Op reis deur Europa: Die burgers van Calais

Die burgers van Calais Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, het (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa gereis. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

My eerste kennismaking met “Die burgers van Calais” was in die Rodin-museum in die Rue de Varenne in Parys. Jy stap deur die museum en wanneer jy in die tuin kom, staan ses aangrypende mansfigure, effens groter as normaal, skielik reg voor jou.

In Lille in die Palais de Beaux Arte loop ek hulle weer raak. Hierdie keer ses klein losstaande beeldjies. Ek staan weereens stil. Dit bly net iets wat jou aangryp.

Calais is ‘n hawestad aan die noordkus van Frankryk, die naaste aan Engeland, 34 km vanaf Dover. Deur die eeue het die Engelse en Franse gereeld oor die stad baklei.

So gebeur dit dat koning Edward III van Engeland Calais in 1347 annekseer. Die Franse koning, Philip VI, beveel die inwoners van Calais om die Engelse ten alle koste teen te staan.

Koning Edward se troepe beleër Calais en vir 11 maande hou die inwoners uit. Hongersnood dwing hulle egter om oor te gee. Die koning was so kwaad vir die Franse dat hy almal voor die voet wou doodmaak.

Hy stem egter in om die stad te spaar as ses vrywilligers, kaalvoet en met stroppe om hulle nekke, hulle aan hom sou oorgee om namens die inwoners te sterf.

So bring dit Eustache de Saint-Pierre, die rykste man in Calais, en sy vriende in die prentjie. Hulle bespreek die situasie en hy neem die leiding.

Gentlemen, it would be a great shame to allow so many people to starve to death, if there were any way in preventing it…I have such faith and trust in gaining pardon and grace from our Lord if I die in the attempt, that I will put myself forward as the first. I will willingly go out in my shirt, bareheaded and barefoot, with a halter round my neck and put myself at the mercy of the King of England.”

En so volg die een ryk en vername persoon na die ander … Jean d’Aire, Jacques de Wiessant en sy broer Pierre, Jean de Fiennes en Andrieu d’Andres.

Maer, as gevolg van die hongersnood, en in vodde geklee, met stroppe om hulle nekke en kaalvoet, gee hulle hulle oor aan die Engelse.

Intussen het die koning se swanger vrou, Phillipa, by hom gepleit om hulle lewens ter wille van haar ongebore baba te spaar. Weereens gee die koning bes en word die ses burgers se lewens gespaar. Die koning verdryf egter die Franse uit Calais en vestig Engelse in die stad.

In 1893 gee die stadraad van Calais Rodin opdrag om ‘n beeld te maak van die burgers van Calais.

Hy maak van elkeen ‘n aparte beeld. Hy maak hulle hande en voete groter as normaal. Hulle verskillende houdinge en gesigsuitdrukkings vertel elkeen se eie verhaal. Hulle staan los van mekaar soos elkeen worstel met sy eie besluit. Op dieselfde vlak, almal omtrent ewe groot.

Soos Rodin dit self stel: “They are still questioning themselves to know if they have the strength to accomplish the supreme sacrifice – their soul pushes them onward, but their feet refuse to walk. They drag themselves along painfully, as much because of the feebleness to which the famine has reduced them as because of the terrifying nature of the sacrifice …

Ontmoet Eustache … die ouer man, geboë en diep nadenkend. Andrieu, met sy kop in sy hande – “Wat het my besiel?” Jean oopmond en met sy arms uitgestrek – “Is daar nie ‘n ander manier nie?” En die broers Jacque – gelate? en Pierre met sy hand omhoog – “Ons het seker nie ‘n keuse nie?”

Volgens Franse wetgewing is slegs 12 kopieë van “Die burgers van Calais” gemaak. Een is op die stadsplein in Calais, een in die Rodin-museum en een voor die Westminster-parlementsgebou in Engeland. Net om die Engelse te herinner …

Lees alle vorige berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.