Op reis deur Europa: Die blou rugsak

Retha en die blou rugsak Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Dit het al die Maandagoggend in Pretoria begin toe ons vyfuur moes opstaan om ons elfuur vlug van Oliver Thambo na Jedda in Saudi Arabië te haal. Ons land om vyfuur die middag in Jedda in 35°C en maak ons so gemaklik moontlik in die sitkamer vir aansluitingsvlugte.

Ná ʼn komplimentêre gekruide hoender-en-rys aandete begin die gewag vir ons aansluitingsvlug die volgende oggend om 02:30. Ons sit, lê, slaap en kuier met Lilianne, ‘n Franse vrou op pad huis toe van haar man wat in Maleisië werk.

Dit was môre en aand, die eerste dag.

Twaalfuur skuif hulle ons na die vertreksaal waar ons tussen Moslem-pelgrims op harde banke sit, lê, probeer slaap. Uiteindelik word ons vlug in Arabies aangekondig. Retha, wat vas aan die slaap op my skoot was, sit onmiddellik regop.

Die Airbus 220 na Milaan het net 15 passasiers aan boord en ons het elkeen drie sitplekke om op te slaap. Net om ʼn halfuur later wakker gemaak te word vir … gekruide hoender en rys!

Om seweuur die oggend land ons op Milan-Malpensa. Teen dié tyd is dit net adrenalien wat ons aan die gang hou. Ons haal die bus in stad toe (ʼn uur se ry in spitsverkeer) en die metro na die Piazza del Duomo waar die Milaan-katedraal is. Pragtig, indrukwekkend. Ons het net 30 minute om die oomblik in te neem en toe moet ons met die metro terug tot by Lampugnano.

Hier haal ons om twaalfuur die Flixbus na Lyon. Ons kry sitplekke heel voor sodat ons mooi kan sien. Ons ry deur Turyn en begin ʼn herinneringstog van dit wat ons vier jaar gelede saam met ons kinders beleef het.

Vanaf Turyn ry ons die Alpe binne. Die pieke van die Alpe is wit met sneeu. Ons ry deur verskeie tonnels totdat ons onder Mont Blanc deur ry tot in Frankryk. Sekuriteit is strenger as vier jaar gelede en die Franse polisie stop die bus twee keer om paspoorte na te gaan.

Aan die Franse kant van die Alpe sous dit. Soms is die uitsig swak, maar soos ons verder ry, klaar die weer heeltemal op. Die landskap is lowergroen. ‘n Klompie wit wolke dryf in die blou lug. Die Europese somer is om die draai.

In Lyon klim ons af by Gare Part Dieu. Dit is 19:30 die aand. Ons adrenalien is opgebruik. Ek stap heen en weer vir ‘n simkaart om ons gashere op te spoor. En uit te vind oor die bus/metro/tremkaartjies, watter trem ons moet vat, tot waar en in watter rigting.

Foto: Thomas Dreyer

Eindelik om 20:30 is ons op die trem met ons twee tassies en blou rugsak. Ons is honger en die winkels is al toe. By een van die tremhaltes sien ek ‘n McDonald’s en ons klim dadelik af. By die outomatiese bestellingsportaal bestel ons twee klein kaasburgers, ‘n pakkie skyfies en twee koeldranke vir R180.

Dit is nadat ons geëet het, dat ek agterkom ons blou rugsak is weg. Ek het dit op die trem vergeet toe ons so vinnig afgeklim het. Met ons iPad, tweede iPhone, ID-dokumente en bestuurslisensies.

Dit is 21.30 die tweede dag.

Ons oë staan nou al stokstyf. Ons vra ʼn Franse meisie op die trem wat ons moet doen. Sy bel die beheerkantoor … sonder enige sukses. Twee ander jong Franse help ons verder. Hulle vra die tremdrywer by die Universiteit Lyon-tremhalte en hy beduie ons moet by die tremhalte die interkom gebruik om navraag te doen.

Ons klim af en druk die interkom se knoppie. Die persoon aan die anderkant antwoord met: “Is this Mr Thomas? We have a bag for you!”

Ons ry met die eerste trem terug Part Dieu-stasie toe. Skaars opgeklim, hoor ons oor die luidspreker helder en duidelik: “Mr Thomas! Mr Thomas!” Ek kyk verbaas rond.

Die trem stop en die drywer kom uit haar drywershokkie, ‘n groot vrou met ‘n lang bos gekrulde en verbleikte hare. Ons moet saamry tot by Part Dieu-stasie, beduie sy. Daar wag ‘n man met ons rugsak.

By Part Dieu staan mnr. Senzel met ons blou rugsak. Hy werk by die tremkantoor waar iemand ons rugsak ingegee het en hy het dit spesiaal vir ons gebring. Ek gee hom sommer ‘n druk en sê in my beste Frans: “Merci beaucoup!”

Om tienuur daag ons uiteindelik by ons verblyf op waar ons ʼn woonstel by die kampus deel met twee jong doktorsgraadstudente en ‘n mediese student. En ons vertroue in die (Franse) mensdom met rasse skredes herstel.

Dit was môre en aand, die tweede dag.

Lees alle vorige berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

A ·

Die is n rukkie terug. Ek is in Duitsland. Dit word nou winter. Dit is koud en nat en vogtig. En mislik. Die Suid-Afrikaanse weer en mense is baie beter.

Jane ·

Die storie het ek nou vreeslik geniet!! Voel of ek saam die blou rugsak verloor en weer gevind het! Dankie.

Hestie ·

Baie mooi geskryf!
Ek is so bly julle het die rugsak gekry…

bgj van der westhuizen ·

wel as dit gebeur het in suid afrika sal jy dit nooit trug geky het

HANS ·

In 2000 reis ek en my vrou vanaf Vancouver in Kanada per trein na die Whistler ski-oord. Ons moes n taxi vanaf ons hotel na die treinstasie neem. Oppad het dit gereen, maar toe ons by die stasie aankom het dit opgedroog. Die resultaat was dat ons die twee sambrele in die taxi vergeet het en dit eers met die uitpak in Whistler agterkom. Ons skakel die taxi-onderneming, verskaf die taxi se nommer en vertel wat gebeur het. Toe ons enkele dae later weer by ons hotel in Vancouver aankom wag ons sambrele vir ons by ontvangs. Dit gebeur net in n 1ste-wereldomgewing

Tgj ·

Ek en my vriendin gaan vir langnaweek na Ierland. Ons toerbus is in ongeluk – ons moet trein haal om betyds vir ons boot terug Engeland toe te wees. Stop die 1ste taxi om ons stasie toe te vat – die trein moet amper vertrek en ons spring holderste bolder uit taxi en nael vir die trein. Kom in trein agter my vriendin se kamera het in taxi agtergebly! Al haar vakansiefoto’s is daarop. Ons bel vanaf trein en kry taxi se naam. Hulle kry kamera in taxi en stuur dit volgende dag met geleentheid na ander toerlede wat nog dag langer in Ierland sou wees. Ons kry haar kamera paar dae later in Engeland by die toerlede! Ons was so seker die kamera sou ons nooit weer sien nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.