Op reis deur Europa: Akro Korinte, stad van ʼn vroeë kerk

Akro Korinte Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Ons het vir elke week ʼn begroting. Vir verblyf, vervoer en kos. Ekstra uitgawes, soos toegang tot ʼn museum, moet hieruit betaal word. Aan die einde van ons tweede week in Athene het ons ʼn ekstra €30 (R450) oor en besluit om Korinte toe te gaan – Korinte waar Paulus gepreek het en aan wie se gemeente hy sy briewe geskryf het. Met die trein kos dit €28 vir ʼn retoerkaartjie vir twee persone.

Ons het naby die Larissa-stasie gebly, maar moes nogtans hardloop om die trein te haal wat om 09:00 vertrek. Sommer oor die treinspore, beduie die mense ons, toe hulle sien ons is laat. Die trein is gemaklik en ry nogal vinnig. Dit stop by al die stasies, maar vermors nie tyd nie.

Ons ry al met die kus langs die Saroniese Golf. Dit is ʼn pragtige sonskyndag in die vroeë lente. Die see lê spieëlglad en ons ry verby hawens waar groot skepe voor anker lê. Veral olieskepe wat olie aflaai by raffinaderye.

By die Korintestasie klim ons af. Ons is so 30 minute se stap van die middedorp af. Ons stap al met die hoofstraat langs. In die verte, reg rondom ons, sien ons die pieke van bergreekse wat nog wit van die sneeu is. Ons loop tot onder in die middedorp. Daar is pragtige wandellanings met koffiewinkels waar mense sit en kuier oor ʼn fredo espresso, die baie gewilde yskoffie. Ons stap tot by die hawe.

‘n Spuitfontein begroet ons langs ʼn klein hawetjie waar ʼn klompie kleurvolle bote lê. Die water is glashelder en groenblou. In van die bote maak vissers hulle nette skoon.

Moderne Akro Korinte Foto: Thomas Dreyer

Ons stap deur die skoon strate. In die parkie sit ouerige mans en kuier. By die laerskool marsjeer kinders op die maat van marsmusiek. Oupas wag vir hulle kleinkinders se skool om uit te kom. ʼn Rustige, normale lewe.

Korinte was ʼn belangrike stad in die antieke tyd. ʼn Kanaal by Korinte het die Saroniese Golf en die Middellandse See met mekaar verbind. Korinte het die kanaal en die belangrike handelsroete beheer. Die kanaal, Isthmus, is vandag nog daar. Smal, seker so 15 meter breed, net groot genoeg om die smal skepies van destyds deur te laat.

Ons besluit om terug te stap stasie toe. ‘n Buskaartjie kos €2 elk en dit is buite ons begroting. Dit is bult-op en, vir die grap, gooi ons duim. Niemand laai ons op nie en ons stap maar aan. ‘n Entjie verder hou ʼn swart Mercedes langs ons stil. “Waarheen gaan julle?”, vra die man in Engels. Hy bied aan om ons ʼn geleentheid stasie toe te gee.

Op pad raak ons aan die gesels. “Was julle by antieke Korinte?”, vra hy, en bied aan om ons soontoe te vat, want hy bly daar, in “Akro Korinte”. Ons ry saam met Evangelo en sy twee seuns wat hy by die skool gaan haal het. Hy laai ons af by die ingang na die ruïnes van die antieke Korinte.

Hier is ruïnes van die antieke Korinte en oorblyfsels van ‘n tempel van Dionisus. ‘n Mens kan ‘n goeie idee vorm van die dorpie met sy huise en markte en teater. Hier het die vroeë Christene gebly wat, deur Paulus se briewe, tot vandag toe ‘n groot invloed op die Christelike kerk uitoefen.

Ná ons besoek aan antieke Korinte moet ons plan maak om terug te kom by die stasie, sowat 10 km ver. Ons stap tot by die busstop en besluit om maar die €2 per persoon kaartjie te betaal. Ons ry langs die pragtige Middellandse See af met sneeuwit bergpieke aan die oorkant. Die busterminus is… nie die stasie nie, maar die middedorp langs die skool!

Toe is dit maar weer voetslaan stasie toe. Bult-op en niemand laai ons op toe ons weer probeer duimry nie. Ver gestap en voetseer, maar ʼn dag met onvergeetlike avonture in Akro Korinte.

Lees alle vorige berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.