Op reis deur Europa: Bloed in die Seine

Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, het (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa gereis. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Sint Bartholomeusnag 24 Augustus 1572

Ek dra hierdie artikel op aan die nageslag van die Franse Hugenote (Protestante) wat na Suid-Afrika gevlug het tydens die uitwissing van die Hugenote in die 16de en 17de eeu in Frankryk. Die De Villiers’s, Viljoens, Moutons, Marais’s, De Klerks, Blignauts, Cronjes, Buyse, Bruwers, Aucamps, Cilliers’s, Visagies …

Ons ontmoet Martin de Lange en sy gesin in die Orsay-museum. Hulle hoor ons praat Afrikaans, kom groet dadelik en ons raak aan die gesels.

Martin en Petro is sendelinge wat vir 14 jaar in Turkye onder die Turkse Moslems gewerk het. Hulle is later gedeporteer en werk nou al vir vyf jaar onder die Turke in Parys saam met Operasie Mobilisasie.

Martin vertel ons van ds. Johan Bloemhof van die Franse Sending wat ‘n toer in Parys aanbied oor die Franse Hugenote. Ons reël met ds. Johan om die eerste Donderdag saam met hom op sy toer te gaan.

Dit is koud en reënerig dié Donderdag in die vroeë Augustus terwyl ons vir ds. Johan wag tussen die reusepilare op die stoep van die Pantheon regs langs die Parys-Sorbonne Universiteit. Toe die weer bietjie opklaar, stap ons saam met hom tot by Johannes Calvyn se studentehuis in Rue Valette 21. Hier het Calvyn, wat as Katoliek groot geword het, die Bybel begin lees toe hy gehoor het van Martin Luther se stryd met die Katolieke kerk. Dáár het hy tot die insig gekom dat Luther reg is en die kerk verkeerd.

Foto: Thomas Dreyer

Ons stap verder tot by Rue Jean de Beauvais 27. Daar is nie veel te sien nie, maar dit was die plek waar die eerste Nuwe Testamente in Frans gedruk is en (onwettig) landwyd versprei is. Tot so onlangs as 1960 was die Bybel ‘n verbode boek vir Katolieke.

‘n Entjie verder kom ons op ‘n klein parkie af met ‘n mooi fonteintjie, Place De Maubert. Hier het die Katolieke duisende Protestante doodgemaak en verbrand. “Kyk daar oorkant,” sê ds. Johan, en wys vir ons ‘n vierverdiepinggebou. “Dáár het hulle die lyke oor die balkonne gehang. Hier is duisende mense doodgemaak.”

Ons stap deur nog ‘n mooi parkie met ‘n bronsfontein van Rodin tot by die Notre Dame. Hier wag mense in lang rye om in die katedraal te gaan. Op 18 Augustus 1572 het prins Hendrik van Navarre hier getrou met Marguerita de Medici. Omdat hy ‘n Protestant was, moes buite die katedraal wag tydens die huweliksluiting.

Vier dae later word die Hugenoteleier, Caspar d’Coligny, in ‘n sluipmoordaanval in Parys gewond. Die koning, Karel IX, onder invloed van sy ma, Catharina de Medici, beveel die soldate om die ander Hugenoteleiers ook om die lewe te bring.

Dit steek die hele Parys aan die brand. D’Coligny word vermoor, by die venster uitgegooi en in die strate vermink. Parysenaars gaan op ‘n heksejag en vermoor duisende Hugenote. Hulle gooi die lyke in die Seinerivier waar dit rivier af dryf en opdam by ‘n draai in die Seine waar die Eiffeltoring vandag is. Later is dit in ‘n massagraf begrawe langs die Eiffeltoring. Tot vandag toe is dié stuk grond onbeboud.

Vanaf Parys het die vervolging van Protestante deur Frankryk versprei. Tussen 10 000 en 30 000 mense is vermoor.

Karel IX, wat maar 22 jaar oud was toe hy die bevel gegee het om die Hugenote te vermoor, sterf twee jaar later in die Chateau de Vincennes by Parys met gewetenswroeging wat hom laat uitroep: “Watter bloedvergieting! Watter moorde! God, vergewe my! Ek is verlore! Ek is verlore!”

Ons stap verby die Hotel de Ville, die kantore van die burgemeester van Parys. Dit is ‘n pragtige gebou wat deur Koning Hendrik IV gebou is. Op die plein voor die gebou sit Parysenaars in oranje dekstoele in die son. Op dié plein, beduie ds. Johan, is duisende Hugenote in die tyd van koning Lodewyk XIV deur die guillotine van dr. Guillotine onthoof.

‘n Entjie verder draai ons af in ‘n smal straatjie. Op die grond is ‘n diamantvormige gedenksteen. Hier is koning Hendrik IV vermoor nadat hy 12 jaar lank koning was. Dit het die vervolging van Protestante in Frankryk opnuut laat opvlam.

Ná sy dood het sy seun Koning Louis XIII (en sy eerste minister kardinaal Richelieu), en ná hulle Lodewyk XIV, sy kleinseun, die Protestante heeltemal probeer uitroei. Die land is deurkruis en al wat ‘n Protestant is doodgemaak of gedwing om die Katolieke geloof aan te neem.

Net ‘n paar duisend Hugenote het oorleef en hulle nageslag is vandag deel van die Franse Protestantse Kerk wat ‘n fraksie is van die groot ateïstiese Franse bevolking. Die Hugenote het geen ander keuse gehad as om te vlug nie. Hulle het na Switserland, Engeland, Holland, Amerika en Suid Afrika (Kaap van Goeie Hoop) toe gevlug.

Dink maar aan die Du Toits, Le Roux’s, Coetzees, Du Plessis’s, Fouches, Jouberts, Fouries, Jordaans, Malans, Malherbes, Marais’s, Nelle, Nortjes, Pienaars, Rossouws, Retiefs, Rouxs, Therons, Nortjes, Labuschagnes, Lombards, Hugo’s, Nortiers, Meyers, Minnaars, Maartens’e, Terblanches…

Kontak Martin de Lange by www.martindelange.org
Kontak ds. Johan Bloemhof [email protected]

Lees alle vorige berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Deon ·

Vandag is ek baie spyt dat ons voorvaders na die Kaap van Goeie Hoop gekom het en nie eerder na een van die ander plekke nie…….! Hoekom? hoekom!

Andre ·

Deon niemand kon hulle waarsku omdat hulle nog nie internet of Whatsapp gehad het nie, maar Afrika was toe al wireless. Maar die moorde deur die Katolieke was verskriklik en ondenkbaar.

Eish ·

Baie dankie vir dié stukkie bloeddorstige geskiedenis. Die getalle vermoordes is eenvoudig verstommend! Seker maar die gevolg van die vermenging van politiek en die priesterdom. Ek dink tog, indien ek na Luther se stellings kyk, dat die wortel van die kwaad geld en mag was. Vandaar die staat/regeerders se kop in een mus met die Katolieke.

Ek wonder of die klomp katolieke ooit gebieg het oor die moorde? Luther was self in Duitsland kop in een mus met die prinse wat hom beskerm het en derduisende boere vermoor het. Hy het n paar ernstige skuurmerkies in sy lewe wat gewoonlik verbloem word onder heldeverering.

Hartseer geskiedenis wat n mens sekerlik ruk indien jy die plekke besoek waar die vergrype plaasgevind het.

Vraesteller ·

‘n Enkeling se dood is ‘n tragedie, miljoene se dood is statistiek -Stalin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.