Op reis deur Egipte: Olifanteiland

Olifanteiland Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Egipte en Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Na ‘n treinrit van 14 ure kom ons die oggend uit Kaïro in Aswan aan. Aswan is die mees suidelike stad in Egipte. Dit wemel op die stasie van Egiptenare wat nog vir oulaas ‘n bietjie hitte kom soek in die laat winter.

Islam en sy vriend ontmoet ons op die stasie en hulle dra ons twee kleinerige tasse oor die pad wat langs die Nyl loop tot by die vasmeerplek waar Islam se motorboot wag. Ons klim in en vaar die Nyl oor na Elephantine-eiland waar ons sou bly. Dit is elfuur die oggend en die luggie is koelerig.

Op die eiland stap ons deur stowwerige stegies, so twee meter breed, tussen huise en murasies, vullishope en skaapkrale tot by ons huisie. Elke voordeur op die eiland lyk anders, so asof die ontwerp soos ʼn adres moet wees. Anders as in Aswan is hier gelukkig baie kleur. Oral is huise en deure wat helderkleurig geverf is. Spatsels kleur teen die vaalvuil van die moddersteenmure.

Ons huisie is ʼn ou Nubiese huisie wat omskep is vir toeriste. Die voordeur is van staal en regs langs die voordeur is ou lappe opgerol oor ʼn balk én ʼn rommelhoop. Die huis is, soos die meeste ou huise op die eiland, van dik moddersteenmure gebou. Dit is klankdig en bied goeie isolasie teen die winterkoue en somerhitte.

Olifanteiland Foto: Thomas Dreyer

Die huisie is heel skaflik. Mooi geverf in verskillende helder kleure. Die ingangsportaal is oranje, die kamer groen en die bovertrek blou en wit.

By die voordeur is die badkamer met ʼn warm stort (sonder afskorting), ʼn spoeltoilet en ʼn wasbak. Alles is redelik skoon.

Die slaapkamer is verder links af uit die ingangsportaal. Dit is onder ʼn koepeldak en sonder ʼn venster. ‘n Veelkleurige mat is op die vloer. ʼn Dubbelbed met een lang kussing en rowwe komberse wat opgevou aan die voetenent lê, is die enigste meubels.

Die kombuisie is die volgende vertrek langs die slaapkamer. Klein en basies. Drie koppies, vier glase, ʼn mes, twee lepels en twee diepborde. Gelukkig ʼn yskas, maar amper alles vries daarin.

Met trappe stap jy boontoe. Bo is ʼn donkerblou oop vertrek wat met hoë mure toegebou is. Wanneer jy so naby so baie bure bly, is jou privaatheid baie belangrik.

Dan ʼn groot vertrek met drie luikvensters, ʼn dubbelbed en ʼn sitkamerstel. Helderkleurige blou-en-wit geverfde mure met prente in rame teen die mure. Gerieflik, maar beslis niks meer nie.

Die Nubiërs is baie trots op hulle herkoms. Hulle stam af van Gam, seun van Noag, en van die latere Kusietiese koninkryk wat duisende jare gelede in Noord Afrika gevestig was. Hulle is swart Afrikane met ‘n eie taal waarvan hulle die alfabet verloor het. Dit is nou net ʼn spreektaal.

Die Nubiërs het van Aswan af suidwaarts tot in die Soedan gebly, al langs die Nylrivier af. Met die bou van die Aswandam in 1960 is dié wat in die dam se pad was, noordwaarts na Aswan en Kom Umbu toe geskuif. Gedwonge, sê elkeen met wie ons praat. En met vele beloftes wat nooit deur President Nasser nagekom is nie.

Hulle was ook in ʼn stadium Christene, maar het as groep die Islam aangeneem. Op die eiland bly net Nubiërs en, af en toe, ʼn paar toeriste.

Ons ry elke dag van die eiland af met ʼn veerboot oor na Aswan. Dit kos R1.40 per persoon. Later kom ons agter dat sommige net 70 sent betaal en ander glad nie. Die geld word in die geldlaai gegooi wanneer jy opklim. Niemand kontroleer dit nie. Heen en weer elke vyf minute ry die veerboot van sesuur soggens tot twaalfuur snags.

Op die eiland is geen paaie nie en geen voertuie of motorfietse nie. Net kinderfietse. Dit is stil op die eiland, en in die kamer sonder die venster sou jy lekker laat kon slaap, as dit nie vir die matras en kussing was nie. Die matras is so hard soos ʼn klapperhaarmatras en die lang kussing net so hard soos die klip waarop Jakob by Bet-El geslaap het.

Volg al Thomas en Retha Dreyer se reise op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.