Op reis deur Egipte: Oornagtrein na Aswan

Aswanstasie Foto: Thomas Dreyer

Aswanstasie Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Egipte en Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Dit is ʼn besige Maandagaand in Kaïro. Ons ry met ʼn Uber-taxi na Ramsesstasie. Dit gaan chaoties op die paaie. Motors, busse, taxi’s en motorfietse vleg deurmekaar en druk voor mekaar in. Toeters blaas.

By Ramsesstasie, Kaïro se hoofstasie, wemel dit van mense: passasiers kom en gaan, kruiers ry bagasie aan met hulle kruiwaens en straatverkopers skreeu hard om hulle serpe, krale, vlae en wat nie als nog nie, te verkoop.

Ons stap met ons twee tasse en rugsak die stasie binne. Op platform 8 staan ʼn trein, vuil en donker met harde blou en wit plastieksitplekke. Binne-in is dit vol stof, papiere en gebruikte plastieksakke. Ek wys vir ʼn spoorwegman wat by die trein staan ons kaartjie. “Ja,” sê hy, “dit is die trein.”

Dit is winter en ʼn yskoue wind waai op die stasie. Ons huiwer. Niemand anders klim op nie. ʼn Rukkie later trek die trein die stasie uit en ek doen navraag by ander passasiers. Moenie bekommerd wees nie, sê hulle. Die trein kom.

Sitplekke op die oornagtrein Foto: Thomas Dreyer

Sitplekke op die oornagtrein Foto: Thomas Dreyer

Uiteindelik trek die trein na Aswan die stasie binne. Die sitplekwa, waarin ons sou ry, is ʼn luukse wa met groen- en roomkleurige leersitplekke. Daar is baie beenspasie en die sitplekke slaan gemaklik agteroor.

Ons bêre ons bagasie in die rak bokant ons sitplekke. Die kelner groet ons vriendelik in Engels. Sy naam is Saïd en, as ons enige iets nodig het, moet ons hom net roep. Selfs die hoofkelner kom groet. Ons voel vernaam.

Daar is geen ander Europeërs op die trein nie, net soos toe ons op die metrotreine in Kaïro gery het. Ons medepassasiers groet vriendelik: “Welcome in Egypt…”

Aandete word bedien – gebraaide hoender en rys en ʼn blomkoolgereg met ʼn klapperkoekie vir nagereg. Die ete is smaaklik en ons kan reg maak vir ʼn nag se slaap.

Die nagrus was goed en ek word wakker toe die son geel oor die woestyn begin breek. Ek sien palmbome en wag vir ʼn koppie warm, swart, soet tee. Toe die son op is, kan ons sien wat om ons aangaan.

Die Nyl is ʼn wonder. Dit is breed met sytakke op baie plekke. Dit vloei vir duisende kilometers vanuit sentraal tropiese Afrika uiteindelik deur die dorre Sahara woestyn. Waar dit kom bring dit lewe vir die mense wat net daar kan woon omdat die Nylrivier daar is.

Langs die Nylrivier is een groot boerdery. Klein plasies aanmekaar geryg met grasgroen landerye. Palmbome groei orals, sommer in die lande. Ons sien min meganiese landbougereedskap. Die meeste werk word met die hand gedoen. Suikerriet-oeste word met ʼn perdekar weggery na die meulens toe.

Piesangs, sitrus, mango’s, lusern, blomkool, tamaties, aartappels, broccoli, komkommer – tropiese groente en vrugte gekweek om die bevolking aan die lewe te hou. Die kwaliteit is verstommend goed met organiese bemesting.

In die strate is perdekarre vol bees-, kameel- en perdemis. Perde en donkies is na al die eeue nog steeds vername vervoermiddels. Nie net langs die Nyl nie, selfs in die middestad van Kaïro.

Oral langs die Nyl is daar dorpe, en almal lyk dieselfde. Elkeen het ʼn moskee met ʼn minaret wat bo alles uitstaan. Die geboue is 90 persent onklaar en lyk soos die sand van die woestyn. Vaal en grys. Party is nog met modderstene en modder gebou; die stene het al verweer en van die geboue val inmekaar.

Die strate is vuil, vol plastiek en bourommel. Eintlik lyk dit of die mense in ruïnes bly, soos die ruïnes van die Farao’s wat duisende jare gelede hier gewoon het. Hier het die tyd stilgestaan, behalwe vir die satellietskottels wat op amper elke “ruïne” pryk.

Saïd bring ons ontbyt. Fetakaas, konfyt, ʼn broodrolletjie, ʼn croissant, ʼn stukkie vrugtebrood en ʼn stukkie kaas. Die Egiptiese dieet is baie hoog in koolhidrate. Hulle is lief vir suiker en fyngebak. Hulle stapelvoedsel, kusheri, bestaan hoofsaaklik uit rys en noedels met gebraaide uie, kruie en souse. Bees, skaap, hoender en haas is die duurder deel van die dieet.

Ná 14 ure kom ons die oggend 11 uur in Aswan aan. Uit die slaapgedeelte van die trein klim hordes Egiptenare wat vir die skoolvakansie in Aswan kom vakansie hou. Hier is nog ʼn bietjie hitte vir die laaste deel van die winter.

Volg al Thomas en Retha Dreyer se reise op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Denise ·

Dit kan net n ongelooflike ondervinding wees die plantasies klink vrugbaar en die mense werk sonder masjiene fantasties defnitief nie lui om hulle eie voedsel te verbou nie!!!!

Pieter en Diana Smit van De Rust ·

Dankie ons het in 2012 in die eerste nag van die opstand dieselfde ervaring presies so gehad behalwe vir die soldate langs die trein wagte by dieingang na die trein en die heerlike vegetariese maaltye. Ons was toegesluit in die trein vir paar uur toe die spoor aangeval was.
Maar die lekkerte was om te hoor dat as ‘n huis klaar is moet jy belasting betaal daarom is geen huis omtrent kant en klaar nie daar is altyd iets onklaars aan hom. Maar binne is hy pragtig.
Op 12 desember 2012 om 12;00 was ons ind ie groot piramiede, en die enigste besoekers daar. Ons het ook op kind Jesus se vlugspoor party van sy oorbly plekke besoek en hande kon l op waar Hy geslaap het as kleuter.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.