Op reis deur Europa: Athene – die Akropolis

Die Akropelis, Athene (Foto: Thomas Dreyer)

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Die Akropolis is nie die hoogste berg in Athene nie, tog domineer dit die hele stad. Jy kan dit ook nie van orals af sien nie, maar die oomblik as jy dit tussen die stadsgeboue deur in die oog kry, is dit asof die wêreld vir ‘n oomblik stilstaan en jy net moet asem skep – so indrukwekkend is die gesig.

Akropolis beteken “Ou of Antieke Stad”. Die Akropolis is die berg waarop die Parthenon, die tempel van Athena Nike en die Erechtheion gebou is. Aan die noordekant is die Agora, die ou markplein, en aan die westekant Klassieke Athene waar regspleging op die regsplein plaasgevind het.

Die Akropolis was die hart van antieke Athene. Hier het mense saamgekom vir musiek en teateropvoerings. Die Herodus-teater van 161 nC huisves 5 000 mense en word nog steeds vir konserte gebruik. Dink net om Pavarotti en Maria Callas daar te kon hoor optree! Onvergeetlik!

Die Parthenon verstom argitekte nog steeds. Dit is gebou sonder enige reguit lyn. Die lyne is almal geboë, ook dié van die pilare wat boonop na bo inkurwe en skuins binne-toe lê. Die effek is ‘n dinamiese konstruksie wat lewe gee aan die geel-wit marmer.

Aan die noordweste kant is ‘n rotskoppie, die Areopagus. Hier het Paulus sy bekende sendingpreek gelewer: “Atheners, ek sien dat julle baie godsdienstig is…” Hier is heeldag mense wat hulle verlustig aan die uitsig oor die stad en op die Parthenon. Saans sit geliefde paartjies hier om die verligte Akropolis en Athene se liggies te bewonder.

Vandag nog is die Atheners baie godsdienstig. Die hele stad is vol Grieks-Ortodokse kerke, groot en klein, meesal gebou met pienk en wit bakstene en rooi teëldakke, baie op dieselfde patroon.

Athene (Foto: Thomas Dreyer)

Mense stap enige tyd van die dag die kerke in om ikone, skilderye en oorblyfsels van heiliges uit die geskiedenis van die kerk te gaan soen. Hulle maak kruistekens, steek kerse aan en gaan dan weer aan met hulle alledaagse lewe, baie met gebedskrale in die hand.

Aan die oostekant van die Akropolis is die Anafiotika, pragtige klein wit huisies met smal gangetjies. Dit was werkershuisies wat Koning Otto I in 1841 laat bou het.

Suid van die Akropolis is die moderne Akropolis-museum. Hierdie museum huisves ‘n simboliese replika van die Parthenon. Staalpilare wat die marmerpilare van die Parthenon uitbeeld en friese (party oorspronklik, ander weer nagemaak) wat reghoekig geplaas is soos dit oorspronklik rondom die bokant van die Parthenon was.

Die Akropolis het ‘n tragiese geskiedenis. Dit dateer vanaf 447 vC. Met die koms van die Christendom, en later die Islam, is die beelde geskend en die geboue eers as kerke en later as moskees gebruik.

Die Ottomans het die Parthenon as ʼn opslagplek vir ammunisie gebruik. Op 26 September 1687 het ‘n Venesiese bombardement die ammunisie laat ontplof en ‘n groot deel van die tempel vernietig.

Van 1800 tot 1803 het Lord Elgin die Parthenon geplunder en van die beelde en friese Londen toe verskeep waar hy dit in 1816 aan die Britse Museum verkoop het. Daar is dit nog steeds, tot groot ontevredenheid van baie Grieke.

Vandag is die Akropolis nog net so die middelpunt van moderne Atheners se lewe soos in die antieke tyd. Jy kan reg rondom stap, aan die suidekant op ‘n marmerpad langs pragtige villas, of op paadjies tussen olyfbome deur. Hier is altyd mense wat stap, draf of sommer net in die son sit en na die straatmusikante luister.

Athene (Foto: Thomas Dreyer)

Aan die ander drie kante is straatstalletjies, ‘n permanente vlooimark en besige koffiewinkels en restaurante. Soos in die antieke tyd is dit nog steeds die “agora”, die markplein.

Vanaf die Akropolis stap jy maklik deur pragtige straatjies tot by Monsterakiplein waar mense saamdrom om sommer net in die son te sit, freddo espresso’s te drink en souvlaki’s te eet. Dit is die groot kuierplek.

Oor jou koppe koffie sien jy die Akropolis en Parthenon in die agtergrond. Jy kyk daarna, amper met ‘n mengsel van eerbied en deernis. Die wit-geel marmer van die pilare en ruïnes vertel van die glorie van ‘n tyd lank gelede en die verweer en die vernietiging deur mense oor tyd heen.

Solank ons in Athene was, het ons probeer om elke dag die Akropolis te sien. Dit was soos om kultureel asem te haal.

Lees alle berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

John ·

Geniet maar terwyl ons kan. IS gaan dit een van die mooi dae verander in WAS-geweeste-geskiedenis…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.