Op reis deur Egipte: Tempels van die Farao’s

Karnak-tempel by Luxor (Foto: Thomas Dreyer)

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Egipte en Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Thomas Dreyer

Ons ry in ʼn perdekarretjie saam met ʼn jong seun Mohammed. Hy is vriendelik en, anders as die ander Egiptenare, probeer hy nie jou arm draai vir nog geld nie. Ons ry in Luxor van die Luxor-tempel af na die Karnak-tempel toe, ongeveer 3 kilometer, al langs die nou vervalle, antieke verbindingspad tussen die twee tempels. Weerskante van die verbindingspad was honderde sfinkse soos in ‘n erewag opgestel. Vandag is daar nog net ʼn klompie gebreektes. Die pad is in antieke tye gebruik vir optogte van die tempel by Karnak na die tempel by Luxor.

Die tempels by Karnak het oorspronklik 40 vierkante kilometer beslaan en die oorblyfsels is nog steeds uitgestrek. Verskeie tempels is deur verskillende Farao’s oor ongeveer 2 000 jaar gebou om die afgod Amun-Ra tevrede te hou. Duisende priesters het by die tempels gewerk en die Farao’s het dit in stand gehou met skenkings van goud en landbouprodukte.

By Karnak is baie toeriste. En baie sekuriteit. Jy moet deur drie verskillende sekuriteitskanderings gaan. So onlangs soos Junie 2015 is ʼn terreuraanval hier gefnuik. Die polisie het snuf in die neus gekry toe ʼn taxi nie sy kattebak vir inspeksie wou oopmaak nie. In die onderonsie het ʼn bomaanvaller sy bom laat ontplof. Twee van die aanvallers is dood. In die kattebak is geweermagasyne vol patrone gekry.

Sfinkse by die ingang na Karnak (Foto: Thomas Dreyer)

Die tempels is indrukwekkend, of dit wat daarvan oorgebly het. Van party tempels staan nog net ʼn muur, van ander mure wat half inmekaar geval het. Hoë toegangsmure verleen toegang tot die tempels, maar sommige lyk asof hulle enige oomblik inmekaar kan val.

In die middel is ʼn massiewe saal met 134 reuse pilare van maklik 4 meter breed. Dit troon seker 15 meter bo jou uit en, soos jy tussenin deurstap, maak dit ʼn spel van lig en skaduwees. Elke pilaar is vol hiërogliewe. Soos die mure en plafon. Elke stukkie is beskryf om die geskiedenis van die Farao’s en die gode vir die nageslag te bewaar.

Die tempels was vir rituele deur die priesters en die Farao’s en die gewone mense het nie toegang tot die tempels gehad nie. Hulle moes net die openbare prosessies langs die strate dophou. Die Farao’s is as gode gesien en het, so is geglo, na hulle dood saam met die gode voortgeleef.

Vandag, na 5 000 jaar, staan nog net die oorblyfsels. Murasies met gebroke standbeelde van die Farao’s. In die middel van die dorp is die Tempel van Luxor. Jy kan sommer enige tyd om die tempel stap en die mure en pilare van alle kante bekyk. Veral met sononder is dit pragtig, en saam met die ligte wat aangeskakel word om die tempel te belig, is dit poskaartmooi.

Luxor se tempel was nie aan ʼn afgod gewei soos die ander tempels nie, maar is gebruik vir die inhuldiging van die Farao’s. Daar is sprake dat selfs Alexander die Grote, nadat hy Egipte ingeneem het, hier na Thebes toe gekom het om hom hier te laat kroon.

Terwyl ons so deur die ruïnes stap, herinner dit ons aan die gedig oor verganklikheid wat ons in matriek geleer het, Shelly se “Ozymandios”.

“I met a traveller from an antique land
Who said: Two vast and trunkless legs of stone
Stand in the desert. Near them on the sand,
Half sunk, a shatter’d visage lies, whose frown
And wrinkled lip and sneer of cold command
Tell that its sculptor well those passions read
Which yet survive, stamp’d on these lifeless things,
The hand that mock’d them and the heart that fed.

And on the pedestal these words appear:
“My name is Ozymandias, king of kings:
Look on my works, ye Mighty, and despair!”
Nothing beside remains: round the decay
Of that colossal wreck, boundless and bare,
The lone and level sands stretch far away.”

Lees alle vorige berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.