Op reis deur Europa: Bernini, kunstenaar van pouse

Die Spaanse trappe (Foto: Thomas Dreyer)

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Ons ontmoet Bernini in Napels, sy geboortestad. Terwyl ons eendag in ‘n systraat van Napels loop, kom ons op ‘n kleinerige plein af met ‘n standbeeld. ‘n Man sit eenkant en maak sketse van die standbeeld. Onderaan die standbeeld staan “Bernini” en die plein se naam is “Piazza Bernini”. Ons neem foto’s en stap aan.

In Rome loop ons hom toe weer raak. Sommer oral in die stad. En ons leer hom ken. By die indrukwekkende “Vier Riviere Fontein” op die Piazza Navona. By die “Paddafontein” in die ou Joodse ghetto. By die St Petruskatedraal en plein. By die Spaanse trappe.

Giovanni Bernini is gebore op 7 Desember 1598 in Napels. Sy pa, Pietro, was self ‘n erkende beeldhouer en het vroeg Giovanni se talent raakgesien. Op agtjarige leeftyd het sy pa hom aan pous Paulus V gaan voorstel en hy het in Rome agtergebly.

Hy was ‘n tydgenoot van Michelangelo, Raphael en Leonardo da Vinci. En tog, as jong kunstenaar, het hy meer nagelaat as enigeen van hulle. Wat Shakespeare vir die skryfkuns was, was Bernini vir beeldhouwerk, het ‘n kunskenner van hom gesê.

Ons gaan soek sy werk op: op die Navonaplein, wat elke dag vol toeriste is, is sy “Vier Riviere Fontein” – ʼn reusefontein in die middel van die plein wat vier groot wêreldriviere uitbeeld. De Danube in Europe, die Nyl in Afrika, die Danges in Indië en die Amazone in Peru word deur vier groot mansfigure uitgebeeld met marmerpalms en diere tussen-in. Die water spuit en stroom in alle rigtings.

By die gewilde Spaanse trappe wat Romeine en toeriste elke dag vol sit, is ‘n marmerfontein in die vorm van ‘n boot. Dit is spesiaal laag gebou omdat die natuurlike waterdruk daar laag is. Water stroom uit en oor die boot se kante. Met komplimente van Giovanni Bernini en sy pa Pietro.

Standbeeld in Napels (Foto: Thomas Dreyer)

In die Borghese museum is sy “Dawid”-beeld waar Dawid besig is om sy slingervel te gooi – al die aksie en konsentrasie vasgevang in gladde spierwit marmer. Dit teenoor Michelangelo se Dawidbeeld wat doodstil nadenkend staan.

Seker sy grootste werk is by die St Petruskerk en -plein. Binne het hy ‘n massiewe afdak oor die graf van Petrus gebou met vier pilare van bronsspirale 30 meter hoog. Van die vier yslike marmerbeelde waar die basilika ‘n kruis vorm, het hyself die St Longinusbeeld gemaak.

Die bekende St Petrusplein voor die basilika is sy ontwerp – 480 reusagtige marmerpilare in ‘n halfmaan rondom die plein met 156 groter as lewensgrootte beelde van heiliges bo-op. Teen ‘n helling, sodat die mense aan die buitekant net so goed kan sien as die aan die binnekant.

In die Santa Maria del Vittoria is sy beeld “Die Ekstase van Theresa”, een van sy eerste en beste beelde wat die geestelike ervaring van Theresa van Spanje uitbeeld. Dit is in die kapel – self ‘n kunswerk – vir die Canaro-familie.

Dan is daar nog die magdom borsbeelde vir koninklikes en kerklikes. Marmergrafte vir pouse en kardinale. Te veel om op te noem…

Een dag besluit ons om op die antieke Via Appia te gaan stap, die pad wat in 350 nC gebou is om Rome met suid Italië te verbind. Langs die pad is die St Sebastiaankerkie en ons stap in. Sonder dat ons dit verwag, kom ons af op sy laaste werk, ‘n borsbeeld van Christus wat met sy regterhand sy seën uitstrek. Dit het hy gedoen in 1678, twee jaar voor sy dood.

In die indrukwekkende Basilica di Santa Maria Maggiore, wat eintlik die Rooms Katolieke Kerk se “hoofkatedraal” is, stap ons in. Twaalf voet hoë beelde van die 12 apostels versier die binnekant van die reuse basilika. Hier is Bernini begrawe.

Ons stap die kerk deur van hoek tot kant. Orals, soos in al die Roomse kerke, is grafte van heiliges met imposante beelde. Maar nêrens Bernini se graf nie.

Ek vra by een van die toesighouers. Reg voor in die regterkantse gang beduie hy. “Kyk op die vloer.” Ons stap weer deur die groot kerk. Reg voor aan die regterkant, is ‘n marmerteël met die naam “Giovanni Bernini”.

Ek staan verwonderd. Die man wat soveel gedoen het in Rome en vir die Roomse Kerk, soveel beelde gemaak en grafkelders ontwerp en versier het, is hier begrawe. Net ‘n klein 40×30 cm marmerteël met sy naam op, versier sy graf.

Soos met die tempelbouers in Egipte, so is dit ook hier in Rome. Dié wat vir konings paleise en beelde bou, is maar self net ‘n werker sonder roem of eer.

Met erkenning aan Wikipedia

Lees alle vorige rubrieke oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae