Op reis deur Europa: Caravaggio, die taverne-skilder

Caravaggio (Foto: Thomas Dreyer)

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Dit was in een van Napels se metrostasies dat ek vir die eerste keer kennis maak met die naam “Caravaggio”. By die huis gaan “Google” ek dit en my belangstelling is dadelik geprikkel.

Michelangelo (vert. “Die engel Michael”) Merisi van Caravaggio is op 29 September 1571 naby Milaan gebore. Hy begin sy kunsopleiding in Milaan in 1584, maar vlug in 1592 Rome toe ná ‘n bakleiery met ‘n polisieman.

In Rome word hy gou ‘n gewilde skilder en lewer ‘n aantal baie bekende werke. Caravaggio was lief om met ‘n swaard aan sy sy, sy tyd in tavernes deur te bring. Hy was ook berug vir sy buie en aggressie. Na ‘n swaardgeveg word hy in 1606 aan moord skuldig bevind en hy vlug Napels toe.

In Napels word hy weereens gou bekend en in 1607 in Malta selfs tot ridder geslaan. Maar, na nóg ‘n bakleiery, vlug hy Sicilië toe en word van die ridderrol geskrap.

In 1609 keer hy terug Napels toe waar sy gesig geskend word in ‘n waarskynlike wraakaanval op sy lewe. Hy vlug verder en, terwyl hy wag op ‘n kwytskelding van sy moordvonnis van die Pous in Rome, sterf hy in onbekende omstandighede in ‘n Toskaanse dorpie in 1610 en hy word in ‘n graf vir armlastiges begrawe.

Sy werke het ‘n opskudding veroorsaak. Dit was soos sy lewe – kru realisties en skokkend, anders as die “mooi” aanvaarbare kuns van sy tyd. Sy tegniek om ligkontraste te gebruik om dramatiese effek te skep het ‘n groot invloed uitgeoefen op sy tydgenote en latere kunstenaars, onder andere ook meesters soos Rubens, Bernini, Vermeer en Rembrandt.

Caravaggio (Foto: Thomas Dreyer)

Só realisties was sy kuns dat ‘n professor in landbou eeue later die kultivar van die vrugte en die fungi op die vyeblare in een van sy eerste werke (“Mandjie met vrugte” – 1595) kon identifiseer!

In sy skilderye met godsdienstige uitbeeldings het hy, anders as die gebruik van sy tyd, die gewone “taverne-mense” as modelle gebruik, met gewone klere en vuil, gebarste voete en hulle as apostels en heiliges uitgebeeld.

In Rome maak ons dit ons doel om soveel moontlik van sy werke te sien wat binne ons begroting pas. Ons eerste besoek is aan die “Kerk van St Louis van Frankryk”. Hier hang die Mattheus trilogie – die werke waarmee Caravaggio naam gemaak het in 1601 Rome.

Die roeping, inspirasie en marteling van Mattheus word hier uitgebeeld in drie groot werke. Tipies is die agtergrond donker en val die skerp lig en lyne op dit wat beklemtoon word. Die uitbeeldings is kru realisties.

In die katedraal van St Maria del Popolo kry ons die “Kruisiging van Petrus” en die “Bekering op pad na Damaskus”. Helder kleure met sterk donker en lig afwisseling maak daarvan dramatiese, amper driedimensionele werke. Petrus onderstebo aan die kruis met vuil voete in die lug en Paulus verblind, plat op sy rug met sy arms omhoog.

Die vuil voete van die pelgrims wat by Maria aandoen val jou dadelik op in sy werk “Madonna en die pelgrims”. Maria staan kaalvoet met die baba Jesus wat groter is as sy ouderdom. Weereens, gewone mense, anders as die ideale mense wat in die skilderye vóór Caravaggio voorgekom het. Dié werk sien ons in die Kerk van St Augustinus.

In die Vatikaanse Museums is die “Begrafnis van Christus” met sy ma Maria, Maria Magdalena, die ander Maria, Johannes en Nikodemus wat Jesus se liggaam in die graf neerlê. Die fokus van die beligting en van Johannes en sy ma is op die wond in sy bors en daarvan verder af met sy arm wat afhang op die klipvloer na die wond in sy hand.

Vandag besoek mense van oor die wêreld heen sy werke te wat, behalwe in kerke, in van die vooraanstaande museums in die wêreld hang. Die kunskenner Bernard Berenson sê van Caravaggio: “With the exception of Michelangelo, no other Italian painter exercised so great an influence.”

En hierdie ekskursie het alles begin by ‘n plakkaat in ‘n metrostasie in Napels!

Erkenning: Wikipedia

Lees alle vorige berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Besonderse talent! Dankie vir die deel. Europa bly maar n onuitputlike bron van kultuurskatte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.