdat Lord Carnavon hom in 1907 in diens neem om na Tutankhamun se graf te soek in die Vallei van die Konings.

Sy werk word onderbreek deur die Eerste Wêreldoorlog en in 1922 besluit Lord Carnavon om die opgrawings te staak. Daar was weinig resultate en baie het geglo dat al die grafkelders alreeds gevind is.

Soliede goud-gesigsmasker van Tutankhamun (Foto: Wikipedia)

Op 4 November 1922 ontdek Carter egter Tutankhamun se graf. Lord Carnavon kom van Engeland af en op 26 November maak Carter ʼn kleinerige gat in die muur voor die graf. Hy gebruik ʼn kers om in te kyk, en toe Lord Carnavon hom vra of hy iets kan sien, antwoord hy: “Ja, pragtige dinge!”

Binne-in die graf is nog ʼn muur waaragter hy die sarkofaag van Tutankhamun kry binne drie goue kiskamers wat binne-in mekaar gepas het. Ongeskonde vir 2 400 jaar. Bedoel om nooit gekry te word nie en in die lewe hierna ongestoord voort te lewe. Diep uitgekap uit die klip onder in die berg.

Vir 10 jaar ná die ontdekking word alles in die grafkelder opgeteken en na die Egiptiese Museum in Kaïro verskuif. Stap jy in die museum rond, sien jy ʼn uitstalling wat uitsluitlik aan Tutankhamun gewy is. Hy het binne-in ʼn goue kis gelê met die nou welbekende gesigsmasker van goud oor sy gesig. Om hom was kamers vol skatte.

Tutankhamun was die seun van Farao Akhenaten en Akhenaten se suster. Hy word Farao in 1333 v.C. toe hy 9 jaar oud was en trou met sy halfsuster.

As jong koning het hy die hoofstad teruggeskuif na Thebes, nou Luxor, en die aanbidding van die afgod Amun herstel wat sy pa afgeskaf het. By Karnak in Thebes bou hy ʼn tempel ter ere van Amun en verander sy naam na “Tut Ahnk Amun”, die “lewende beeld van Amun”.

Tutankhamun was nie baie gesond nie en moes as gevolg van ʼn voetgebrek met ʼn kierie loop. Hy het waarskynlik verskeie ortopediese gebreke gehad het en ook malaria. Op die jong ouderdom van 19 is hy onverwags oorlede en begrawe in die Vallei van die Konings.

Vandag lê Tutankhamun weer in sy grafkelder, nommer KV 62. Toegedraai in doeke, klein en verkrimp, ontbloot voor toeriste wat van oor die wêreld heen sy graf besoek. Al die glorie wat hom omring het, is in ʼn veraf museum vir almal om te sien.

Ry jy met die teerpad terug vanaf die Vallei van die Konings, sien jy op ʼn koppie ʼn sandvaal gebouekompleks – die huis waar Howard Carter gebly terwyl hy in die vallei gewerk het. Dit was die tyd van paraffienlampe, kerse en muskietnette.

Elke dag het hy vroeg opgestaan, voor die ergste hitte, en vir 18 jaar die vallei opgestap om te soek na dit wat almal geglo het daar nie is nie. Met ʼn pak klere aan en ʼn hoed teen die skreiende son.

Behalwe vir die woestynklimaat moes hy ook veg teen die jaloesie van ander argeoloë en die rompslomp van die burokrasie in Egipte. Met tye is hy die grafkelder belet. Hy het egter volhard en noukeurig elke stukkie kunswerk opgeteken en beskerm.

In Engeland en Europa het Carter nooit erkenning vir sy werk gekry nie. Soos Christian Jacq dit stel in sy roman, The Tutankhamun Affair, “It costs a lot to remain a mind nobody can buy”. Slegs in Amerika is hy gul ontvang.

Hy sterf eensaam en vergete op 2 Maart 1939 in die ouderdom van 64 jaar in Kensington, Londen. Op sy grafsteen is ʼn inskrywing uit Tutankhamun se graf. “May your spirit live, may you spend millions of years, you who love Thebes…”

Volg al Thomas en Retha Dreyer se reise op Maroela Media

Met erkenning aan Wikipedia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Petrus Smit ·

Ja die mens soek al duisende maar duisende jare na god, of God maar om een of ander rede hou hy vandag nog soek na Hom en kry hom nie net soos hulle oor duiselnde jare, omdat hulle BUITE hulself Hom probeer vind. Wat ;n verkwisting van leeftye met goud en goetertjies.
DIe fotos is pragtig, Dankie vir deel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.