Op reis deur Egipte: Sinai, die berg van Moses

Sinai Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Egipte en Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Dit is ʼn koue reënerige dag in Kaïro. Ons haal ‘n bus na St Catherines in die Sina- skiereiland. In ʼn stadium was dit seker ʼn luukse bus, maar nou is dit net vuil, sonder lugreëling en met stukkende sitplekke.

Ons ry ooswaarts in die rigting van die Suezkanaal op ʼn pragtig geteerde dubbelbaanpad. Buite, vir wat jy deur die vuil vensters kan sien, strek die woestyn vaalgeel in alle rigtings met klipperige koppies wat hier en daar uitsteek.

By die Suezkanaal is die eerste militêre kontrolepunt. Ons moet uitklim en ons tasse word deursoek. Na ʼn rukkie is ons op pad en ry met die tonnel onderdeur die Suezkanaal. Ons hou by nog vyf kontrolepunte stil. Dieselfde dag, sou ek later lees, is twee Egiptiese soldate in die noorde van Sinai dood in ʼn bomontploffing.

Ons ry langs die Rooi See suidwaarts. Die see is grysvaal, want dit is bewolk en reënerig. Op die see is heelwat skepe wat deur die Suezkanaal op pad is. Langs die see is groot vakansiedorpe, verwaarloos en leeg.

Die bus is net halfvol en ons probeer kort-kort ʼn ander stel sitplekke, net om gemakliker te sit. Die pad is nie besig nie. Later, toe dit begin donker word, kronkel die pad tussen die berge deur.

Ons ry stadig en, wanneer daar nie ander verkeer is nie, ry die busbestuurder enige kant van die pad. Ons bene en voete verkluim. Ons sit maar net en kyk deur die vuil vensters na die donker nag terwyl die bus voortkronkel.

Dit is sewe uur die aand toe ons in St Catherines stilhou. Buite waai die wind en dit sneeu. Ons drafstap deur die vallende sneeu tot by die Mousa Bedouine-kamp. Dit sneeu net een dag in die jaar in St Catherines en ook nie elke jaar nie. Ons voel voorwaar bevoorreg.

St Catherines is ʼn pragtige klipdorpie hoog in die Sinaiberge, 1 586 m bo seespieël. Dit is naby die Grieks Ortodokse Sint Katarinaklooster, ʼn groot toeriste- en pelgrimsaantreklikheid.

Alreeds in 330 nC het die ma van Konstantyn hier ʼn kapel laat bou, die “Kapel van die Brandende Bos”. Later, in 550 nC, het Keiser Justinus I die klooster gebou binne ʼn hoë ringmuur wat die klooster deur die eeue teen aanvalle beskerm het.

By die kampterrein kry ons elkeen twee koppies warm, soet, swart tee in die warm kombuis. Salah gaan wys ons ons kamer. ʼn Pragtige wit, skoon kamer met ʼn olieverwarmer en ʼn warm stort in ʼn en suite-badkamer. Dit lyk of ons dit gaan oorleef!

Die mooiste van alles is die rooibruin kranse van die berg wat rondom die dorpie uittroon. Soos wat die son opkom en ondergaan verwissel die kranse se kleure. Terwyl ons daar is, lê van die pieke nog wit van die sneeu.

Van St Catherines kan jy verskeie verskillende bergvoetpaaie uitklim. Die gewildste is dié na “Mount Musa”, die berg van Moses. Jy klim vir so drie ure en dan is jy bo-op die berg Sinai, of Horeb, waar die Here vir Moses die Tien Gebooie gegee het. Baie mense klim in die nag op om die sonsopkoms daarbo te sien.

Die Sint Katarinaklooster is so 2 km van die dorp af. Jy stap daarheen langs mooi teerpaaie verby leë hotelkomplekse. Langs die pad is ʼn natuurlike rotsbeeld van die goue kalf wat die Israeliete gemaak het toe Moses op die berg was.

By die klooster is streng sekuriteitsmaatreëls. Ons stap deur die sekuriteitshek al langs ʼn grondpad bergop totdat ons die klooster se toring sien en dan, soos jy verder stap, al meer van die klooster self.

Die klooster is ʼn imposante klipgebou in die kloof van die berg. Weerskante troon die kranse. Langs die pad is die kloostertuin met eeueoue olyfbome.

ʼn Nou opening in die 4 meter breë muur gee jou toegang tot die klooster. Binne-in word jy toegelaat om die katedraal, die “put van Moses” en die “brandende braambos” te sien, die laaste twee seker so 30 tree uitmekaar direk langs die katedraal.

By dié put, volgens oorlewering, het Moses Jetro se dogters raakgeloop toe hy van die Farao gevlug het, en by dié bos sou Moses God ontmoet het.

Sint Katarinaklooster is vernoem na Katarina, ‘n eerste eeuse martelaar van Aleksandrië. Die klooster het een van die oudste biblioteke en is veral bekend vir die perkament “Codex Sinaïticus” – een van die beste manuskripte van die Nuwe Testament uit ongeveer 330 nC.

Lees alle vorige berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Tertius ·

Ondersoek dit gerus. Die regte berg Sinai is in Arabië geleë. Bekom die dokumentêr “The search for the real Mt. Sinai” deur Reel Productions. Kyk ook na die ontdekkings van Ron Wyatt wat op U Tube beskikbaar is. Dit is argeologiese ontdekkings wat sin maak en ook Skriftuurlik gemeet kan word.

Marietjie ·

Was ook daar in 2007. Ons het met ‘n kameel daarop gery tot bo en dan verder gestap teen al daai trappe. Ek was amper bo toe begin dit reen en moes toe omdraai om betyds terug by die bus te wees wat ons terug gevat het na ons hotel toe. Maar dit is baie mooi daar. Ek is ‘n berge mens en daai berge het die vir my gedoen. Dit is ‘n belewenis wat ek nie maklik sal vergeet nie.

jaco ·

as die regte berg Sinai in Arabië is, moes die Isrealiete ook op ‘n wonderbaarlike manier deur die Golf van Akaba gekom het. Gaan lees die Bybel: hulle is eenkeer deur die Rooi See en nie weer deur ‘n ander see nie. Gaan kyk ook na ‘n landkaart: daar is n groot stuk see tussen die Sinai skiereiland en Arabië

Jannie ·

Is daar nog oorblyfsels van die koei afgod wat die Israeliete gemaak het terwyl Oom Moses nog op die berg was?

Cobus ·

Dit is maklik om net aan te voer dat iemand ‘n “fraud” is. Wat van ander mense se argumente en wat met die persoon saamstem? Van die vernaamste argumente teen Ron Wyatt is dat die Sinai Peninsula gedurende die uittog deel uitgemaak het van Arabië, maar hulle kan terselfdertyd nie die Egiptiese uitkyk poste in die area wat in daardie tyd daar was verklaar nie. Paulus verklaar in Galasiërs 4:25 waar Sinai geleë is. Dit sou wys wees om ook skepties na die kritici te kyk….

koos ·

die Romeine het na die Sinai-Skiereiland as Arabië verwys. So as Paulus, wat ‘n Romeinse burger was, verwys na Berg Sinai in Arabië, verwys hy hoogs waarskynlik na die hedendaagse Berg Sinai

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.