Op reis deur Egipte: Thebes – Waar die konings rus

Vallei van die Konings (Foto: Thomas Dreyer)

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Egipte en Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Uiteindelik arriveer ons om 13:00 die middag ná ʼn drie uur lange treinrit vanaf Aswan op die stasie in Luxor, die hoogtepunt van ons Egiptiese ekspedisie.

Eid kom haal ons op die stasie en vat ons na Villa Lostris toe, sy en Linda se gastewoonstelle. Ons pak ons klere in die hangkaste uit en gaan verken dadelik ons omgewing. Ons stap deur die terrein van die Astich Hotel en ontmoet vir Adam by die hotel se ingang.

Adam is ʼn taxibestuurder wat gaste van die hotel rondneem in Luxor. Ons hoor dieselfde storie. Na die 2011-rewolusie het die toeristestroom amper heeltemal opgedroog. Hy wag al twee dae voor die hotel om gaste rond te neem, sonder enige sukses. Ons onderhandel ʼn prys met hom om ons na die belangrikste besienswaardighede te vat.

Op Adam se advies het ons die oggend vroeg begin, voordat die dag te warm word. Dit was Februarie, nog winter, maar die dae was ʼn lekker 26°C. Ons ry saam met hom deur Luxor, ʼn pragtige stad waar die antieke stad Thebes vroeër was.

Ons is vroeg by die Vallei van die Konings. Ons koop ons kaartjies en ry met ʼn trekker en sleepwa tot by die ingang. Die vallei is teen die hang van die Deir el-Bahariberg geleë.

Vallei van die Konings (Foto: Thomas Dreyer)

Vir 500 jaar, vanaf 2400 vC, is die konings hier begrawe. In ʼn vallei langsaan is die koninginne begrawe. Die vernames en edeles het hulle eie doodsvallei gehad. Verderaan is die werkersdorpie en die werkers se grafkelders.

Ons stap die vallei binne. Die grafkelders is genommer KV 1-63. KV staan vir “Kings Valley”. By KV 47 se ingang staan ʼn Egiptiese grafgids. Hy druk gaatjies in ons kaartjies en stap saam met ons die grafkelder van Farao Sipta binne. Dit is in 1905 deur Edward Ayrton ontdek.

ʼn Lang klipgang strek voor ons uit. Dit is uit die berg se klip gekap, reghoekig en presies, omtrent 4 meter hoog en 4 meter breed. Fluoressentligte skep ʼn pragtige atmosfeer. Die mure en plafon is beskilder met veelkleurige hiërogliewe en muurpanele. Sommiges is beskadig deur grafstropers, maar die geheelprentjie is nog duidelik en baie mooi.

Die laaste vertrek is ʼn groot vertrek van ongeveer 10 x 10 meter met ʼn hoë koepelplafon. In die middel staan ʼn enorme granietblok met ʼn deksel wat op houtbalke rus. Binne-in die granietblok het Koning Sipta se gebalsemde liggaam gelê.

Die deksel pas presies in die onderste blok, soos ʼn deksel in ʼn houer. Die gids beduie en ons voel aan die binnekant. Dit is seepglad afgewerk. Op die buitekant is die koning se naam in hiërogliewe. Dit is asof ons 2000 jaar terug in tyd is.

Van die Vallei van die Konings ry ons verder na die Tempel van Hatshepsut. Dit is imposant in vlakke teen die Deir el-Bahariberg gebou met kamers wat binne-in die berg uitgekap is. Ons stap met ʼn lang, reguit, skuins trap van vlak tot vlak.

By die tempel, soos by elke ander toeriste-aantreklikheid, is swaar gewapende polisie. In 1997 was hier ʼn grusame terreuraanval. Ses mans, vermom soos polisiebeamptes, het toeriste met vuurwapens in die bergkamers ingedwing, doodgeskiet en met pangas vermink. Altesaam 62 mense, die meeste toeriste, het gesterf. Die aanvallers het die berge ingevlug waar hulle later selfmoord gepleeg het.

Ons ry saam met Adam na die Vallei van die Werkers toe. Hier het die werkers gebly wat die grafkelders gebou en versier het en hier is hulle begrawe. Onder in die vallei is die oorblyfsels van hulle kleisteenhuisies met smal gangetjies tussen-in. Langs die dorpie is hulle tempel se oorblyfsels – vaal murasies het van die moddermure oorgebly.

Teen die kant van die berg is die werkers se begraafplaas. Hulle is begrawe in klein grafkelders wat diep in die berg gekap is met nou gangetjies en mure van kleistene. So was dit nog altyd. Diegene wat pragtige kliptempels en grafkelders vir hulle konings bou, het self in modderhuisies gebly en in moddertempels aanbid.

Ons ry terug saam met Adam. Hy laai ons by die Nyl af en ons ry met ʼn motorboot oor die Nyl. Dit is asof ons deur tyd terugkeer na die hede. Die hede wat in Luxor met sy perde- en donkiekarretjies nog steeds met een voet in ʼn verre verlede staan.

Volg al Thomas en Retha Dreyer se reise op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.