Op reis deur Europa: Die oorblyfsels

Temple Protestant Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, het (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa gereis. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Ons is op pad na Beffroi de Lille, die bekende 104 m hoë toring in Lille. Dit staan regs langs die munisipale kantore by die ewe bekende Porte de Paris, ‘n laat 17de eeuse poort in die antieke stadsmuur van Lille.

Op pad daarheen loop ons by ʼn klein parkie verby met ‘n standbeeld daarin. Ons stap nie sommer verby ‘n standbeeld sonder om eers te kyk wie dit is nie. Die standbeeld lyk presies soos een van die ou boerekrygers op kerkplein in Pretoria.

Agter die parkie sien ons ‘n kerkgebou en kan ons die versoeking nie weerstaan nie. So kom ons af op die Temple Protestant. Ons hoor die orrel speel, maar die deure is gesluit, so ook die hek aan die agterkant. ‘n Plakkaat op die voordeur sê: “2017 – Protes vir God. Protes vir die mens.”

Op die voordeur is die predikant se naam en telefoonnommer. Jan Roetman. Ons voel sommer aan hier is iemand met wie ons Afrikaans kan praat. Ek bel vir Jan.

Hy antwoord vriendelik in Frans. Ek begin sommer in Afrikaans en verduidelik vir hom dat ons graag met iemand wil gesels oor die Protestante in Frankryk. Hy verstaan my Afrikaans en antwoord in Nederlands en ons maak ‘n afspraak vir die volgende oggend om 11:30.

Die volgende oggend wag ons voor die kerk. Jan Roetman kom op sy fiets daar aan en ons groet die vriendelike Nederlander wat ‘n Franse predikant geword het.

Hy sluit die kerkgebou oop. Binne is dit asof ons skielik terug is in enige (ouer) gereformeerde kerkgebou Suid-Afrika. Die preekstoel van hout voor in die middel. Die psalm- en gesangeborde weerskante van die preekstoel. Die ou bruin houtbanke wat in rye staan. Die galerye weerskante en agter die orrel. Sitplek vir 800 mense. Met die tipies muwwe reuk.

Jan verduidelik dat die kerkgebou tussen 1869 en 1873 gebou is. Die gemeente is gestig deur Protestante wat uit Alsace na Lille toe gevlug het tydens die Frans-Pruisiese oorlog.

Ek vra vir Jan uit oor die gemeente. “So 400 adresse,” antwoord hy, “met so 100 mense wat Sondae se eredienste bywoon.” Maar dit wissel ook maar, verduidelik hy.

Daar is die klein kerngroepie, dan die groter groep wat minder gereeld kom, en dan besoekers wat onverwags hulle opwagting maak.

“Daar is katolieke wat ons besoek,” antwoord Jan op een van my vrae, en selfs dié wat lidmate word. Die tradisie dat kinders in hulle ouers se voetspore volg en lidmate word, bestaan nie meer nie. Die gemeenskap in Frankryk is kerkloos en die kerke, selfs die Katolieke, is in die minderheid.

Jan self is al 25 jaar predikant in Frankryk. Hy het in Utrecht grootgeword en ná sy studies as Hervormde predikant Frankryk toe verhuis omdat daar ‘n nood aan predikante was onder die Franse Protestantse Kerke.

En die Franse Protestante? Hulle is die nageslag van die Franse Hugenote wat die volgelinge was van die hervormers in Frankryk, onder wie Jean Calvin, Theodore Beza en William Farel.

Hierdie Franse protestante moes die massamoorde van die Bartholomeusnag (1572) asook die vervolgings deur Koning Louis IV met die Edik van Fontainbleau (1598) deurmaak. Baie van hulle het na verskillende wêrelddele gevlug, ook Suid Afrika.

Uiteindelik het Koning Louis XVI met die Edik van Versailles (1787) ‘n einde gebring aan die vervolging van die Franse Protestante.

Voor die Bartholomeusnagmoorde was hulle10% van die Franse bevolking. Vandag is hulle 1% van 67 miljoen Franse. Sedert 2013 is hulle saam met die Lutherane in Frankryk deel van die Verenigde Protestantse Kerk van Frankryk.

Jan wys vir ons die plakkaat voor op die deur. “2017 – Protes vir God. Protes vir die mens.” Dit is vanjaar 500 jaar sedert Martin Luther sy 91 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het. Hulle vier dit saam met die ander Protestantse kerke in Frankryk.

Hy nooi ons uit om Sondag se erediens by te woon en saam nagmaal te gebruik, iets wat ons baie graag sou wou doen. Maar ons vertrek alreeds die Saterdag Parys toe. Tog sal ons hierdie gemeente in ‘n oorweldigende heidense samelewing nie vergeet nie en vir hulle bly bid.

Lees alle vorige berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Eish ·

Baie dankie hieroor! Ou kerk geboue en museums is my achiellesheel. Bykans n 150 jaar oue kerk! Hoeveel siele het deur die deure beweeg om die Woord te hoor?
Tragies dat die Franse so sekulêr geraak het. Ek wonder waarmee vul mens die gat in jou lewe en of jy maar net soekend bly.
Baie dankie vir die artikel.

Robert Logger ·

@Eish Dit kom deur die lank tyd ons het vrede in Wes-Europa, na 1945 het daar nêrens oorlog gewees. In gebiede waar baie geweld is of was, soos in Afrika, Suid-Europa, die Arabiese wêreld en Amerika, is die gebedshuise, soos kerke en moskeë, amper vol.

Bees ·

Al hoe meer mense gebruik hul verstand en so sal al die kerke nog wit olifante raak.

LODEWYK ·

Eish, ek en jy moet saam deur Europa toer, daar is maar min van ons wie se harte vinniger klop by aanskoue van hierdie ou kerke en katedrale. Ek droom my lewe lank van hierdie toer, maar dit gaan seker maar net ‘n droom bly.

LODEWYK ·

O, en nou vergeet ek Eish, wat is die betekenis van achiellesheel? Wil graag weet.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.