Op reis deur Egipte: Dr Ahmad en die spinnekopbyt

Apteek in Dahab Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Egipte en Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Dit moes in die bus op pad na Taba toe gebeur het. Die spinnekopbyt. Ons het die Donderdagoggend besluit om met die plaaslike bus al langs die Golf van Akaba van Dahab na Taba te ry, ʼn dorpie in Sinai op die grens met Israel.

Saterdagoggend kom Retha agter daar is ʼn rooi swelsel onder haar regterknie. Ons steur ons nie veel daaraan nie. Sondagoggend raak die been erger en ons kry ʼn bietjie meel by die kombuis en sit ʼn meelpap op om die kwaad uit te trek. Teen die aand lyk die been nog erger. Ek gaan apteek toe en kry antibiotika en Betadine-salf.

Maandagoggend lyk die knie soos ʼn oorryp tamatie. Ek neem ʼn foto en stuur dit vir Retha se dokterbroer. Hy sê dadelik, “Spinnekopbyt! Hou aan met die antibiotika, maar hou dit dop.”

Teen dié tyd kan Retha nie meer lekker met die been loop nie. Sy is koorsig en slaap omtrent heeldag. Laatmiddag gaan stap ek ʼn draai om te kyk hoe die son oor die Sinaiberge sak en kom verby dr. Ahmad se spreekkamer. Ek stap in en wys hom die foto’s. Hy wil haar dadelik sien.

Die spreekkamer is so 50 meter van die hotelkamer af. By die spreekkamer het dr. Ahmad net een keer gekyk en Retha na sy behandelingskamer toe gevat.

Dr Ahmad is ʼn groot vriendelike Egiptenaar, ver oor die ses voet lank. En amper so breed. Sy hande lyk soos piesangtrosse. Hy laat Retha op die ondersoekbed lê en sê: “Is jy sterk?”

Hy gooi ʼn soutwateroplossing oor haar been en begin met daardie hande die sweer druk totdat al wat ʼn bloedwater en vuilgoed uitgedruk is.

Hy spuit met ʼn plastiekpypie ʼn soutwateroplossing so diep as moontlik in die wond in. Dan druk hy met ʼn klampskêr ʼn stuk gaas, wat hy in Betadine gedoop het, in die wond voordat hy dit styf toedraai. “Kom môreaand terug en drink die antibiotika.” Nodeloos om te sê, ek moes Retha die 50 meter terug hotel toe half saamdra. Sy het gebewe van die skok.

Die volgende dag was die been heelwat beter en na die volgende aand se behandeling, nog beter. “Kom elke aand, vir vyf behandelings, dan sal die been reg wees. Dit kos 60 Amerikaanse dollar.”

Dr Ahmad se spreekkamer Foto: Thomas Dreyer

Dr. Ahmad se spreekkamer is redelik skoon. Hy werk alleen, sonder ʼn ontvangsdame of verpleegster. Hy het nie lêers vir sy pasiënte nie. Hy maak geen aantekeninge nie. Terwyl ons daar was, is die gemiddelde tyd wat hy ʼn pasiënt sien, sowat vyf minute.

Sy ondersoekkamer is skoon, maar na drie dae is die asblikkie met die lappe wat hy op Retha se been gebruik het, nog nie uitgegooi nie. Vir medisyne loop hy sommer oor na die apteek langs sy spreekkamer toe.

Maar dr. Ahmad straal selfvertroue uit. Hy sê dat hy al baie insekbyte behandel het. Met ʼn soutwateroplossing en sterk hande en antibiotika.

Toe ons hom beter leer ken, hoor ons sy storie. Dr. Ahmad het vir tien jaar in Kaïro gepraktiseer voordat hy, na ʼn vakansie op Dahab, besluit het om hom permanent daar te vestig. Hy is nou al 20 jaar op Dahab.

Sy vrou is ʼn kardioloog wat in dié stadium in Kaïro werk omdat hulle seun daar medies studeer en hulle dogter daar skool gaan. Hulle sien mekaar so een keer in drie maande.

“Kom kyk hier,” beduie hy. Hy sit sy rekenaar aan en wys ons foto’s van ʼn hospitaal wat hy op Dahab gebou het. Ek het al verby die hospitaal geloop en my verwonder oor dié pragtige hospitaal op ʼn klein plekkie soos Dahab. Dit is ʼn groot dubbelverdiepinggebou in donker en ligblou kleure geverf. Op die foto’s sien ons blink nuwe teëlvloere.

“Daar is ʼn teater in,” vertel hy. “En daar gaan ʼn spesialiseenheid wees vir wondbehandeling.” Hy het die hospitaal gebou vir die duisende toeriste wat Dahab jaarliks besoek, maar omdat die toeristestroom opgedroog het, is die hospitaal nog nie toegerus nie.

Maar eendag, eendag sal alles weer regkom en dan gaan sy hele familie daar werk. Hy weet nie wanneer nie, maar vir daardie dag hy wag geduldig, sê hy, terwyl hy voor hom uitstaar die toekoms in.

Lees alle vorige berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.